loading
avatar
Artikels
3 jaar gelede
federalisme-in-plaas-van-sentralisme

Foto Krediet: Solidariteit

Federalisme in plaas van sentralisme

Deur Nico Strydom

Federalisme teenoor Suid-Afrika se mislukkende sentralisme word al meer as ‘n werkbare alternatief voorgehou.

‘n Sentralistiese eenheidstaat is ‘n bestel waarin die meeste of al die regerende mag in ‘n gesentraliseerde regering gesetel is, in teenstelling met ‘n federale staat waar mag en staatsfunksies na provinsiale, munisipale en grondvlak afgewentel word.

“Daar is ʼn groeiende besef dat die  Suid-Afrikaanse bedeling in sy huidige vorm nie volhoubaar is nie,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Suid-Afrika is oppervlakgewys so groot soos talle Europese state saam en in baie van hierdie lande, waarvan sommige kleiner is as net een provinsie in Suid-Afrika, is daar ‘n federale bestel wat uit talle deelstate bestaan. Dit is dus onafwendbaar dat ʼn sentralistiese regering, wat wil besluit wat goed is vir elke gemeenskap, dorp, streek en provinsie, sal misluk.

Dis nie net Suid-Afrika se geografie wat dit moeilik bestuurbaar maak nie. Verskillende dele van die land se klimaat verskil drasties en daar is verskeie taal-, kultuur-, geloofs-, en ander gemeenskappe in die land, wat beteken sentrale beheer waar daar een gestandaardiseerde beleid is vir die hele land is eenvoudig nie werkbaar nie.

Federalisme is egter veel meer as die afwenteling van mag van die nasionale regering na provinsies, dorpe en gemeenskappe. Dit is ook die basis vir ʼn selfdoeningesteldheid, waar gemeenskappe van grondvlak af self beheer oor hulle toekoms neem deur selfstandige instellings en sterk, selfstandige gemeenskappe te vestig. Dit is groeiende selfbestuur, waar ons betekenisvolle seggenskap mag hê in sake wat ons raak.

“Die wese van federalisme is dat dit juis ruimte skep vir verskeidenheid en verskillende gemeenskappe om in samehang tot mekaar te bestaan en saam te werk oor sake van gemeenskaplike belang,” wys Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, daarop.

Solidariteit het ‘n federale plan van sewe bene wat fokus op landswye instellings. “Dit is deur vrye instellings wat ons verantwoordelikheid vanuit die gemeenskap neem om te bou vir die volgende geslag,” sê Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging.

Die vestiging en verskerping van ankergemeenskappe behels inisiatiewe en planne in gebiede waar Afrikaners gekonsentreerd is en op plaaslike vlak ʼn verskil kan maak.

“Daar is besondere fokus op Pretoria, waar die meeste Afrikaners woon. Daar sal ook ʼn fokus wees om groeiende federalisme – selfbestuur – in die Wes-Kaap te vergroot, en ook spesifieke fokus op die dorp Orania – wat groot en inspirerende spronge vorentoe neem – wees. Ons glo Suid-Afrika is in werklikheid ʼn gemeenskap van gemeenskappe.”

Daarom bou ons deur die werk van die Solidariteit Beweging  ʼn netwerk van kultuur- en ander gemeenskappe, geskoei op die beginsel van wedersydse erkenning en gesprek. Laastens, ʼn fokus op die diaspora – Afrikaners wat die land verlaat het, maar nog steeds ʼn bydrae in die werk wat ons doen wil maak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel