Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Werklikheid oor NGV dring deur tot tesourie, maar nie Departement van Gesondheid
Solidariteit skep moed uit die skynbare realiteitsbesef oor die onbekostigbaarheid van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat in die jongste mediumtermynbegrotingsrede weerspieël word.
In die onlangse begrotingsrede van minister van finansies, Enoch Godongwana, is dit duidelik gemaak dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ten minste nie in die volgende drie jaar geïmplementeer sal word nie.
Solidariteit het ook ʼn skrywe van die Departement van Gesondheid se regspan ontvang wat ontken dat hulle met enige vorm van implementering van die NGV besig is.
“Solidariteit is steeds vol vertroue dat ons regstryd teen die NGV suksesvol sal wees. Om enige geld op hierdie skema te spandeer sal daarom vrugteloos en ʼn totale vermorsing van belastinggeld wees.
“Die NGV gaan nooit gebeur nie en geld moet eerder aangewend word om die huidige openbare gesondheidsorgstelsel te verbeter. Dit is die eenvoudige werklikheid daarvan,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).
Du Buisson noem dat Solidariteit sy kommer uitgespreek het oor voorgenome planne om Suid-Afrikaners se mediesefondskrediete vir die totstandkoming van die NGV te gebruik. Solidariteit het dit ook gekritiseer in ʼn skrywe aan die minister en ʼn waarskuwing gerig. Die minister het daarop gereageer met ʼn gunstige antwoord.
Hierin gee die departement op skrif te kenne dat hulle geensins beplan om krediete te onttrek voordat daar met implementering begin is nie.
Die minister van finansies het ook op ʼn mediakonferensie voor die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring sterk standpunt ingeneem oor die befondsing daarvan.
“Hy het sy bekommernis uitgespreek teen die voorstel om mediese-fondsbelastingkrediete te skrap. Volgens hom sal so ʼn besluit die middelklas swaar tref – dieselfde groep wat die grootste deel van persoonlike inkomstebelasting dra. Hierdie waarskuwing van die tesourie lyk soos logika wat seëvier,” sê Du Buisson.
Volgens Du Buisson kan daar met reg gesê word dat die minister se duidelike teenkanting teen hierdie NGV-befondsingsvoorstelle grootliks te danke is aan die volgehoue druk van Solidariteit en ander burgerlike organisasies wat reeds lank waarsku dat die NGV die middelklas finansieel sal straf en die staat se grootste belastingbasis sal ondermyn.
By nadere bestudering van die mediumtermynbegroting se beleidsdokument maak die tesourie volgens Du Buisson steeds soortgelyke toegewings aan die NGV as in die verlede en nie vir méér soos waarvoor sommige onverantwoordelike, radikale stemme pleit nie.
“Die tesourie weet nog altyd dat NGV onbekostigbaar is en dat die betalers van persoonlike inkomstebelasting ook mediesefondslede is wat nie benadeel mag word nie.
“Nou hoop ons dat hierdie realiteit ook tot die Departement van Gesondheid sal deurdring,” sê hy.