Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Generasie Z – Jou Boomer-baas verstaan jou nie
Elke generasie is bekend vir spesifieke stereotipes. Baby boomers (ons oumas en oupas) is deel van ʼn ekonomies invloedryke demografie, terwyl Milleniërs en ons (Generasie Z) bekend is vir ons vertroudheid met moderne tegnologie en die tyd wat ons aanlyn spandeer.
Generasie Z – Waarheen is ons op pad?
Ons as Generasie Z sal volgens die ouditeursfirma Deloitte binnekort Milleniërs verbysteek as die getalrykste generasie op aarde, met meer as een derde van die wêreld se bevolking wat hulself as Gen Z tel. In die VSA maak ons reeds meer as ʼn kwart van die bevolking uit, en ons mede-Generasie Z-mense is moontlik reeds die mees diverse generasie in daardie groot land se geskiedenis.
In watter tydperke val die verskillende generasies?
- • Die Stille Generasie: gebore 1928-1945
- • Baby Boomers: gebore 1946-1964
- • Generasie X: gebore 1965-1980
- • Milleniërs: gebore 1981-1996
- • Generasie Z: gebore 1997-2012
Daar is egter ʼn paar dinge wat dit spesiaal maak om deel van ons generasie te wees. Ons is deel van die eerste generasie wat nie ʼn wêreld sonder die internet ken nie. Ons het nog nooit ʼn foon met ʼn koord besit nie en het geen idee wat ʼn “floppy disk” is nie.
Behalwe vir televisieprogramme soos Friends maak die 90’s vir ons glad nie sin nie. ʼn Lewe sonder soveel dinge? Hoe het die Milleniërs dit oorleef?
Ons is bederf met apps soos Spotify en duisende ander wat daagliks ons lewe makliker en geriefliker maak. Ons het geen nut vir telefoongidse nie en het nie nodig om daarin te gaan rondblaai om die bure se telefoonnommer te vind omdat ons die rugbybal op hulle dak geskop het nie. Trouens, ons speel rugby of ander aanlyn speletjies veel eerder op die Playstation of Xbox.
Ons weet dalk nie wat kassette, ʼn Walkman of M-Net-oopkyktyd is nie, maar as generasie staan ons op die punt om die wêreldverhoog te betree. Die impak wat jy, jou vriende, nuwe kollegas – ons – op die wêreld van werk gaan hê, sal diepgaande wees, en ons invloed sal alle sfere van die lewe oorspoel. Volgens mense wat reeds jare lank in die werkplek werksaam is, is die perspektief wat ons op die werkplek en ons onderskeie loopbane het, heeltemal uniek. Die sukses wat ons in die lewe bereik, sal ʼn invloed op die arbeidsmag hê wat alles sal herdefinieer.
Dit is egter nou tyd dat ons die wêreld van werk vra of hulle gereed is vir ons as Generasie Z. Om die uitdagings wat die arbeidsmag in die gesig staar beter te verstaan, asook die impak wat hierdie uitdagings op werkgewers en die werkplek het, is dit belangrik dat ons aan ondernemings verduidelik hoe ons as generasie gevorm is. Die onderskeie ondernemings in Suid-Afrika en oral ter wêreld moet weet wat en hoe ons optrede is, wat ons houding teenoor die werkplek is en wat ons voorkeure is sodat die mites en stereotipes van die werklikheid geskei kan word.
Die werkplek het verander
Histories gesproke is mense se eerste werk as hul “rite of passage” beskou, oftewel die oorgang na die nuwe lewensfase van werk. Dit het ook beteken dat werknemers in die verlede heel onder begin het en die loopbaanleer stelselmatig begin klim het. In dié tydperk het werknemers nuwe vaardighede in die werkplek aangeleer en geleer hoe dinge in praktyk werk. Daar is gewoonlik ook met groot skok agtergekom dat jy nie oornag die leer tot heel bo gaan klim nie, al wil jy ook hoe graag. Hierdie manier van doen is egter besig om te verander. Tegnologiese gedrewenheid en outomatisering het daartoe gelei dat baie herhalende take uitgeskakel word.
Die wêreld van werk het eenvoudiger en terselfdertyd meer kompleks geraak. Waar daar voorheen meer as een persoon nodig was om sekere take uit te voer, het tegnologie en die gebruik van moderne masjinerie tot gevolg dat minder mense daarvoor benodig word. Vandag is dit egter baie belangriker om te weet hoe al hierdie moderne tegnologie werk sodat jy die één persoon kan wees wat nie so maklik vervangbaar is nie. Dit beteken egter ook dat die mededinging vir goeie werk straf is en dat jy werklik moet uitblink om raakgesien te word.
Generasie Z het daartoe bygedra dat die werkplek en veral die kleredrag minder formeel geword het. Ons het gesorg vir daslose hemde en dat Levi’s nie slegs meer oor naweke gedra word nie – dankie daarvoor! Informele Vrydae, oftewel “casual Fridays”, het nou sommer ʼn alledaagse verskynsel geword.
Elke generasie is van mening dat hulle intelligenter is as die een wat voor hulle was, en wyser as die een wat ná hulle kom – George Orwell
Die mites en stereotipes oor Generasie Z
Net soos ons die ouer gardes stereotipeer, bestaan daar ook stereotipes en mites oor ons generasie wat ons almal oor dieselfde kam skeer. Van die algemeenste mites en stereotipes oor Generasie Z sluit die volgende in:
- • Ons is afhanklik van tegnologie.
- • Ons wil nuwe avonture ervaar en nie net goed koop nie.
- • Ons is minder lojaal teenoor handelsmerke.
- • As die eerste digitale generasie verkies ons digitale kommunikasie bó interaksies van aangesig tot aangesig.
- • Ons is moeiliker om as ʼn gehoor te bereik weens ons kort aandagspan van net agt sekondes.
- • Ons is gefokus op egtheid in ʼn handelsmerk.
Wat het Generasie Z gevorm?
Hoewel sekere aspekte wat deel vorm van ʼn wêreldwye impak, soos die ekonomiese depressie wat vanaf 2007 tot ongeveer 2016 geheers het, ook ʼn impak op Suid-Afrika se Generasie Z gehad het, kan die vorming van ons generasie in die Suid-Afrikaanse konteks moontlik verskil van lande soos die VSA.
Ons is ná 1994 gebore en staan bekend as die “born free”-generasie. Ons sien wat die uitwerking van diskriminasie teenoor wit mense in die werkplek en die gevolge van kwotastelsels is omdat ons self daaronder ly. Ons het in ʼn “nierassige” stelsel grootgeword waarin dit normaal is om op skool en universiteit klasmaats van verskillende rasse en agtergronde te hê, wat anders is as dit waaraan ons ouers blootgestel is. Dit het die verwagting by ons geskep dat dit in die werkplek ook so behoort te wees.
Ons weet slegs van die hartseer geskiedenis van Apartheid deur die geskiedenislesse wat ons op skool geleer is en wil graag in ʼn nierassige Suid-Afrika woon waar almal vry, veilig en voorspoedig kan leef.
Ons het ook gesien wat finansiële druk aan ons ouers doen en neem daarom finansiële besluite op ʼn ander wyse soos om nie ʼn huis te koop nie. Ons is ook meer daartoe verbind om verhoudings met vriende te vorm as wat ons is om slegs op ons loopbane te fokus. Ons is egter meer aktivisties in sekere opsigte en steun graag bewegings wat daarop gemik is om ʼn verskil te maak, soos om die aarde van aardverwarming te red. Ons het ons stem as generasie ontdek – die omgee-generasie wat die wêreld van môre wil verander.
Is Generasie Z werklik “so anders” as vorige generasies?
Werkgewers sal wys wees om hulle nie aan die mites en stereotipes te steur nie. Volgens ʼn verslag wat deur Deloitte saamgestel is, is ons nie soveel anders as vorige generasies nie. Die verskil lê egter daarin dat ons die werkplek op ʼn heel ander manier benader. As Generasie Z verpersoonlik ons ons benadering tot werk, en vereis ons dieselfde van ons werkgewers. Hierdie verpersoonliking sal ons generasie nie net na maatskappye lok waar ons ons diverse vaardighede kan toepas om met werkbare oplossings vorendag te kom nie, maar dit kan ook die samelewing bevoordeel wanneer ons ook betrek word.
Maatskappye moet dink – en voorberei – om ons as ʼn groep mense in die groot talentpoel op te raap. Poste moet herontwerp sodat ons ons plek kan inneem om op ons unieke wyse ʼn verskil te maak.
Pasop, Boomer, Generasie Z is hier!
Sluit aan by jou grootste aanlyn werkgemeenskap! Skep jou gratis profiel op Solidariteit en bly aan die voorpunt van jou loopbaanontwikkeling waar verskeie generasies met mekaar kan saamwerk om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms te bou!