Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Gesondheidsorg: Om te kies tussen onbekostigbaar en onleefbaar
Deur Heléne Mocke
Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel verkeer in ʼn al hoe groter krisis, met burgers wat tussen dikwels onbekostigbare privaat gesondheidsorg en wanbestuurde staatsdienste vasgevang is. Hierdie probleme het tot gevolg dat burgers toenemend sukkel om toegang tot gehalte-gesondheidsorg te kry.
Peirru Marx, netwerkkoördineerder by Solidariteit, het onlangs tydens ʼn onderhoud op Pretoria FM gesê die leemtes in die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel plaas toenemend druk op mense van alle agtergronde.
“Hoewel privaat gesondheidsorg mediese sorg van puik gehalte lewer, is dit vir die meeste mense buite bereik,” sê Marx. “Diegene wat wel op privaat sorg wil staatmaak, gaan onder die hoë kostes daarvan gebuk.”
Hierdie sektor bly slegs toeganklik vir mense wat kan kies om mediese dekking te kry, maar selfs hierdie individue moet toenemend uitdagings trotseer. Volgens ʼn berig op Netwerk24 bied mediese fondse ook al hoe minder voordele vir betalende lede, wat beteken dat lede groter bybetalings moet maak om toegang tot basiese mediese dienste te kry. Dit lei tot ʼn situasie waar baie gesinne nie meer in staat is om voldoende sorg te bekostig nie, selfs al het hulle ʼn mediese fonds.
Aan die ander kant is die situasie met staatsfasiliteite natuurlik veel erger. Staatsgesondheidsorgdienste sukkel om voldoende sorg aan pasiënte te verskaf, met hindernisse soos lang wagtye, onvoldoende personeel en ʼn tekort aan mediese toerusting wat deel geword het van die daaglikse ervaring vir staatsorggebruikers.
Marx het verduidelik hoe wanbestuur in die openbare sektor ʼn ernstige krisis veroorsaak, wat lei tot swak sorg en ʼn gebrek aan hulpbronne.
“Pasiënte wag dikwels ure, soms dae, vir basiese behandelings, en baie van die land se staatsinstellings het nie die vermoë om die pasiëntlading te hanteer nie,” sê hy.
In reaksie op dié benarde situasie het Solidariteit ʼn alternatiewe plan vir die regering se voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) saamgestel wat hy binnekort bekend gaan maak. Marx sê die NGV, soos dit tans daar uitsien, is glad nie ʼn volhoubare oplossing nie. Volgens hom sal die NGV eerder verdere druk op ʼn reeds sukkelende stelsel plaas, aangesien die nodige bestuursvaardighede en hulpbronne ontbreek om dit doeltreffend te implementeer. Solidariteit glo dat die NGV die bestaande probleme sal vererger, eerder as om dit op te los.
Wat nodig is, is beter bestuur in die staatsgesondheidsorgsektor, asook ware bekostigbaarheid in privaat gesondheidsorg. Dus is ’n goeie of beter balans van kardinale belang. Deur die standaard van staatsgesondheidsorg te verhoog en privaat gesondheidsorg meer toeganklik te maak, hoop Solidariteit op ’n gesondheidsorgstelsel wat alle Suid-Afrikaners sal baat. Skakel op 8 Oktober om 11:00 hier in vir die bekendstelling van die NGV-alternatief.