loading
avatar
Artikels
2 jaar gelede
gebruik-nee-reg-in-die-werkplek

Foto Krediet: OkayDeer

Gebruik “nee” reg in die werkplek

Deur Liza Joubert

Die vermoë om “nee” te sê in die werkplek is dikwels ʼn uitdagende maar noodsaaklike deel van professionele ontwikkeling en selfsorg. As jong werkende kan dit moeilik wees om professionele grense te stel, maar jou dienskontrak sit jou verantwoordelikhede uiteen, en enigiets wat nie hiermee belyn is nie, moet jou op jou hoede plaas. Daarbenewens het jy ook die reg en verantwoordelikheid om versoeke wat as oneties beskou kan word, te weier.

Hier is ʼn paar voorbeelde hoe om professioneel “nee” te sê:

Wees reguit

In plaas daarvan om te sê “miskien” of “ek dink nie so nie”, wees reguit met jou antwoord. Maak seker die persoon wat die vraag aan jou vra, begryp dat jy nou en vir altyd “nee” sê. Wanneer jy iets sê soos “miskien later” of “miskien op ʼn ander geleentheid”, moet jy bedoel wat jy sê.

Gee ʼn alternatief

As jy as ʼn spanspeler by die werk gesien wil word, bied ʼn alternatief aan wanneer jy “nee” sê. Byvoorbeeld, as jou kollega jou hulp vra, maar jy is te besig, kan jy sê: “Jammer, nee. Ek is op die oomblik regtig baie besig met my eie take. As jy teen die einde van die week nog hulp nodig het, laat weet my asseblief. Ek kan dan my hulp aanbied.” Dit wys dat jy graag behulpsaam wil wees terwyl jy ook jou eie grense respekteer.

Handhaaf jou standpunt

Nadat jy “nee” gesê het, behou dit as jou finale antwoord. Indien jy toegee en jou antwoord na “ja” verander, sal mense voortdurend poog om jou te oortuig om dinge doen wat jy nie wil doen nie. Deur vasbeslote by jou antwoord te bly, sal jou kollegas en werkgewer verstaan dat hulle jou nie verder kan oorreed nie. Dit is reg om selfversekerd te voel oor jou besluit en om jou eie lewe te bestuur.

Gelukkig kan jou dienskontrak ʼn nuttige riglyn wees vir hoe om hierdie situasies te hanteer, terwyl hulpbronne soos beleid, mensehulpbronne (MHB) en arbeidsregsadvies verdere steun kan bied.

1. Die rol van jou dienskontrak

Jou dienskontrak is ʼn belangrike dokument wat jou regte en verantwoordelikhede as werknemer bepaal. Dit kan spesifiek aandui onder watter omstandighede jy die reg het om “nee” te sê, veral as dit met die vereistes van jou posisie, die maatskappy se beleide, of selfs die wet bots. Dit kan byvoorbeeld die reg insluit om te weier om werk te verrig wat buite van jou posbeskrywing val, of om te weier om aan ʼn projek deel te neem wat jou gesondheid en welstand in gevaar stel.

2. Beleid oor die reg om “nee” te sê

Sommige maatskappye het spesifieke beleide en prosedures wat werknemers die reg gee om in sekere situasies “nee” te sê. Dit kan gesondheids- en veiligheidsbeleide insluit, asook etiese riglyne of protokolle vir die omgaan met onaanvaarbare situasies. Dit is belangrik om jou maatskappy se beleide te bestudeer en te verstaan, en om jou regte ten opsigte van hierdie beleide te ken.

3. Wanneer om MHB se hulp in te roep

As jy in ʼn situasie beland waar jy voel dat jy die reg het om “nee” te sê, maar nie seker is hoe om dit te hanteer nie, kan dit ʼn goeie idee wees om jou maatskappy se mensehulpbronne-afdeling te raadpleeg. MHB kan jou advies gee oor hoe om die situasie op ʼn professionele en respekvolle wyse te hanteer, en kan moontlik interne prosedures of oplossings bied.

4. Wanneer om arbeidsregsadvies te kry

In ernstige situasies waar jou regte ernstig geskend word, of as jy voel dat jou veiligheid of welstand in gevaar is, kan dit nodig wees om die diens van ʼn arbeidsregkenner of prokureur in te roep. Arbeidsregkenners kan jou help om die saak regtens aan te spreek. Dit kan byvoorbeeld ʼn opsie wees as jy van mening is dat jou reg om “nee” te sê, herhaaldelik misbruik word, of as jy blootgestel word aan onaanvaarbare risiko’s of onetiese praktyke. Solidariteit se regsafdeling, waarskynlik die grootste arbeidsregpraktyk in die land, het ten doel om Solidariteit-lede teen onbillike arbeidsregpraktyke te beskerm. Sowat 90% van sake wat Solidariteit aanpak, word in die guns van ʼn lid beslis of geskik. Klik hier vir meer inligting oor hoe jy lid kan word en hierdie voordeel kan geniet.

Die vermoë om “nee” te sê in die werkplek is ʼn belangrike eienskap en reg wat elke werknemer moet uitoefen. Met ʼn goeie begrip van jou dienskontrak, maatskappybeleid, en die hulp van MHB en arbeidsregkenners waar nodig, kan jy selfversekerd optree wanneer jou grense in die werkplek oorskry word. Onthou altyd dat jou welstand en regte as werknemer belangrik is, en dat jy die reg het om ʼn gesonde werksomgewing te verwag.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel