
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Gaan kunsmatige intelligensie (KI) rekenmeesters vervang?
Deur Essie Bester
Die wêreld staan op die rand van ʼn nuwe era – een waar outomatisering en kunsmatige intelligensie (KI) alle finansiële take naatloos sal hanteer. Sommige rekenmeesters vrees dat dit hulle na die kantlyn sal skuif.
KI is beslis besig om hoër betaalde beroepe vir universiteitsopgeleide persone te ontwrig. Niemand spring die invloed van tegnologie op die wêreldwye arbeidsmag vry nie. Professionele rekeningkundige persone kan egter gerus voel.
Hier’s die redes hoekom:
Selfs al blink KI en masjienleer uit in die verwerking van groot hoeveelhede data en die verskaffing van insigte, word dit beperk deur voorafbepaalde algoritmes. Dit het eenvoudig nie die menslike vermoë om kontekstuele nuanses te verstaan nie. Die menslike oordeel, kommunikasievaardighede en kritiese denke waaroor rekeningkundige professionele persone soos jy beskik, is afwesig by masjiene. Dié eienskappe is nodig om kliënte te help om die nuanses van hul uitdaging te verstaan en die mees logiese oplossing te bied.
Etiese oorwegings: KI beskik nie oor die vermoë om professioneel te kan oordeel en etiese oorwegings in ag te neem nie. Hierdie eienskappe is noodsaaklik om regulatoriese nakoming te verseker en finansiële integriteit te handhaaf.
Verhoudings: Interpersoonlike vaardighede en emosionele intelligensie is belangrike vereistes vir goeie interaksie met kliënte en KI kan ons dit nie nadoen nie. As rekenmeester bring jy ʼn magdom ervaring, strategiese denke en menslike oordeel na die tafel. Jy kan jou kliënt se unieke situasie verstaan, ander perspektiewe oorweeg, empatie toon en pasgemaakte oplossings bied. Statistieke toon dat die behoefte aan goeie raadgewers nooit sal verdwyn nie en dat mense steeds hul rekenmeester se raad en besluitneming vertrou bo dié van masjiene of robotte.
Aanpasbaarheid: As mense kan ons vinnig aanpas by onvoorspelbare scenario’s en unieke, komplekse situasies hanteer. Dink maar aan die Covid-pandemie. Daarteenoor kan KI moontlik sukkel om aan te pas by vinnig veranderende finansiële landskappe.
Slimtegnologie gaan wel die soorte werke beïnvloed wat in toekomstige rekeningkunde toeganklik sal wees. KI gaan die rekeningkundige beroep verander deur die outomatisering van data-invoer, opsporing van bedrog, verbeterde akkuraatheid en verskaffing van intydse insigte.
Volgens ʼn artikel op LinkedIn, kan ʼn mens daaglikse transaksies en eentonige boekhouwerk outomaties of met min betrokkenheid verrig deur gebruik te maak van masjienleer en kunsmatige intelligensie. Só kan rekenmeesters fokus op die dinge waar hulle werklik waarde kan toevoeg. Dinge soos die groei van hulle kliënte se besighede – advies, beplanning, beheer en bewusmaking van al die wetlike vereistes waaraan voldoen moet word.
Maar rekenmeesters kan dit slegs doen indien hulle seker maak dat hulle goed gekwalifiseerd is en goed gekwalifiseerd bly deur deurlopend hulle akademiese kennis op te skerp.
As ervare rekenmeester wat op die voorpunt van jou beroep wil bly, óf ʼn vooruitstrewende beginner, moet jy bewus wees van hoe die rekeningkundige beroep verander as gevolg van slimmer tegnologiese platforms.
Bemagtig jouself deur die volgende:
• KI en outomatisering te omhels. Só kan jy beter dienste aan jou kliënte lewer en jou firma laat groei. ʼn Goeie begrip van die saketoepassings van dié slimtegnologie is ook nodig.
• Te verstaan hoe jou beroep vanaf hoofsaaklik historiese verslagdoening en analise wegbeweeg na die verwagting en advies oor toekomstige tendense met behulp van voorspellingsmodelle. Dis van kritieke belang dat jy oor die nodige vermoëns beskik om die bestuurs- en analitiese werk te verrig wat tegnologie nie kan doen nie.
• Jy kan ook ʼn konsultasiediens aan kliënte lewer, wat beteken jy moet vaardig wees in die ontleding van groot hoeveelhede data om tendense en patrone op te spoor. Hiervoor is kennis van data-ontginning en datawetenskapstegnieke noodsaaklik.
•Omhels voortgesette leer. As rekenmeester sal jy moet aanpas en vaardighede opbou wat sal sorg dat jy relevant bly in die bedryf. Dit sluit in om op hoogte te bly van die jongste tegnologiese vooruitgang en die vaardige gebruik van KI-aangedrewe en outomatiseringsagteware. Daarom moet rekenmeesters ook sorg dat hulle praktiese ervaring verkry in opkomende tegnologieë soos blokketting, Robotiese proses-outomatisering (RPA), wolktegnologie en data-analise.
Ondanks alles moet jy onthou dat menslikheid – jou vermoë om empaties en deernisvol op te tree – die belangrikste bly. Etiese optrede sal jou as rekenmeester nuwe hoogtes laat bereik en só ook ander nuwelinge wat tot die professie toetree in staat stel om die leisels eendag oor te neem.
Oorweeg dit ook om deel te word van Solidariteit se Finansiesnetwerk, ʼn waghond wat brandpunte soos dié met werkbare oplossings takel. Dis ʼn beroepsnetwerk wat
daarop toegespits is om professionele persone wat dienste in die finansiële bedryf aanbied met mekaar in kontak te bring en só ook jong mense se loopbane te help groei.
Lede van Solidariteit verkry toegang tot beroepsnetwerke, soos die Solidariteit Finansiesnetwerk, wat jou in jou beroep ondersteun en beskerm. Hierdie netwerk vind jy op Solidariteit. Skep jou gratis profiel vandag nog en vind jou tuiste by Solidariteit.