loading
Artikels
1 dag gelede
staan-jy-voor-n-kruispad-in-jou-loopbaan

Foto Krediet: OkayDeer

Staan jy voor ʼn kruispad in jou loopbaan?

Deur Liza Joubert

Daar is min dinge só frustrerend soos om tussen twee loopbaanrigtings vasgevang te wees. Die een pad lok jou met sekerheid en stabiliteit, die ander roep jou met passie en moontlikhede. Hoe besluit ʼn mens watter een die paadjie is wat jy moet volg?

Nie net jongmense staar hierdie dilemma in die gesig nie; dit is ewe relevant vir werkendes wat dalk oorweeg om van loopbaan te verander, hulself verder op te lei of heeltemal iets nuuts aan te pak. Of jy nou 18 of 38 is, hierdie keuse kan jou hele toekoms vorm en jou hele lewe verander. Dit is hoekom jy die besluit nie op grond van vrees of gemak moet maak nie, maar deur ʼn deeglike oorweging moet doen van verskeie faktore en alles met mekaar vergelyk.

1. Vergelyk die inhoud van die beroepe

Wat doen iemand in daardie beroep werklik elke dag? Doen moeite om met iemand in die veld te gesels en uit te vind hoe ʼn dag in die lewe van so ʼn persoon lyk. Dalk hou jy van die idee van bemarking, maar minder van die administratiewe gedeelte daarvan – dan moet jy dalk liewer kyk na ʼn kreatiewer veld soos grafiese ontwerp. Verstaan die werklikheid agter die postitel.

2. Oorweeg salaris en werksekerheid

Dit is nie materialisties om aan jou inkomste te dink nie, dit is verantwoordelik. Vergelyk nie net begin salarisse nie, maar kyk na groei- en bevorderingsgeleenthede. Bied die beroep werksekerheid in ʼn veranderende wêreld, of is dit onder druk van tegnologie en outomatisering?

3. Pas dit by jou belangstellings en waardes?

Gebruik hulpmiddels soos die belangstellingsbepaler om te kyk wat by jou pas. Jou belangstellings, lewenswaardes en selfs persoonlikheid speel ʼn groot rol in jou beroep en wat vir jou vervulling gaan bring. Is jy ʼn helper of ʼn bouer? ʼn Denker of ʼn doener? Moenie ʼn beroep kies wat net status bied nie; kies die een waar jy jouself sien groei.

4. Moenie in jou gemaksone bly nie

Dit is maklik om die pad van minste weerstand te kies – veral as jy al ervaring in een rigting het. Ware groei kom wanneer jy jou eie grense toets. Vra jouself: Wat gaan my oor vyf jaar trots laat voel? Wat gaan my laat groei? Gaan ek tevrede voel met wat ek doen?

5. Kry ondersteuning – jy hoef nie alleen te kies nie

Solidariteit biedmentorskap, CV-hulp, regsadvies en aanlyn kursusse aan – of jy nou net begin werk of ʼn nuwe rigting wil inslaan. Dit is maklik om verlore te voel tussen al die opsies, maar met die regte ondersteuning word jou pad duideliker. As lid van Solidariteit kry jy toegang tot al hierdie hulpbronne en soveel meer!

Kies met visie

Uiteindelik moet jou besluit ʼn kombinasie wees van logika en intuïsie. Jy wil nie net ʼn beroep hê waarin jy oorleef nie, maar waar jy kan floreer. Jou loopbaan is nie net ʼn werk nie, dit is deel van jou identiteit, jou roeping en jou bydrae tot die wêreld.

Sluit aan by jou grootste Afrikaanse aanlyn werkgemeenskap en sien watter geleenthede moontlik daarbuite vir jou wink! Klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel