
Foto Krediet: Karolina Grabowska, Pexels
Gekopieër
Familiekuiers rondom die koerant
Deur Mari Ferreira
Dit het al tradisie geword …
Ná kerk op ʼn Sondag word daar met afwagting na die plaaspad gekyk om te sien wanneer Oupa se grys Toyota die stof agter hom laat staan wanneer hy om die draai kom. Hy kom kuier amper elke Sondag op die plaas. Wanneer hy stop en uitklim, haal hy sy bril en die koerant uit en ons stap dan na die plaashuis om saam ʼn koppie koffie te geniet, want op Sondae kom ons bymekaar en spandeer ons tyd as ʼn familie saam.
In die kombuis skarrel almal oudergewoonte rond. Ons groet oor en weer en koffie en beskuit word aangegee. Dan drom ons saam om die Rapport.
Dele van die gedrukte koerant word onder ons klompie uitgedeel, want ek wil die voorblad en die hoofnuus lees, terwyl die manne saamdrom om te lees wat geskryf is oor die Springbokke se rugbywedstryd die naweek. Oom Chris neem die res van die blaaie en lees vlugtig deur die landbou-afdeling, want ons almal weet dat hy netnou, voor sy middagslapie, tyd gaan maak om eers behoorlik deur die hele koerant te lees.
Verlede Sondag het op dieselfde manier begin, maar dié keer, terwyl ek met liefde na elkeen kyk terwyl hulle gesels en skerts oor die week se gebeure, wonder ek vir hoe lank ons dit nog as ʼn familie saam sal kan doen … want jy sien, gedrukte media en koerante is een van die dae iets van die verlede!
Ek staan in die sitkamer van die plaashuis en ek dink aan die joernaliste en ander wat hierdeur geraak word en wie se werk in gedrang is.
Ek hoor die woorde van dr. Dirk Hermann so duidelik: “Die besluit van Media24 om van sy publikasies te sluit, het ʼn ongelooflike invloed op die medialandskap van Suid-Afrika, veral die Afrikaanse landskap.”
Die Afrikaanse landskap …
Afrikaans is my moedertaal! Dit is die taal waarin ek bid, praat, dink en redeneer. Dit is ook die taal waarin ek skryf, die taal waarin ál die Afrikaanse joernaliste skryf! Afrikaans is die taal waarin ons die Springbokke ondersteun wanneer hulle teen buitelandse rugbyspanne speel en ook die taal waarin ek my kinders wil grootmaak.
Media24 se koerante (Rapport, Beeld en die Volksblad) is kulturele instellings. Daarbenewens het hulle ook ʼn groot impak op die demokrasie in Suid-Afrika en op mediavryheid. Alhoewel die wêreld vinnig verander en na die digitale era oorskakel, beteken dit nie dat die gehalte wat oor die jare in hierdie koerante opgesluit is, verlore moet gaan weens die beweging na die digitale era nie.
Ek wil ook eendag saam met my gesin om die kombuistafel kan staan en gesels oor die week se gebeure terwyl ons die koerant lees, en met “koerant lees” bedoel ek nie dat ek artikels en stories op ʼn tabletrekenaar of selfoon wil lees nie. Ek wil sélf deur die koerant blaai en die verskillende dele uitmekaar haal om vir elkeen sy/haar gedeelte te gee wat ons dan later weer omruil. Ek wil ook, soos nou, saam met my gesin en familie eendag staan en ʼn koerant vashou.
Natúúrlik is daar plek en ruimte vir tegnologie en digitale platforms. Ek lees dáágliks Maroela Media se artikels op my selfoon en rekenaar wanneer ek by die werk bedrywig is, want dit is vir my belangrik om op hoogte van gebeure te bly, máár die gevoel en die samehorigheid wat met ʼn gedrukte koerant gepaardgaan, is net anders!
Hoe nou gemaak?
Hoe gaan ons keer dat gedrukte koerante tot ʼn einde kom?
Hoeveel mense gaan hul werk verloor en dit nie meer kan bekostig om vir hul gesinne te te voorsien nie?Hoe gaan ons hierdie joernaliste help?
Wat gaan ons as familie op Sondae lees wanneer ons om die kombuistafel staan?
Wie gaan vir hierdie mense veg en opstaan?
Solidariteit is die antwoord!
Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk staan op, veg en dra die belange van ons lede op die hart, onder meer deurdat die netwerk reeds ʼn versoek aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gerig het dat onderhandelinge oor die beplande aflegging van Media24 se personeel onder die toesig van dié liggaam plaasvind.
Solidariteit wil graag verseker dat die gehalte van joernalistiek op dieselfde vlak bly as wat dit oor die jare heen was. Solidariteit is ook daar vir elke joernalis en persoon wie se werk in die gedrang is en veg ook vir my familiekuiers rondom die koerant!
Sluit vandag aan by jou netwerk en word deel van die oplossing en die skep van ʼn goeie (digitale én gedrukte) toekoms! Vir meer inligting, stuur gerus ʼn e-pos na kreatief@solidariteit.co.za.