
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Gyselaar gehou deur die departement van gesondheid
Deur Maryna Eksteen
Dit klink so ʼn bietjie verregaande om te sê dat ʼn persoon gyselaar gehou kan word deur die departement van gesondheid. Die realiteit is egter dat swak bestuur en ʼn tekort aan administratiewe vaardighede kan lei tot hierdie soort gevangenisskap. Elyssa Hougaard het in 2017 haar studie as verpleegkundige voltooi, maar Elyssa se hande was egter afgekap weens ʼn verswakte stelsel.
ʼn Gemeenskapsdiensbeleid is in 1998 geïmplementeer wat vereis dat gesondheidsorgwerkers 12 maande gemeenskapsdiens deur lonende werk in die openbare sektor moet voltooi. Dié wetgewing het ten doel om ʼn beter verspreiding van mensehulpbronne vir gesondheid na onderbedieningsgebiede te bewerkstellig en sodoende billike toegang tot primêre gesondheidsorgdienste te verbeter. Alle gegradueerde gesondheidswerkers wat as ʼn gesondheidsorgwerker wil registreer, moet hierdie wetgewing voltooi.
Die departement van gesondheid se internskap- en gemeenskapsdiensprogram (ICSP) waarvoor Elyssa moes registreer, het versuim om haar registrasieproses te voltooi wat tot ʼn elle lange stryd met ʼn stelsel gelei het. Elyssa en haar man, Nico Hougaard, het Solidariteit genader om die stryd saam met hulle aan te pak.
Na vele probeerslae, oproepe en baie e-posse is Elyssa uiteindelik in 2018 geregistreer en in Noordwes geplaas (waar sy studeer het), maar weens die afstand tussen haar en haar gesin het Elyssa appèl aangeteken om nader aan haar huis te werk. Die appèl is later in 2018 goedgekeur met die voorwaarde dat Elyssa ses maande moes wag om nader aan haar gesin geplaas te word. In 2019 is Elyssa uiteindelik nader aan haar huis geplaas. Die gevangenisskap is egter nie verby nie. Elyssa is ingelig dat sy by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) geregistreer moet wees om haar volle salaris tydens haar gemeenskapsjaar te ontvang.
SARV vereis toe dat Elyssa haar gemeenskapsjaar weer moet voltooi voordat sy geregistreer kan word. Die Hougaard-gesin nader weer vir Solidariteit, want nou is die stryd nie meer teen ʼn gemeenskapsjaar nie, maar ook teen ʼn raad wat moet omsien na verpleegkundiges. Solidariteit se Verpleegnetwerk tree in en regstappe volg.
Volgens Peirru Marx, netwerkkoördineer van die mediese sektor by Solidariteit, is dit kommerwekkend dat mense wat passievol is oor en toegewyd is aan hulle beroep gyselaar gehou word deur die staat.
Na ʼn reusestryd het Solidariteit die stryd teen die stelsel gewen en Elyssa is uit die kloue van die departement van gesondheid vrygelaat. In 2021 het Elyssa haar registrasiesertifikaat saam met haar epoulette gaan afhaal.

As ʼn lid van Solidariteit se Verpleegnetwerk hoef jy nie bedreigings in jou beroep alleen te beveg nie, want ons veg dit saam met jou.
Indien jy deel van ʼn gemeenskap wil wees waar jou stem saak maak, klik hier of stuur ʼn e-pos na medies@solidariteit.co.za vir verdere navrae.
Saam sal ons vry, veilig en voorspoedig wees.