
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Fokusmaande: Die hartklop van Solidariteit se Onderwysernetwerk
Deur Leré Nel
Vir twee maande in die jaar trek Solidariteit se Onderwysernetwerk hulle stapskoene aan, pak hulle die oliebolle en rooipenne in, en gaan regstreeks na waar dit saak maak: die skole waar Solidariteit se lede is.
“Ons weet administrasie is besig om die vreugde uit die onderwys te steel,” sê Anlia Archer, netwerkorganiseerder en bedryfspesialis vir Solidariteit se Onderwysernetwerk. “Daarom verseker ons met ’n fisiese besoek dat ons onderwysers se vrae kan beantwoord, sonder dat hulle nóg ’n e-pos hoef te stuur of ʼn oproep hoef te maak.” Die Solidariteit Onderwysernetwerk wil ook seker maak dat lede van die netwerk ʼn gesig kan plaas by die netwerk waarvan hulle deel is.
Wat is ’n fokusmaand en hoekom doen ons dit?
Die doel van die Onderwysernetwerk se fokusmaande is bloot om onderwysers regoor die land persoonlik te bereik. Dis ʼn kans om lede te bedien, te luister na hulle uitdagings, hulle te bemoedig en verhoudings te bou.
Elke besoek is ’n kans om:
- • bestaande lede te ondersteun met navrae of ander nodige hulp;
- • nuwe lede te werf;
- • opleidingsbehoeftes te identifiseer; en
- • betekenisvolle bande met skoolbestuur te vorm.
“Ons het twee oogmerke: om bestaande lede te bedien en om ander onderwysers die geleentheid te gee om deel te word van die vinnigste groeiende onderwyserforum in die land,” verduidelik Anlia.
Wat gebeur tydens ’n skoolbesoek?
Gedurende Mei en September besoek die Onderwysernetwerk daagliks skole om navrae in persoon op te los. Elke streekkantoor werk met sy eie benadering, maar gewoonlik bespreek die netwerkorganiseerders ʼn datum en tyd – gewoonlik vroegoggend tussen 06:30 en 07:00 – om tydens ʼn personeelvergadering met die personeel te gesels. Daarna spandeer hulle ʼn tydjie (afhangende van die behoefte van die skool) om navrae te beantwoord, advies te gee rondom uitdagings, SARO-registrasies en Solidariteit-platformregistrasies. “Op hierdie manier verseker ons dat al ons lede toegang het tot al hulle voordele op die punte van hulle vingers,” sê Anlia. “Ons neem ook klein bederfies saam vir ons lede om dankie te sê vir al hulle ondersteuning en tyd. Ons moet natuurlik ook ʼn rooi pen vir elkeen saamvat – ʼn soldaat gaan mos nie oorlog toe sonder ʼn geweer nie! Ons maak seker dat die onderwysers toegerus is vir die Junie-eksamenstryd.”
Die rede vir ons besoeke
Volgens Anlia hoop die netwerk om een boodskap aan onderwysers oor te dra: Dankie. “Dankie dat julle saam met ons werk om ʼn volhoubare toekoms vir ons kinders te skep. Dankie dat julle so hard werk. Dankie dat julle ons altyd met ope arms verwelkom,” glimlag sy.
Skole waarby ons nog nie besoek afgelê het nie? Dis nou julle beurt!
Die uitnodiging is oop. En dit hoef ook nie net in ’n fokusmaand te wees nie. Die Solidariteit Onderwysernetwerk is meer as bereid om enige tyd met skoolhoofde te vergader, in persoon of via Teams.
Stuur gerus ’n e-pos na onderrig@solidariteit.co.za en nooi ons uit. Ons vra net vyf minute van julle tyd om vir onderwysers te verduidelik waarvoor Solidariteit staan, wat hulle beroepsnetwerk doen, en watter voordele hulle kan trek deur deel te wees daarvan.
“Solidariteit se Onderwysernetwerk is geensins in kompetisie met enige ander rolspeler nie – ons spreek slegs ʼn gaping in die mark aan wat volhoubare oplossings vir die uitdagende onderwysomgewing bied,” verduidelik Anlia. Sy moedig skoolhoofde aan om die netwerk enige tyd te kontak. “Dis regtig vir ons lekker om op grondvlak met onderwysers en ander personeel te kan gesels. Dit help ons ook om te verseker dat ons relevante oplossings bied.”
Laat ons toe om weer hoop te bring. Laat ons toe om ons waardering te wys. En laat ons saam bou aan ’n sterker, trotser onderwysgemeenskap – een besoek op ’n slag.
Bly ingeskakel by die Onderwysernetwerkgroep om op hoogte te bly van sake wat jou as onderwyser raak.