loading
Mediaverklarings
19 uur gelede
flysafair-skikking-binne-bereik-maar-benodig-eers-meer-toewyding-en-balans

Foto Krediet: Okay Deer

FlySafair: Skikking binne bereik, maar benodig eers meer toewyding en balans

Die onderhandelinge tussen Solidariteit en FlySafair om ’n einde aan die uitsluiting van, en staking deur, vlieëniers te bring, kon reeds op ʼn skikking uitgeloop het as die werkgewer nie Vrydag aangedui het dat hul slegs tot 19:00 beskikbaar is nie, en sodoende nie geneë was om gisteraand saam met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) en Solidariteit deurnag te werk om die laaste kwessies uit te stryk nie.
Hoewel FlySafair Saterdagoggend ’n finale aanbod per e-pos gemaak het – waarvan die inhoud tans vertroulik is – het dit nie die kernkwessies, wat vlieëniers al ʼn geruime tyd uitlig, aangespreek nie. Belangrike versoeke, soos die waarborg van ten minste een af-naweek per maand, asook ’n meer voorspelbare skofrooster, is onvoldoende hanteer. Die aanbod bevat te veel vae bewoording, wat weens die bestaande vertrouensbreuk tussen vlieëniers en die werkgewer, nie aanvaarbaar is sonder duidelike en bindende bepalings nie.
Verder is daar ’n beroep gedoen op die instelling van ’n vlugroosterkomitee wat beskik oor werklike gesag, waar vlieëniers en FlySafair-bestuur ten minste twee keer per jaar roosterkwessies substantief kan bespreek. Dié komitee moet nie bloot ’n platform wees waarop gepraat word nie, maar ’n meganisme vir praktiese, werkbare verandering. Die huidige onvoorspelbare rooster veroorsaak ernstige spanning, uitputting en ontwrigting in vlieëniers se persoonlike lewens – iets wat reeds tot frustrasie en bedankings onder vlieëniers lei.
Vlieëniers dra daagliks enorme verantwoordelikheid – hulle is in beheer van vliegtuie ter waarde van honderde miljoene rande en vervoer duisende passasiers. Op sekere dae begin hul werksdae om 11:00 en eindig eers ná middernag. Vir ʼn vroeë vlug moet hul reeds 03:00 opstaan om gereed te maak vir die vlug. In só ’n konteks is voldoende rus nie net wenslik nie, maar noodsaaklik. Die huidige roosters, wat algoritmies en sonder patroon opgestel word, maak beplanning en gesinslewe feitlik onmoontlik. Dit was nie die geval onder die vorige roosterbedeling nie.
Hoewel daar in die media klem gelê word op salarisverhogings, is dit nie die kern van die dispuut nie. FlySafair se finale salarisvoorstel vir die volgende drie jaar is grotendeels aanvaarbaar – mits die roosterkwessies daadwerklik aangespreek word.
Wat egter verdere frustrasie ontlok het, is FlySafair se misleidende stelling dat vlieëniers gemiddeld slegs 63 uur per maand werk. Hierdie syfer verwys slegs na vliegure, en sluit nie die werklike werksure in nie – wat voorbereiding, opleiding, administrasie en wagtyd insluit en gemiddeld 180 uur per maand beloop as daar vir 63 ure gevlieg word.
Ook die salarisskale wat FlySafair in die media voorhou, stem nie ooreen met die werklikheid nie. Vele vlieëniers het aangedui dat hulle graag dié vergoeding sou ontvang as dit waar was, maar dit is eenvoudig nie die geval nie. Hierdie wanvoorstellings is onverantwoordelik en het verdere spanning geskep, wat die bereik van ʼn skikking bemoeilik.
Solidariteit handhaaf dat die huidige roosterpraktyke nie volhoubaar is nie. Moegheid en frustrasie neem toe, en tien vlieëniers het reeds die afgelope maand by die maatskappy bedank om beter werksomstandighede elders te gaan soek.
Indien Solidariteit se lede nie toestem tot die laaste aanbod nie, sal Solidariteit die KVBA versoek om Maandag of vroeër weer te help om die partye na ’n wen-wen skikkingsooreenkoms te lei – ʼn ooreenkoms wat voorsiening maak vir meer buigsaamheid én voorspelbaarheid in die roosterstelsel. Die doel is eenvoudig: vlieëniers moet voldoende rus hê om hul verantwoordelikhede veilig en doeltreffend na te kom. Dit sluit in die reg op ten minste een af-naweek per maand – ’n redelike en noodsaaklike versoek.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel