
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Groter pyn as tariefpyne wag as Suid-Afrika nie na Trump probeer uitreik
Daar wag ʼn moeilike tyd op Suid-Afrika en op Suid-Afrikaners as die leierskap in die land nie met die VSA in gesprek tree oor strafmaatreëls en tariewe wat teen hom ingestel word nie. Lees meer hieronder.
Pieter Jordaan
Volgens Theuns du Buisson, ʼn ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is die uitstel van 90 dae wat Suid-Afrika en ander lande gekry het voor VSA-invoertariewe teen hulle ingestel word, tyd wat slim gebruik moet word.
Pres. Donald Trump het onlangs ʼn 31%-invoertarief op Suid-Afrikaanse goedere aangekondig, maar dit sal voorlopig net 10% wees sodat Suid-Afrika kan kans kry om sy eie hersiene handelsvoorwaardes aan die VSA voor te lê.
“Tariewe is ʼn slegte ding – ʼn mens begeer tog altyd vrye handel, want dit strek tot almal se voordeel. Trump stel hierdie uitermatige hoë tariewe nou in en gebruik dit as ʼn onderhandelingsmeganisme sodat daar uiteindelik geen tariewe kan wees nie.
“Vrye handel sónder tariewe sal immers tot almal se voordeel strek,” sê Du Buisson.
Die Suid-Afrikaanse regering het steeds geen noemenswaardige afvaardiging na die VSA gestuur om die situasie te probeer beredder nie. Of die regering dit enigsins sal kan doen sonder om ander diplomatieke hindernisse soos Suid-Afrika se saak teen Israel by die Internasionale Geregshof eers te hanteer, bly ook ʼn ope vraag.
Du Buisson sê dat groot ekonomiese teëspoed vir Suid-Afrika voorlê as daar nie na die VSA uitgereik word nie en daarom moet Suid-Afrikaners daarop aandring dat pres. Ramaphosa met die Trump-administrasie in verbinding tree.
“As die grootste ekonomie in die wêreld vir jou sê wat jy moet doen, het jy nie veel van ʼn keuse nie, selfs al doen jy dit teësinnig. Honderde duisende werksgeleenthede in Suid-Afrika hang daarvan af.
“Ons gaan nie betyds ander, nuwe markte vir al ons produkte kry nie. Daar is goedere wat hier vervaardig word waarvoor Amerika die enigste wesenlike mark is,” sê hy.
Verder voorsien Du Buisson nog veel groter optrede van die VSA teenoor Suid-Afrika as gevolg van die diplomatieke krisis wat hoofsaaklik voor die deur van die ANC se vyandigheid teenoor die Weste en sy swak buitelandse beleid gelê kan word.
“Trump is baie ontstoke oor Suid-Afrika. Tariewe staar die hele wêreld in die gesig, maar tot dusver lyk dit of Trump spesiale aandag aan Suid-Afrika gee.
“As groepe soos Solidariteit nie groot druk op die regering gaan uitoefen nie, gaan die regering nié met Amerika praat nie, en dit gaan rampspoedig vir die land wees,” sluit Du Buisson af.