loading
Artikels
5 dae gelede
solidariteit-in-die-vsa-hoekom-internasionale-skakeling-belangrik-is

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit in die VSA: Hoekom internasionale skakeling belangrik is

Solidariteit se Regsfonds speel ʼn deurslaggewende rol in die beskerming van ons lede se regte, en hierdie missie strek dikwels verder as ons land se grense. Dit is juis waarom ʼn afvaardiging van die Solidariteit Beweging onlangs ʼn belangrike besoek aan die Verenigde State van Amerika (VSA) gebring het. Hierdie toer was nie net ʼn diplomatieke poging nie, maar ʼn strategiese stap om internasionale bande te versterk, bewusmaking te skep en Afrikaners se saak op die wêreldverhoog te plaas.


Deur Charné Mostert

Waarom die toer?

Die afgelope paar jaar was Solidariteit toenemend betrokke by verskeie uitdagings, nie net op ʼn nasionale skaal nie, maar ook internasionaal. Kwessies soos regstellende aksie, minderheidsregte en vryheid van spraak is wêreldwyd aan die groot klok gehang. Die toer het ten doel gehad om hierdie sake op internasionale forums te bespreek, bewusmaking te kweek en internasionale netwerkvennote te betrek by die werk wat ons doen.

Die afvaardiging het verskeie vergaderings met invloedryke organisasies en meningsvormers in die VSA gehad om bewusmaking oor die situasie in Suid-Afrika te verskerp. Hierdie gesprekke met politici, akademici en burgerregtegroepe was belangrik aangesien dit die fondasie gelê het vir samewerking en toekomstige ondersteuning.

Wat beteken die toer vir die Regsfonds?

Diegene wat tot die Solidariteit Regsfonds bydra, help nie net om ons gemeenskap in Suid-Afrika te beskerm nie, maar versterk ook ons vermoë om op ʼn internasionale vlak te skakel en alliansies te bou. Die toer na die VSA het bevestig dat daar ʼn groeiende begrip vir en belangstelling in Solidariteit se stryd is, en dat ons nie alleen staan in ons pogings om ons regte te beskerm nie.

Hierdie reis het ook die belangrikheid van ons Regsfonds onderstreep: Sonder lede aan die Regsfonds se bydraes sou ons nie die vermoë gehad het om ons saak internasionaal te stel nie. Elke lid wat ʼn finansiële bydrae maak, speel ʼn direkte rol in die bou van ʼn sterker netwerk wat uiteindelik voordele vir ons hele gemeenskap inhou.

ʼn Toekoms gebou op sterk verhoudings

Die belangrikste uitkoms van hierdie toer was internasionale bewusmaking. Skielik was die wêreld se oë gerig op Suid-Afrika en geen geheime kan meer weggesteek word nie. Nie net het Solidariteit se internasionale sigbaarheid vergroot nie, maar die werk wat ons doen het ook internasionale nuus gehaal en ons stem sterker gemaak.

Die verhoudings wat nou gesmee is, sal in die toekoms ʼn kritieke rol speel in ons voortdurende stryd vir regverdigheid en gelykheid. Ons het duidelik gesien dat daar ʼn plek vir ons saak in die internasionale debat is, en dat ons vennote en ondersteuners buite Suid-Afrika het.

Solidariteit se missie bly onveranderd: Om ons mense se regte te beskerm, ons toekoms te bou en ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir almal wat hier is, te verseker. Die toer na die VSA is maar net een voorbeeld van hoe ons, met die hulp van ons lede en ondersteuners, voortgaan om hierdie visie te verwesenlik.

Dankie vir jou bydrae tot die Regsfonds. Jou betrokkenheid maak ʼn verskil – plaaslik en internasionaal.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel