
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Geregtigheid vir logistieke bestuurder wat van oneerlikheid beskuldig is
Deur Heléne Mocke
Die reputasie van ʼn werknemer van ʼn logistieke onderneming in Springs is danksy Solidariteit se ingryping herstel ná sy werkgewer hom valslik van oneerlikheid en wangedrag beskuldig het.
Hierdie depotbestuurder van Imperial Logistics is trouens geskors kort nadat hy sélf by die onderneming se mensehulpbronne-afdeling gekla het oor dreigemente wat hy van ʼn kollega onder sy bestuur ontvang het.
Maar pleks van optrede van die werkgewer om sy situasie te verbeter en die dreigemente te ondersoek, is hy sélf van wangedrag beskuldig.
Die beweerde aantygings teen die depotbestuurder was teenstrydig met die wyse waarop hy asook ander kollegas die gebeure beskryf het. Hy moes nietemin ʼn poligraaftoets aflê, maar tot sy verbasing het hy dit nie geslaag nie.
Hy is toe deur sy werkgewer geskors.
Solidariteit het die saak namens die geskorste werknemer hanteer en daarop aangedring dat die regte proses gevolg moet word. Die kommissaris van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het bevind die aantygings en poligraaftoets van die depotbestuurder was nie voldoende bewyse nie en dat hy hom dus nie aan oneerlikheid of wangedrag skuldig gemaak het nie.
Die bestuurder kon dus sy werk hervat. Volgens Solidariteit is hierdie saak onder tientalle gevalle in 2024 waar die vakbond ingetree het om lede van afdanking te red.
“Dit is jammer dat so iets ons lid moes oorkom, maar ons is bly geregtigheid kon seëvier en dat ons lid na sy posisie kon terugkeer. Dit gebeur te gereeld in die werkplek dat werknemers uit magteloosheid onbillike optrede gelate aanvaar.
“Gelukkig kon hierdie lid op sy Solidariteit-lidmaatskap en op sy regte staatmaak en het geregtigheid geskied,” sê Hennie Myburgh, ʼn litigant by Solidariteit.
Die lid het sy dankbaarheid teenoor Solidariteit uitgespreek en gesê hy hoop die werksverhoudinge met die werkgewer, en spesifiek die kollega, kan in die toekoms verbeter.