loading
avatar
Artikels
21 uur gelede
groei-bly-risiko-ondanks-ligpunte-in-godongwana-se-mediumtermynrede

Foto Krediet: ChatGPT

Groei bly ʼn risiko, ondanks ligpunte in Godongwana se mediumtermynrede

Deur Robin-Lee Maré

Die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring wat Enoch Godongwana, minister van finansies, op 12 November 2025 gelewer het, trek ʼn duidelike lyn tussen voor- en nadele in ʼn ekonomie waar elke persentasiepunt groei van kritieke belang is.

Alhoewel die minister ʼn meer stabiele fiskale prentjie skets en verbeterde infrastruktuurplanne voorhou, bly die vraag of dit genoeg is om Suid-Afrika se groeiende krisis te breek.

Die verklaring bied ʼn mate van hoop, danksy verbeterde elektrisiteitsvoorsiening en die vinnige toename in privaat treinoperateurs, maar die groter prentjie wys steeds ʼn ekonomie wat teen ʼn muur vaskyk.

“Ons kan nie met ʼn groei van 1,2% tevrede wees en dan weier om rentekoerse te verlaag nie,” waarsku Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Ekonomiese groei vasgevang tussen inflasie en rentekoerse

Volgens Du Buisson bied laer inflasie wel verligting vir huishoudings, maar hy beklemtoon dat rentekoerse min met Suid-Afrika se inflasiedruk te doen het.

“Hoër koerse sal eerder groei inperk en werkloosheid hemelhoog hou, soos dit tans is,” verduidelik hy.

Hy meen die land kan nie groei aanjaag terwyl dit steeds aan strenger rentekoersmaatstawwe vasklou nie.

Die langertermyn-inflasieteiken is belangrik, maar Du Buisson waarsku dat korttermyn- ekonomiese werklikhede nie geïgnoreer kan word nie.

“Ek twyfel of Suid-Afrika werklik gereed is om inflasie bo ekonomiese groei te prioritiseer,” sê hy.

Ligpunte: Skuldvlakke en privatisering van infrastruktuur

Een van die min positiewe aspekte uit die verklaring is dat die land se skuld-tot-BBP-verhouding nie vanjaar verder styg nie. Du Buisson beskryf dit as ʼn welkome afwyking van die tendens van die afgelope dekade.

Nog ʼn sterk punt is die minister se erkenning van die rol van die privaat sektor in infrastruktuur. Die feit dat daar reeds elf privaat treinoperateurs aktief is, word as ʼn groot stap vorentoe gesien.

“Hopelik brei dit uit en kan Suid-Afrika die logistieke krisis oorkom. In beide is die privaat sektor deurslaggewend en dit is goed dat die minister dit besef,” sê Du Buisson.

Eskom herstel – maar Transnet bly ʼn groot risiko

Du Buisson verwelkom die herstel by Eskom en die verbetering in elektrisiteitsvoorsiening. Dieselfde kan egter nie van Transnet gesê word nie.

Volgens Du Buisson is die vordering by Transnet hopeloos te stadig, en moet die privatisering van logistiek, hawens en spoorvervoer dringend versnel word om die ekonomie werklik te laat asemhaal.

NGV: Minister waarsku teen ʼn aanval op die middelklas

Hoewel die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie in die formele toespraak genoem is nie, het Godongwana sterk standpunt ingeneem oor die befondsing daarvan in sy voorafgaande media-inligtingsessie.

“Hy het sy kommer uitgespreek oor die voorstel om mediesefondsbelastingkrediete te skrap. Volgens hom sal dit juis die middelklas tref – dieselfde groep wat die grootste deel van persoonlike inkomstebelasting dra,” sê Du Buisson

Volgens Du Buisson kan daar met reg gesê word dat die minister se duidelike teenkanting teen hierdie NGV-befondsingsvoorstelle grootliks te danke is aan die volgehoue druk van Solidariteit en ander burgerlike organisasies, wat lank reeds waarsku dat die NGV die middelklas finansieel sal straf en die staat se grootste belastingbasis sal ondermyn.

Du Buisson verduidelik verder, as mens na die beleidsdokument self kyk, dat die Tesourie steeds soortgelyke toegewings maak as in die verlede. Hy meen dit dui daarop dat die implementering van die NGV van die Tesourie se kant af nie binnekort op hande is nie.

“Die minister se verklaring bied dus ʼn mengsel van stabiliteit en onsekerheid: ʼn beter fiskale posisie en groeiende privaatsektorbetrokkenheid aan die een kant, maar ʼn ekonomie wat steeds deur lae groei, hoë werkloosheid en infrastruktuurtekorte teruggehou word,” sê hy.

As die land werklik groei wil ontsluit, waarsku Du Buisson, sal daadwerklike strukturele hervormings en ʼn meer groeigerigte monetêre benadering nodig wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel