loading
Artikels
8 maande gelede
finansiesnetwerk-se-studiefonds-n-lig-op-die-toekoms

Foto Krediet: OkayDeer

Finansiesnetwerk se studiefonds: ʼn Lig op die toekoms

Deur Ané Janse van Rensburg

Dit verg gewoonlik die samewerking van ʼn handvol rolspelers om iemand se toekoms te verseker. Solidariteit se Finansiesnetwerk vat hande met die Helpende Hand Studietrust (HHST) om die OSK Lukas Taljaard Studiefonds vlerke te gee.

Hierdie studietrust, wat ontstaan het uit Solidariteit Helpende Hand (SHH) se verbintenis tot gemeenskapsontwikkeling, bied hoop aan behoeftige Afrikaanse studente deur rentevrye studielenings beskikbaar te stel.

“Die Finansiesnetwerk beskou hierdie geleentheid as ʼn loopbaanpad wat saam met die beurshouers ontwikkel word. Hulle wil nie net ʼn studiegeleentheid aan ʼn jongmens bied nie, maar hom of haar ook stap vir stap op hul loopbaanpad vergesel sodat hy of sy uiteindelik ʼn meester in die finansiële beroepsveld kan word,” vertel Rickus Botha, organiseerder van Solidariteit se Finansiesnetwerk.

Wat is die Studietrust?

Die Helpende Hand Studietrust dien as ʼn platform waardeur donateurs kan bydra om behoeftige studente te ondersteun. Die fonds maak dit vir studente moontlik om hul akademiese drome na te jaag sonder die las van rente op hul studielenings. Hierdie rentevrye leningmodel is terugbetaalbaar oor dieselfde tydperk as die duur van die student se studie, en sodoende skep dit ʼn volhoubare kringloop waar een student se sukses die volgende een sʼn moontlik maak.

Die waarde van hierdie inisiatief lê nie net in die finansiële ondersteuning wat dit bied nie, maar ook in die positiewe uitwerking wat dit op die lewens van studente en hul gemeenskappe het. Deur studente die geleentheid te bied om te studeer, skep die trust ʼn toekoms vol hoop en moontlikhede. Elke student wat afstudeer en sy of haar plek in die samelewing vol staan, getuig van die verskil wat gemaak word.

Een van die unieke kenmerke van die studietrust is die rentevrye leningmodel. Hierdie model maak dit vir studente moontlik om te studeer sonder die bykomende las van rente, wat dikwels ‘n struikelblok is vir diegene wat reeds finansiële uitdagings ervaar. Die lening word terugbetaal oor dieselfde tydperk as wat dit geneem het om die kwalifikasie te voltooi, wat ʼn billike en haalbare terugbetalingsplan verseker. Hierdie benadering verseker dat die HHST volhoubaar bly sodat toekomstige generasies ook toegang tot hierdie fondse kan hê.

Lees hier meer oor die werking van die fonds.

Geskiedenis en prestasies:      

Die Solidariteit Helpende Hand Studietrust het oor die afgelope paar jaar bewys dat dit meer as net ʼn fonds is; dit is ʼn belofte aan jongmense wat akademiese drome koester, maar dalk nie oor die finansiële middele beskik om dit te verwesenlik nie. Die HHST wat in 2009 gestig is, werk hand aan hand met gemeenskappe, donateurs en ander weldoeners om ʼn volhoubare netwerk van ondersteuning te bied. Hierdie netwerk het reeds duisende studente gehelp om hulle studies suksesvol af te handel en ʼn positiewe bydrae tot die samelewing te lewer.

Sedert die stigting van die trust het dit gegroei en uitgebrei om ʼn breër gemeenskap van studente te ondersteun. Vanaf die vroeë begin in 2009, toe 118 studente bystand ontvang het, het die HHST ontwikkel en ʼn reeks studiefondse is gestig, insluitend spesifieke fondse soos die Droogtehulp Studiefonds en die Liefde-in-Gestremdheid Studiefonds. Tot op hede het die HHTS reeds meer as 11 000 studielenings ter waarde van R249 miljoen toegeken.

Hoe kan jy betrokke raak?

Solidariteit se Helpende Hand Studietrust bied verskeie maniere waarop individue en organisasies betrokke kan raak. Dit sluit in die stigting van jou eie studiefonds, eenmalige of maandelikse skenkings, testamentêre bemakings, of selfs die skenking van tweedehandse klere en huisraad aan Helpende Hand se “Ons Winkels”. Hierdie skenkings is nie net ʼn weldaad nie, maar bied ook belastingvoordele ingevolge artikel 18A van die Inkomstebelastingwet.

Met inisiatiewe soos die opkomende gholfdag van die Finansies- en Regsnetwerk beoog Solidariteit om tot hierdie fonds by te dra.

“Solidariteit se Finansiesnetwerk, in samewerking met die Regsnetwerk, is die eerste twee beroepsnetwerke wat ʼn gholfdag hou om fondse in te samel wat alles geskenk word aan die onderskeie twee netwerke se studiefondse. Die doel is dat almal wat wil studeer die geleentheid gegun moet word om dit wel ʼn realiteit te maak; onvoldoende fondse moenie ʼn struikelblok wees nie,” sê Botha.

Die Solidariteit Finansiesnetwerk se studiefonds is ʼn kragtige instrument wat help om die toekoms van ons jongmense en gemeenskappe te verseker. Deur in die opleiding van ons jeug te belê, skep ons ʼn sterker, beter opgeleide samelewing wat gereed is om die uitdagings van die toekoms aan te pak. Dit is ʼn inisiatief wat steun en uitbreiding verdien, sodat elke student wat wil studeer, die kans kry om hul drome te verwesenlik.

Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en vat hande met waardevolle inisiatiewe wat bou aan ʼn voorspoedige toekoms vir vandag se jeug!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel