loading
Artikels
2 dae gelede
polisie-moet-opdok-vir-onbetaalde-salaris-na-solidariteit-ingryp

Foto Krediet: Okay Deer

Polisie moet opdok vir onbetaalde salaris ná Solidariteit ingryp

Solidariteit het ʼn belangrike oorwinning namens een van sy lede behaal ná die polisie die lid onregverdig op onbetaalde verlof geplaas het ten spyte van die beskikbaarheid van geldige mediese sertifikate.


Deur Heléne Mocke

Dié optrede het nie net ernstige finansiële gevolge vir luitenant-kolonel E.M Viljoen ingehou nie, maar dit het ook sy pensioenregte geskend.

Viljoen, wat tot en met Oktober 2024 in diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was, het oor ʼn tydperk  van bykans drie jaar sogenaamde ongeskiktheidsverlof geneem. Soos vereis, het hy telkens mediese dokumentasie ingehandig om die verlengde afwesigheid te regverdig. Die polisie het egter versuim om hierdie sertifikate in ag te neem en het hom onwettig op onbetaalde verlof geplaas – optrede wat strydig is met die SAPD se eie verlofbeleid.

Viljoen se bevelvoerder het deurgaans aangevoer dat hy nie siek is nie en het sy mediese sertifikate geïgnoreer. Verder het die bevelvoerder instruksie gegee dat Viljoen se verlof as onbetaalde verlof aangeteken moet word ten spyte van die bestaan van voldoende mediese sertifikate.

Wat gevolg het, was maande van onregmatige salarisvermindering ten spyte van herhaalde pogings deur Viljoen om die saak intern op te los. Met sy aftrede in sig, het dit duidelik geword dat sy verlofstatus ʼn direkte impak op sy pensioenaansprake by die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) sou hê. Die SAPD moet ʼn verlofsertifikaat (rekonsiliasie) by die GEPF indien voordat die aansoek vir die uitbetaling van pensioen hanteer word. Omdat die lid se verlof vir ʼn lang tydperk verkeerd aangeteken was, kon hy nie die nodige sertifikaat bekom nie. Ons het dus die hof genader vir ʼn bevel dat die SAPD sy verlofrekords dringend regstel sodat Viljoen sy pensioen kan eis.

Solidariteit het ʼn dringende aansoek namens Viljoen in die arbeidshof gebring. Op 1 Oktober 2024 het die hof ʼn bevel uitgevaardig wat die SAPD beveel het om Viljoen se verlofstatus reg te stel en alle agterstallige salarisse aan hom uit te betaal. Die SAPD het egter steeds nagelaat om aan die hofbevel te voldoen. Solidariteit het die hof gevolglik weer op 20 November 2024 genader, dié keer met ʼn dringende aansoek vir minagting van die hof.

Eers ná hierdie stap het die SAPD begin om aan die hofbevel te voldoen. Viljoen se verlofstatus is reggestel en die uitstaande bedrae is uiteindelik aan hom oorbetaal.

“Hierdie saak wys weereens hoe belangrik dit is dat werkgewers aan hul eie beleide én aan die wet voldoen,” sê Mariesa Janse van Rensburg, die litigant verbonde aan Solidariteit wat die saak namens Viljoen hanteer het. “Ons is bly geregtigheid het geseëvier, maar dit is onaanvaarbaar dat ʼn lid van die polisie só behandel is en dat sy regte hom eers toegekom het ná ingryping van die hof.”

Solidariteit sal voortgaan om teen onreg op te tree en werkgewers verantwoordbaar te hou – veral wanneer dié optrede die welstand en toekoms van toegewyde werknemers bedreig.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel