loading
Artikels
3 dae gelede
flysafair-stem-onder-druk-in-tot-kvba-ingryping-oor-vlieeniers

Foto Krediet: Okayy Deer

FlySafair stem onder druk in tot KVBA-ingryping oor vlieëniers

Solidariteit verwelkom FlySafair se besluit – alhoewel onder druk – om tog deel te neem aan die bemiddelingsproses soos versoek deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), ingevolge artikel 150 van die Wet op Arbeidsverhoudinge.
Alhoewel FlySafair reeds die afgelope naweek die geleentheid gehad het om dié arbeidsgeskil te ontlont – en sodoende duisende passasiers die frustrasie van ʼn staking te spaar – het hulle eers nou, ná grootskaalse opslae en frustrasie, teësinnig ingestem.
Die druk het gevolg ná ongeveer 90% van FlySafair-vlieëniers wat aan Solidariteit verbonde is, bereid was om vir een dag te staak. In reaksie hierop, het FlySafair besluit om die geskil te eskaleer en aangedui dat hy die vlieëniers vir ʼn tydperk van sewe dae gaan uitsluit.
Ontwrigtings kan tot twee weke lank duur en Solidariteit is daarom opnuut vasbeslote om die situasie ter wille van sy lede – en passasiers – by die onderhandelingstafel te ontknoop.
Volgens Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van die openbare bedryf by Solidariteit, is daar steeds twyfel oor of FlySafair die situasie met die nodige dringendheid benader.
Solidariteit se versoek om vandag al (21 Julie) met FlySafair te onderhandel, word steeds nie ernstig genoeg opgeneem nie.
“FlySafair het onderskat hoe ontwrigtend die uitsluiting gaan wees. Dit kos hulle te veel en die passasiers betaal die prys.
“Tog het FlySafair aangedui dat hy bereid is om eers teen Woensdag met die onderhandelingsproses te begin. Gevolglik gaan nog duisende passasiers eers geraak word vóór FlySafair na die tafel toe kom,” sê Cronjé.
Solidariteit hoop dat FlySafair se instemming tot die bemiddelingsproses die begin van werklike oplossings sal wees – oplossing wat sy vlieëniers se bekommernisse met ware erns benader en wat beter werksverhoudinge vir die toekoms kan beteken.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel