loading
Artikels
2 dae gelede
fleur-olivier-se-reis-van-regstudent-tot-korporatiewe-bestuur

Foto Krediet: Pexels

Fleur Olivier se reis van regstudent tot korporatiewe bestuur

Deur Leré Nel

Wanneer ʼn mens aan korporatiewe bestuur dink, kom daar dikwels beelde van groot handboeke, streng regulasies en formele prosesse op. Maar vir Fleur Olivier, bestuurskonsultant by FluidRock, het hierdie veld ʼn heel ander betekenis gekry: dit is dinamies, mensgedrewe en vol uitdagings wat kreatiwiteit en aanpasbaarheid verg. Solidariteit se Regsnetwerk het met haar gesels om meer oor haar interessante loopbaanpad uit te vind.

ʼn Onkonvensionele begin

Fleur het in Kempton Park grootgeword en in 2015 met haar LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria begin. Hoewel sy nie altyd seker was dat regte haar roeping is nie, het sy dit as ʼn breë rigting beskou wat baie moontlikhede bied. Ná haar studie het die volgende stap, klerkskap, soos ʼn berg voor haar gelê. “Ek kon myself nooit in die tradisionele rol van ʼn prokureur of advokaat sien nie, en daarom het ek gekies om nie my klerkskap te doen nie,” vertel Fleur. “My mentors was nie beïndruk nie!”

Haar eerste werk was ʼn boedelberedderaar by Capital Legacy. Daar het sy waardevolle ervaring opgedoen, maar het steeds geweet dat sy nog nie haar ware nis gevind het nie. Deur haar ma, wat self in korporatiewe bestuur betrokke was, het sy van FluidRock en hul internskapprogram gehoor. In 2021 het sy die sprong gewaag en nooit teruggekyk nie.

Fleur se groei by FluidRock

Fleur se internskap was, volgens haar, “alles behalwe maklik.” Sy moes vinnig leer, gereeld laat werk en haarself in intimiderende raadsvergaderings bewys. Tog was dit juis hierdie vuurdoop wat haar laat groei het.

“FluidRock het my by kliënte van alle groottes en sektore geplaas – van privaat maatskappye tot trusts en selfs genoteerde maatskappye. Hierdie blootstelling het my perspektief ongelooflik baie verbreed,” vertel sy. ʼn Groot mylpaal was toe sy as maatskappysekretaris vir ʼn genoteerde maatskappy aangestel is – ʼn rol wat groot verantwoordelikheid en vertroue verg.

Lesse wat nie in handboeke voorkom nie

Hoewel sy ʼn regsagtergrond het, het Fleur gou agtergekom dat haar LLB-graad haar kwalik vir die praktyk kon voorberei.

“In boeke word korporatiewe bestuur dikwels as reëls en prosesse beskryf, maar in die praktyk gaan dit oor mense. Die dinamika in ʼn direksievergadering, die hantering van konflik, en die opbou van vertroue is dinge wat jy net deur ervaring leer,” verduidelik sy.

Vir haar lê die kern van goeie bestuur in deursigtigheid, konsekwentheid en die vermoë om komplekse sake eenvoudig te verduidelik sodat besluite eties en ingelig geneem kan word.

Uitdagings en oorwinnings

Een van die grootste struikelblokke waarmee Fleur gekonfronteer is, was die beperkte begrip wat sommige mense oor die rol van ʼn maatskappysekretaris het. “Jy is dikwels die ‘go-to’ persoon vir alles,” sê sy. “Jy moet leer hoe om druk te hanteer en oor ʼn wye spektrum van sake advies te gee.”

Sy moes ook leer om met sterk persoonlikhede op rade saam te werk – ʼn ervaring wat haar emosionele intelligensie en diplomasie geslyp het. Tog glo sy dat dit juis hierdie uitdagings is wat haar geleer het om kompleksiteit eenvoudig te maak en verhoudings te bou wat op vertroue geskoei is.

Wie sal in hierdie veld floreer?

Volgens Fleur is ʼn loopbaan in korporatiewe bestuur die meeste bevredigend vir iemand met ʼn sterk sin vir orde, struktuur en integriteit. “Dit is ʼn beroep vir mense wat detail-gedrewe is, maar terselfdertyd die groter prentjie kan verstaan; iemand wat kan sien hoe prosesse, reëls en mense-interaksies bydra tot die gesondheid van die hele organisasie.”

Haar raad aan jong mense wat hierdie loopbaanopsie oorweeg, is die volgende: “Moenie dink dit gaan net oor papierwerk en notules neem nie. Jy dra by tot die hart van hoe ʼn organisasie bestuur word. Jy moet selfversekerd wees, moeilike gesprekke en moeilike mense kan hanteer en jou integriteit bo alles beskerm.

Fleur se verhaal bewys dat daar nie net een pad na sukses in die regswêreld is nie. Daar is baie opwindende geleenthede daarbuite. Deur aanpasbaar te wees, leergierig te bly en integriteit te behou, kan ʼn mens nie net ʼn betekenisvolle loopbaan in die korporatiewe wêreld bou nie, maar ook ʼn werklike bydrae lewer tot ʼn meer etiese sakeomgewing.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel