loading
Artikels
1 jaar gelede
grootskaalse-bemarking-met-n-klein-begroting

Foto Krediet: OkayDeer

Grootskaalse bemarking met ʼn klein begroting

Deur Ané Janse van Rensburg

In vandag se kompeterende mark moet jy van ʼn diverse bemarkingsstrategie wat doeltreffend is, gebruik maak selfs al het jy ʼn beperkte begroting. Dit is veral só vir klein ondernemings wat dikwels met beperkte hulpbronne moet werk.

Solidariteit het ʼn paar bemarkingskortkursusse saamgestel wat daarop gemik is om jou bemarkingstrategieë ʼn behoorlike hupstoot te gee. Hierdie kursusse is op Solidariteit se leerportaal beskikbaar. Lees hier meer oor hoe jy dié kursusse kan benut.

Hier is ʼn paar slim wenke wat jy in jou bemarkingstrategie kan toepas:

Maak gebruik van sosiale media

Volgens ʼn blog inskrywing op Indeed, kan die gebruik van sosiale media aansienlik help om handelsmerkbewustheid te verhoog. Sosialemediaplatforms soos Facebook, Instagram, Twitter en LinkedIn bied gratis maniere om jou onderneming te bemark. Skep boeiende en relevante inhoud wat jou teikengehoor sal interesseer en betrek. Deel gereeld plasings, foto’s en video’s wat jou produkte of dienste ten toon stel. Interaksie met jou volgelinge deur kommentaar en boodskappe te beantwoord, kan ook jou sigbaarheid en korporatiewe identiteit ʼn hupstoot gee.

Vat hande met smaakmakers, bekendes en plaaslike ondernemings

Samewerking met plaaslike bloggers en smaakmakers kan jou onderneming blootstelling gee aan ʼn groter gehoor. Hierdie persone het reeds ʼn gevestigde gehoor wat hulle vertrou. Deur produkte of dienste aan hulle te verskaf in ruil vir resensies of aanbevelings, kan jy ʼn groter gehoor bereik sonder groot finansiële uitgawes. Smaakmakers se gehoor, word jou gehoor! Hierdie gehoor is potensiële klante wat jy andersins nie sou bereik het nie.

Samewerking met ander klein onderneming kan wedersydse voordele bied. Oorweeg om gesamentlike promosies of kruispromosies te doen. Dit kan jou help om jou kliëntebasis uit te brei deur toegang te kry tot ʼn ander onderneming se kliënte.

Benut jou webblad!

ʼn Webblad wat goed ontwerp is en vir soekenjins geoptimaliseer is (SEO), kan jou aanlyn sigbaarheid verbeter. Gebruik sleutelwoorde wat relevant is tot jou onderneming om jou kans te verhoog om in soekenjins te verskyn. Maak seker dat jou webwerf gebruikersvriendelik en mobiel-vriendelik is. Dit sal nie net help om verkeer na jou webwerf te lok nie, maar ook om besoekers te behou en in kliënte te omskep.

Gebruik e-posbemarking

E-posbemarking bly een van die mees kostedoeltreffende maniere om jou onderneming te bemark. Skep ʼn e-poslys van huidige en potensiële kliënte en stuur gereelde nuusbriewe met spesiale aanbiedinge, nuus en insigte. E-posse kan verpersoonlik word om meer relevant en waardevol vir die ontvangers te wees. Dit help om ʼn verhouding met jou kliënte te bou en hulle op hoogte te hou van jou onderneming se doen en late.

Skep inhoud wat gewig dra

Die euwel van die internet vandag is dat dit oorlaai is met inhoud wat kompeteer om uit te staan bo hul mededingers. Wees dus baie pedanties oor die soort inhoud wat jy deel. Skep blogplasings, video’s, infografika en ander inhoud wat waarde bied aan jou teikengehoor. Shutterstock se blog beklemtoon die belangrikheid van kwaliteit inhoud om jou onderneming se aanlyn teenwoordigheid te versterk. Deur relevante en nuttige inligting te deel, kan jy jou onderneming se geloofwaardigheid in jou veld vestig en vertroue by jou gehoor opbou.

“Local” is lekker!

Neem deel aan plaaslike geleenthede en gemeenskapsaktiwiteite. Dit gee jou die geleentheid om direk met potensiële kliënte te skakel en jou onderneming te bevorder. Só kan jy ʼn sterk plaaslike teenwoordigheid opbou en gemeenskapsbetrokkenheid verhoog.

Deur kreatief en doelgerig te werk, kan jy effektiewe bemarkingsveldtogte loods, selfs met ʼn beperkte begroting. Dit gaan oor die slim gebruik van hulpbronne, die benutting van beskikbare tegnologie, en die skep van waardevolle inhoud vir jou kliënte. Met hierdie strategieë kan jy jou onderneming laat groei en suksesvol wees in ʼn mededingende mark.

Gee jou bemarkingstrategie ʼn ekstra hupstoot! Registreer vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit, en kry toegang tot relevante bemagtigingshulpmiddels wat jou in jou loopbaanpad bystaan!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel