
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
SAPD moet byna R700 000 aan lid opdok oor sý nie kortlys vir pos haal
Solidariteit het ʼn polisielid gehelp om byna R700 000 van die SAPD te kry nadat sy nie vir ʼn senior pos gekortlys is nie, ondanks haar honneursgraad en 20 jaar ervaring. Die KVBA het bevind dat die kortlysproses onregverdig was en kandidate met minder kwalifikasies bevoordeel is. Lees meer oor hierdie saak en die waarde van ʼn Solidariteit-lidmaatskap.
Solidariteit het nóg ʼn polisielid, wat die sterkste kandidaat vir ʼn vakante pos was en afgekeur is sodat ander kandidate met minder ervaring en kwalifikasies voorkeur kon kry, gehelp.
Kol. Vuyolethu Nkanjeni moet met byna R700 000 vergoed word nadat sy nie die kortlys gehaal het vir die pos van provinsiale hoof van mensehulpbronne in Mpumalanga nie.
Volgens Andries Herbst, ʼn litigant van Solidariteit, is Nkanjeni se honneursgraad en ervaring van meer as twee dekades as lid van die Bloemfonteinse polisie voldoende om minstens vir die brigadierspos oorweeg te word.
Herbst het haar arbitrasiesaak by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) namens Solidariteit hanteer. Gedurende die verhoor is daar uitgelig hoe Nkanjeni sedert 2016 in ʼn senior pos as afdelingshoof vir arbeidsverhoudinge, mensehulpbronnebestuur en -ontwikkeling werksaam was.
In die hoedanigheid het sy juis mensehulpbronnebestuurspligte uitgevoer en sy het selfs as provinsiale hoof van mense-ontwikkeling in die Vrystaat waargeneem.
Die polisie se getuie in die saak het uiteindelik erken dat die kortlysproses nie behoorlik gevolg is nie en die KVBA se uitspraak was dat die SAPD nie ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge opgetree het nie.
Die feit dat kandidate met mindere kwalifikasie wel die kortlys gehaal het, is spesifiek uitgewys.
Gevolglik moet die SAPD vir die onregverdigheid vergoed deur R688 435,30 aan die lid uit te betaal. Indien hulle versuim om dit te doen, sal rente ter sprake kom en dan kan die saak in die arbeidshof beland.
Hierdie is die soveelste geval oor die afgelope paar jaar waar die SAPD se onregverdige arbeidsprosesse aan die lig kom en waar dit groot geldelike vergoeding vir Solidariteit-lede inhou.
Volgens Herbst beklemtoon hierdie KVBA-bevinding ook die waarde van Solidariteit-lidmaatskap vir individuele werknemers om onregverdige praktyk van werkgewers te kan uitdaag.