loading
Artikels
1 jaar gelede
francois-boys-van-hoezitsamelewing-se-handelsmerkwenke

Foto Krediet: Solidariteit

Francois Boys van #HoezitSamelewing se handelsmerkwenke

Deur Ané Janse van Rensburg

In ʼn wêreld waar jou handelsmerk ʼn deurslaggewende rol speel in die sukses van jou onderneming, is dit noodsaaklik om die strategieë en insigte van vooraanstaande kenners te verstaan. Francois Boyce, die bekende smaakmaker en kreatiewe brein agter #HoezitSamelewing, deel met ons sy jarelange ervaring en unieke perspektief oor handelsmerkbestuur. In hierdie onderhoud delf ons dieper in Boyce se benadering tot handelsmerkstrategie, sy geheime vir die bou van ʼn lojale kliëntebasis en sy visie vir die toekoms van handelsmerke in ʼn steeds veranderende mark.

Wat het jou geïnspireer om jou eie handelsmerk te begin?

ʼn Droom wat die Here vir my gegee het om by Suid-Afrikaners uit te kom. Toe my sosialemediaplatform begin groei het, het ek besluit om dit in ʼn handelsmerk te omskep, sodat dit iets kan word wat vir ʼn lang tyd kan bestaan en nie net ʼn “fly by night” is nie.

Wat is die visie en missie van jou handelsmerk?

#HoezitSamelewing is ʼn familievriendelike platform waar ons die publiek wil vermaak en inspireer. Ons droom van groei en ware impak in die samelewing. Die voertuig wat ons gebruik is humor.

Wat was van die grootste uitdagings wat jy in die gesig gestaar het toe jy jou handelsmerk geloods het en hoe het jy dit hanteer?

  1. Hoe bly jy voortdurend relevant?
  2. Waarvoor gaan jou handelsmerk bekendstaan?
  3. Hoe maak ons dit volhoubaar?

Dit was belangrik om so vinnig as moontlik uit te vind vir wié ek die video’s maak. Wie is my teikenmark en hoe hou ek hulle in my platform ingekoop?

Alhoewel kenners vir jou sal sê jy moet gereeld plasings maak, glo ek ook daar is gevaar in té veel. Daarom het ek ritmes ingebou van wanneer ek wat doen. Dit help my om te beplan, dit help met kontinuïteit en verseker dat mense nie “moeg” raak van te veel video’s nie.

Wat maak jou handelsmerk uniek in vergelyking met ander in dieselfde mark?

Ek glo in organiese kykers. Ons gebruik glad nie befondsing vir video’s om byvoorbeeld meer volgers of “views” te kry nie. Ek het ʼn sterk fokus op familievriendelike inhoud. Kontinuïteit is vir my baie belangrik.

Wie is jou teikenmark en hoe bereik jy hulle?

80% van my teikenmark is middeljarige vrouens. Ek doen vertonings by geleenthede vir dames, en ek werk saam met handelsmerke wat spesifiek op daardie groep gefokus is. Die inhoud van my video’s, advertensies en handelmerkprodukte is alles gerig op daardie groep.

Wat is sommige van die belangrikste bemarkingstrategieë wat jy gebruik het om jou handelsmerk te bevorder?

Ritme – mense weet wanneer wat gebeur. Die inhoud van die video is onvoorspelbaar, maar die tipe video’s het sekere dae en tydgleuwe. Wees bewus van wat in die wêreld aangaan om inhoud aan te pas. Ek fokus altyd meer op die positiewe as die negatiewe. Hou kwessies lig en vol humor.

Wat is jou toekomstige planne vir jou handelsmerk? Beplan jy enige nuwe produkte of uitbreidings?

Nuwe optredes en nuwe musiek – om die musiekgedeelte van die platform te bevorder. Ons is voortdurend besig om die #Hoezit-produkte te verbeter en die verskeidenheid te vergroot.

Hoe hanteer jy kommentaar op sosiale media, en hoe beïnvloed dit jou handelsmerk?

Altyd in ʼn positiewe lig. Hoe jy kommentaar hanteer reflekteer nie net op jou en wie jy is nie, maar in my geval op die ondernemings waarmee ek saamwerk. Soms is dit beter om niks te sê nie. Soms moet jy praat, maar dan moet die doel altyd wees om iemand in ʼn positiewe manier te help en nie die persoon te verneder om ʼn punt te maak nie. Vernedering help niks en niemand nie!

Het jy al saam met ander bekendes gewerk as deel van ʼn handelsmerkstrategie? Hoe het hierdie vennootskappe jou handelsmerk beïnvloed?

Ek is baie kieskeurig oor met wie ek saamwerk. As jou waardes, manier van doen en uitkyk nie pas by waarvoor ek staan en waarvoor #HoezitSamelewing staan nie, sê ek baie maklik “Nee”. Maar, die mense saam met wie ek al gewerk het, was nog altyd positief. Ek het oor tyd geleer hoe belangrik dit is om definitiewe grense, doelwitte, tydlyne en verwagtinge te kommunikeer.

Hoe betrokke is jy by die daaglikse bedrywighede van jou handelsmerk?

My vinger is op alles. Daar word niks gedoen as ek dit nie goedgekeur het nie. Ek het ʼn ongelooflike span wat my help om dinge te bestuur, en saam met my droom en beplan, maar op die ou end –“the buck stops with someone.” Ek is wel gereeld op ʼn plek van “help my om te leer hoe om dit beter te doen.” ʼn Mens weet nooit genoeg nie. Iemand wat nie bereid is om te leer nie se onderneming gaan nooit groei nie.

Wat is een van die belangrikste lesse wat jy geleer het sedert jy jou handelsmerk begin het?

As jy nie weet wie jy is, waarvoor jy staan, wat jy wil doen en bereik nie, gaan jy soos ʼn afkophoender rondhardloop en in die donker tas. Vir enige onderneming, handelsmerk of persoon wat ʼn lewe op sosiale media wil maak, is die volgende belangrik:

– Weet wie jy is en bly by dit.

– Ontwikkel en groei in die area waarin jy goed is.

– Weet waarheen jy op pad is en sê nee vir iets wat jou nie help om daarby uit te kom nie, maak nie saak hoe aanloklik die geleentheid of geld lyk nie.

Watter raad sal jy gee aan iemand wat hul eie handelsmerk wil begin?

“If you do not plan, you plan to fail.”

As jy nie bereid is om dit vir langer as drie jaar te doen nie, moenie eers begin nie. Dit gaan op en af wees, maar al raak dit hoe uitdagend en moeilik, op jou slegste dag moet jy steeds die motivering kan hê om op te staan en jou werk te doen.

Hoe het jou status as ʼn bekende persoon jou handelsmerk beïnvloed?

Hoe meer bekend jy raak, hoe meer wysheid moet jy toepas op jou reaksies, waarvoor jy “ja” sê, wat jy toelaat en hoe jy jouself op alle terreine gedra. Want jy word dopgehou, en mislukkingstories verkoop baie beter as ʼn goeie, positiewe storie! Dit is nie meer net mý beeld wat ek dra nie … daar is ander ondernemings en mense betrokke.

Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en skakel by jou beroepsnetwerk in waar jy toegang tot die raad en kundigheid van kenners in jou beroep kan kry!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel