Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Gamification: ʼn Slim nuwe hulpmiddel op Solidariteit se Studeerkamer
Deur Kyla-Ann du Toit
In ʼn moderne werkplek waar werknemerbetrokkenheid, produktiwiteit en welstand al hoe belangriker raak, moet werkgewers en mensehulpbronbestuur kreatief en innoverend dink.
Tradisionele opleidingsmetodes is nie meer genoeg om personeel werklik te motiveer en betrokke te hou nie. Daarom het Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling ʼn nuwe Gamification-hulpbron ontwikkel – ʼn gratis, praktiese hulpmiddel wat leer en ontwikkeling op ʼn vars, interaktiewe manier benader.
ʼn ‘Mini-kursus’ wat die hele span bemagtig
Die Gamification-hulpbron is ontwerp as ʼn mini-kursus wat gebruikers stap vir stap aan die konsep van gamification bekendstel. Dit is ʼn vrylik toeganklike hulpmiddel wat werkgewers én werknemers bemagtig met lekker, verstaanbare inligting oor hoe speel-elemente sinvol in die werkplek gebruik kan word. Deur middel van kort video’s en verduidelikings word die onderwerp op ʼn duidelike en toeganklike manier aangebied, sonder om dit te akademies of ingewikkeld te maak.
Die doel is nie om alles op een slag te leer nie, maar om gebruikers se nuuskierigheid aan te wakker en hul aan te moedig om verder te verken hoe gamification in hul eie werksomgewing toegepas kan word.
Waarom maak gamification in die werkplek saak?
Volgens Mandy-Michelle Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling, is dit vir enige onderneming noodsaaklik om nie net winsgewend te wees nie, maar ook strategiese doelwitte volhoubaar te bereik.
“As ʼn onderneming is jou doel om winsgewend te wees terwyl jy strategiese doelwitte bereik. Daarvoor moet jy as ʼn werkgewer of mensehulpbronbestuur verseker dat personeel goed opgelei is, bevoeg is om hul take (suksesvol) uit te voer en hul kennis en ervaring doeltreffend toe te pas. Werknemers se welstand moet produktiewe bydraes ondersteun, spanne moet goed saamwerk, en daar moet ʼn goeie en gesonde werkplekkultuur gevestig en gehandhaaf word,” sê sy.
Gamification bied ʼn praktiese manier om juis hierdie uitdagings aan te spreek deur werknemers aktief by leer en samewerking te betrek.
Meer as net speletjies speel
Hoewel die woord “gamification” dalk lig en speels klink, is dit ʼn doelgerigte metode met duidelike uitkomste. “Gamification is ʼn nuttige hulpbron in die werkplek wat vir jou op vele ander gebiede waardevol kan wees waar jy, deur verhoogde werknemerbetrokkenheid, nie net produktiwiteit kan verbeter nie, maar ook strategiese doelwitte kan bereik,” sê Thackwray.
Sy wys daarop dat werkskultuur deur gedrag, waardes en houdings gevorm word, en dat werknemers vandag toenemend verwag dat hul werkplek ʼn gesonde, genotvolle omgewing moet wees waar groei bevorder word. Gamification kan help om hierdie kultuur doelbewus te bou deur leer meer interaktief en betekenisvol te maak.
Speel, leer en werk saam
“Gamification is letterlik die speel van speletjies met ʼn spesifieke doel, duidelike reëls oor hoe die spel gespeel word, en belonings – soos punte of ander meganismes – wat spelers aanspoor om deel te neem en die kompetisie te wen,” sê Thackwray. “Die doel van gamification in personeelbestuur sal wees om personeel betrokke te kry om deur middel van spel met mekaar saam te werk en só interaksie en leer te bevorder. Navorsing toon dat gamification uitstekend is om werknemerbetrokkenheid binne organisasies te verbeter.”
Die Gamification-hulpbron op Solidariteit se Studeerkamer dien as ʼn beginpunt vir hierdie gesprek. Dit is ʼn eenvoudige, praktiese gids wat wys hoe klein veranderinge groot verskille in jou werkplek kan maak.
Ontdek die volle potensiaal van gamification
Wil jy meer leer oor hoe gamification jou werkplek kan verryk, werknemerbetrokkenheid kan verhoog en leer kan transformeer? Lees hier meer oor gamification en ontdek die skatkis van nuttige hulpbronne op Solidariteit se Studeerkamer.
Jy kan nou maklik en vinnig toegang kry tot al die hulpbronne wat Solidariteit bied op Solidariteit se app. Jou wêreld van werk was nog nooit so toeganklik nie! Laai die app gratis af vanaf die Google Play Store of die App Store.