loading
Artikels
2 jaar gelede
gemeenskapsfederalisme-is-die-antwoord-op-staatsentralisme

Foto Krediet: Okay Deer

Gemeenskapsfederalisme is die antwoord op staatsentralisme

Die Solidariteit Beweging se doel is om ʼn toekoms te help bou waarin die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig is. Hierdie model van ʼn beweging, instellings, selfbestuur en selfstandigheid kan ook beskryf word as gemeenskapsfederalisme. Eenvoudig gestel beteken dit dat die gemeenskap self verantwoordelikheid aanvaar en op die laagste vlak moontlik besluite neem. Lees hier meer oor federalisme.

Die staat aanvaar dus nie verantwoordelikheid vir ons toekoms nie want #OnsSalSelf die verantwoordelikheid daarvoor neem.

Dít is vryheid. Vir ons en ons kinders is dit ʼn bevrydende gedagte om te dink dat ons sélf verantwoordelikheid vir ons toekoms kan neem.

Fondament 1: Selfstandige instellings

Gemeenskapsinstellings vorm die eerste fondament van gemeenskapfederalisme. Omdat dit ʼn vorm van federalisme is wat sy gesag deur die gemeenskap kry en nie deur die staat nie, moet die gemeenskap eie instellings bou wat die gemeenskap self kan bestuur. Selfstandige instellings is dus noodsaaklik sodat ons plan kan werk.

ʼn Gemeenskap leef deur sy instellings. Instellings en konsentrasie loop hand aan hand. Om ʼn skool, universiteit, tegniese kollege, veiligheidstruktuur, beroepsnetwerk en dies meer in ʼn ankergemeenskap te bou, stimuleer juis ʼn groter konsentrasie van getalle.

In die groter Solidariteit Beweging is daar reeds selfstandige instellings op die gebied van werk, opleiding, skole, burgerregte, veiligheid, munisipale infrastruktuur, maatskaplike gemeenskapsontwikkeling, landbou, media, kultuur, besigheidsontwikkeling, finansiële dienste, eiendomsontwikkeling en stadsbou.

Die Solidariteit Beweging staan ʼn federale model voor as plan vir die toekoms en pas dit ook in eie geledere toe.

Dit beteken dat die verskillende instellings selfstandig is en hul eie besluite neem. Die instellings van die Beweging is dus daarvoor verantwoordelik om hulself te bestuur.

Die instellings staan egter nie los van mekaar nie, maar staan in verbondenheid aan mekaar.

Al die instellings is daartoe verbind om ʼn toekoms te help bou waarin die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika is.

Alhoewel die instellings van die Solidariteit Beweging die primêre drywer van die instellingstrategie van die federale plan, is daar ook talle mooi verhoudinge met ander instellings in die Afrikanerkultuurgemeenskap en Afrikaanse taalgemeenskap.

Ons glo aan veelheid en nie bloot aan eenheid in ons gemeenskap nie.

Fondament 2: Konsentrasie

Bevolkingskonsentrasie vorm die tweede fondament van gemeenskapfederalisme. Flip Buys skryf in sy boek Die pad na selfbestuur dat Afrikaners se probleem is dat hulle so yl versprei is. Om ʼn skool te kan bou, ʼn universiteitskampus te vestig, veiligheidstrukture te skep, beroepsnetwerke daar te stel, nuwe gesondheidstelsels te vestig en meer, word ʼn kritieke massa Afrikaners benodig. Hoe meer gekonsentreer, hoe groter die selfstandigheid, vryheid, veiligheid en voorspoed.

Gemeenskapskonsentrasie stel ʼn kritieke massa daar om ʼn groter mate van selfstandigheid te bewerkstellig. Konsentrasie maak dit moontlik om kulturele infrastruktuur deur organisasies en instellings te vestig. Hoe meer gekonsentreer, hoe beter georganiseer.

Konsentrasiepunte neem drie vorms aan: ankerdorpe (waarbinne daar selfs verskillende ankergemeenskappe kan wees), stedelike gebiede (waarvan Pretoria, die Oos-Rand en die Wes-Kaap die grootste is) en ankergebiede waar Afrikaners in die meerderheid is en self regeer (Orania is die beste voorbeeld hiervan).

In die lig van die komplekse aard van Suid-Afrika en die verspreiding van Afrikaners, rus daar verskillende pilare op hierdie fondament, naamlik landswye ankergemeenskappe, die Pretoria- kulturele kanton, groeiende outonomie van die Wes-Kaap, die Orania-kanton en die internasionale kanton vir Afrikaners en vriende wêreldwyd.

Die woord “kanton” word hier gebruik omdat ʼn kanton internasionaal erken word as ʼn gedeelte van ʼn land waar daar ʼn groot mate van selfstandigheid is. Die Switserse kantonstelsel is die bekendste voorbeeld hiervan. Wat wel in die konteks van die federale plan van die Solidariteit Beweging anders is, is dat ʼn kanton in sy klassieke vorm deur die staat erken word. In ons konteks kan daar egter gepraat word van ʼn gemeenskapskanton waar ʼn spesifieke werklikheid deur die gemeenskap op die grond geskep word ongeag staatserkenning. Die vestiging van so ʼn werklikheid kan wel later tot erkenning lei.

Fondament 3: Wedersydse erkenning en respek en ʼn netwerk van kultuur- en ander gemeenskappe

Die derde fondament van gemeenskapfederalisme word gevorm deur wedersydse erkenning en respek. Suid-Afrika is ʼn diverse gemeenskap wat uit verskillende soorte gemeenskappe bestaan. Hierdie diversiteit moenie ontken word nie, maar moet erken en gerespekteer word. Ons is nie alleen in Suid-Afrika nie en ons wil nie onsself isoleer nie.

Suid-Afrika is nie bloot een groot nasie van Suid-Afrikaners nie. Die werklikheid is dat Suid-Afrika ʼn gemeenskap van gemeenskappe is. Die Solidariteit Beweging wil hierdie rykdom van kulturele en ander gemeenskappe herontdek en bande met mekaar bou.

Die Solidariteit Beweging en Solidariteit moet op verskillende vlakke in interaksie tree met verskeie ander gemeenskappe en belangegroepe, soos in die werkplek met ander vakbonde, met werkgewers, werkgewerorganisasies, bedingingsrade en dies meer. Ons het ook verskeie soorte politieke verhoudinge. Suid-Afrika is egter ook ʼn gemeenskap van kultuurgemeenskappe.

Ons uitgangspunt is dat ons aan die een kant die Afrikanerkultuurgemeenskap moet bind, maar dat ons terselfdertyd ook brûe moet bou. Dit doen ons vanuit wedersydse erkenning en respek.

Ons voorsien dat die toekoms nie sentraal bestuur gaan word nie, maar plaaslik deur verhoudinge tussen gemeenskappe te bou en te handhaaf. Die kern is dat ons mekaar moet erken en respekteer.

Onderliggend aan die idee van die Solidariteit Beweging en sy instellings is dus ʼn politieke model van gemeenskapsfederalisme wat op drie pilare gevestig is, naamlik selfstandige instellings, konsentrasie en wedersydse erkenning en respek, waardeur Afrikaners vry, veilig en voorspoedig wil wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel