loading
Artikels
2 dae gelede
goodyear-fabriek-sluit-na-78-jaar-en-die-regering-sit-arms-gevou

Foto Krediet: Pexels

Goodyear-fabriek sluit ná 78 jaar en die regering sit arms gevou

Deur Kyla-Ann du Toit

Die regering se onvermoë om hul verantwoordelikhede na te kom, weerspieël in die uitdagings wat talle werkgewers in die gesig staar.

Die Goodyear-bandefabriek in Kariega, Oos-Kaap, het op 15 Augustus 2025 sy deure gesluit ná byna agt dekades van vervaardiging. Dié besluit laat meer as 900 werknemers werkloos en tref die Nelson Mandelabaai-metro se ekonomie hard.

Volgens ʼn finale skikkingsooreenkoms tussen die fabriek en vakbonde, insluitend Solidariteit en Numsa, sal elke werknemer ʼn aflegging-skeidingspakket ontvang wat uit vier weke se salaris vir elke diensjaar, ʼn kontantbedrag van R100 000, hul volle 2025-bonus en hul Augustus-salaris bestaan.

Willie Venter, adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieurswesebedryf by Solidariteit, beskryf dit as “ʼn astronomiese skikking”.

“Ek het nog nooit ʼn aflegging-skeidingspakket van só ʼn aard gesien nie. Ek is baie dankbaar vir ons lede en die ander werknemers, want dit beteken hulle het ten minste ʼn mate van finansiële stabiliteit totdat hulle weer werk kan kry.”

Goodyear het verduidelik dat die besluit deel van ʼn internasionale herstrukturering van sy vervaardigingsaanlegte is en dat die Kariega-aanleg nie meer kostedoeltreffend produseer nie. Insetkoste soos elektrisiteit, Transnet-vervoer en hantering het grootliks bygedra tot die ondoeltreffendheid om teen goedkoop ingevoerde bande te kompeteer. Die regering se onvermoë om die storting van goedkoop bande te verhoed, is ook as groot bydraende faktor gelys.

Venter meen die redes is egter nie uniek aan Goodyear nie. “Goodyear was deel van vier bandevervaardigers in Suid-Afrika wat oor tyd meer met die globale bandemark moes kompeteer, veral teen lande uit die Ooste, insluitend China en Indië. Ingevoerde bande uit hierdie lande word teen ʼn baie groter skaal vervaardig, wat die koste van produksie laat afneem. Ander insetkoste is heelwat laer as in Suid-Afrika en word dikwels deur die staat gesubsidieer. Dit is nie die geval vir plaaslike bandevervaardigers nie, en dus plaas dit geweldige druk op hulle.”

Solidariteit is bekommerd dat Goodyear se uittrede net die begin is. “Ander vervaardigers staar dieselfde uitdagings in die gesig. As een fabriek ná 78 jaar sluit, plaas dit die hele bedryf onder die vergrootglas,” waarsku Venter.

Volgens hom lê baie van die probleme by die regering se onvermoë om beleid en regulasies doeltreffend toe te pas. “Goedkoop bande wat ingevoer word, word swak gemonitor. Tariewe word ingestel, maar dit is reaktief en word nie deurlopend gereguleer nie. Die plaaslike ekonomie groei ook nie vinnig genoeg om volhoubare plaaslike vervaardiging moontlik te maak nie. Ekonomiese groei is in die regering se hande, maar ons sien eenvoudig nie dat hulle enigiets doen om die uitdagings die hoof te bied nie.”

Benewens die direkte verlies van meer as 900 poste, gaan die sluiting ook ʼn wyer impak op produk- en diensverskaffers hê. “Jy sluit een aanleg, maar die gemeenskap rondom hom kry ook seer. Daar is dus ʼn rimpeleffek: die plaaslike ekonomie kry baie swaar, kontrakteurs verloor werk en verskaffers verloor inkomste. Die totale verlies gaan baie groter wees as net die werknemers by Goodyear,” sê Venter.

Hoewel hy tevrede is dat werknemers ʼn baie goeie skeidingspakket ontvang het, meen hy dit dui op die desperaatheid van die vervaardiger om uit Suid-Afrika te onttrek. “Dit is ʼn rooi lig vir beleggers. As ʼn internasionale vervaardiger só ʼn groot skeidingspakket betaal om hul deure te sluit, wys dit hoe onseker hulle oor die volhoubaarheid van hul aanlegte in Suid-Afrika is.”

“Ons is bekommerd oor die onvermoë van die regering om ekonomiese groei en volhoubaarheid te bewerkstellig, en dat die effek daarvan duidelik sigbaar by vervaardigers oor alle bedrywe is, terwyl die regering met hulle arms gevou sit. Buitensporige elektrisiteitstariewe, hoë vervoerkoste en die storting van goedkoop ingevoerde produkte soos bande en staal is realiteite wat ons regdeur die vervaardigingsektor oor verskeie industrieë waarneem.

Buiten Goodyear is daar talle voorbeelde van voorheen suksesvolle maatskappye soos Samancor, Glencor en ArcelorMittal wat onder geweldige druk verkeer, waarvan laasgenoemde se terugslae direk tot die sluiting van die Beeshoek-myn bydra. Die sluiting van hierdie maatskappye gaan tot geweldige werkverliese lei. Dit lê eenvoudig net voor die regering se deur. Dit is húlle verantwoordelikheid om elektrisiteit, vervoer, tariewe en invoere te reguleer, maar daar gebeur eenvoudig net niks nie.”

Hy waarsku dat die regering se onvermoë om die ekonomie te stimuleer en die bedryf te beskerm, ʼn reusegevaar vir die hele vervaardigingsektor inhou.

“As een aanleg ná amper agt dekades sluit, wie is volgende? Die regering se apatiese houding is kommerwekkend. Dit behoort ʼn groot waarskuwing te wees dat ons werkloosheidsyfer nie net hoog is nie, maar nóg meer astronomies kan word.”

Die sluiting van Goodyear laat nie net ʼn gaping in die plaaslike bandebedryf nie, maar beklemtoon ook groter strukturele probleme wat die breër vervaardigingsbedryf bedreig. Sonder die regering se dringende ingryping kan verdere sluitings en verdere groot werkverliese volg.

Solidariteit is tans besig om statistiek saam te stel en in formele versoeke vir dringende ingryping aan die regering te rig.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Soortgelyke artikels

similar article avatar

Bogger die ANC, ek bly!

Nuus
21 Augustus 2025