loading
Artikels
1 dag gelede
onderwyser-van-die-jaar-2025-nominasies-nou-oop

Foto Krediet: Solidariteit

Onderwyser van die Jaar 2025: Nominasies nou oop

Deur Leré Nel

Het ʼn onderwyser al jou lewe verander? Of ken jy ʼn besonderse onderwyser? Dan is dit nou jou kans om daardie persoon op ʼn besonderse manier te vereer. Solidariteit se Onderwysernetwerk nooi jou uit om vanaf 15 Julie 2025 ʼn merkwaardige onderwyser te nomineer vir die jaarlikse Onderwyser van die Jaar-toekenning.

Onderwysers speel daagliks ʼn onmisbare rol in die vorming van jong mense se toekoms. Hulle glo in hul leerders, moedig hulle aan en inspireer hulle om hul volle potensiaal te bereik. Tog bly hierdie beroep dikwels een waar harde werk en toewyding ongemerk verbygaan.

Dis tyd om dankie te sê

Die Onderwyser van die Jaar-toekenning is ʼn egte vorm van erkenning vir die buitengewone impak wat onderwysers op leerders se lewens het. Solidariteit bied dié toekenning vanjaar vir die vyfde keer aan, en almal – ouers, kollegas, oud-leerders, huidige leerders, en selfs onderwysers se familie of vriende – is welkom om ʼn nominasie in te dien.

“As jy jou gunstelingonderwyser nomineer, gee jy aan hulle welverdiende erkenning vir hul harde werk en toewyding. Vorige wenners is ook al bevorder of het nuwe loopbaangeleenthede gekry as gevolg van dié toekenning,” sê Anlia Archer, bedryfspesialis en netwerkorganiseerder van Solidariteit se Onderwysernetwerk.

Daar word ʼn wenner aangewys in elk van die volgende drie kategorieë:

  • Kleuterskoolonderwyser van die Jaar
  • Laerskoolonderwyser van die Jaar
  • Hoërskoolonderwyser van die Jaar

Elkeen van hierdie fases bring unieke uitdagings mee, en elke onderwyser verdien hul eie ereplek.

Hoe lyk die proses?

Enige persoon kan ʼn onderwyser aanwys en nomineer. ʼn Onafhanklike adviesraad evalueer dan die top-10-genomineerdes volgens ʼn deursigtige puntestelsel. Hierdie topkandidate kry die kans om ʼn kort video oor hul roeping te maak, en uiteindelik word die wenners persoonlik by hul skole verras – ʼn spesiale oomblik vir hulle én hul leerders.

Voordele vir Solidariteit-lede

Volgens Anlia Archer  ontvang onderwysers wat lid van Solidariteit is ook eksklusiewe voordele indien hulle wen – onder meer ʼn uitnodiging na die Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid, waar uitnemendheid regoor verskeie beroepe vereer word.

Elke nominasie maak saak

Selfs al word ʼn onderwyser nie as een van die wenners aangewys nie, ontvang elke genomineerde onderwyser ʼn spesiale boodskap van waardering. “Ons wil onderwysers sodoende daaraan herinner dat hulle werk ewigheidswaarde het,” sê Anlia. “Soms is ʼn eenvoudige boodskap wat lui: ‘Ons sien jou raak’, genoeg om iemand se passie weer aan te vuur.”

Nomineer jou gunstelingonderwyser HIER!

Bly op hoogte van die vordering van hierdie veldtog deur Solidariteit se Onderwysernetwerk en sosialemediaplatforms dop te hou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel