loading
avatar
Artikels
7 maande gelede
help-ek-weet-nie-watter-vakke-om-te-kies-nie

Foto Krediet: OkayDeer

Help! Ek weet nie watter vakke om te kies nie

Deur Maryna Eksteen

ʼn Praktiese gids om saam met jou ouers die regte keuses te maak

Vakkeuses. Skielik moet jy ʼn besluit maak wat die res van jou hoërskoolloopbaan – en moontlik jou toekoms – gaan raak. En jy’s net 14 of 15. Dis ʼn belangrike besluit, maar jy hoef dit nie alleen te neem nie.

Dis heeltemal normaal om onseker te wees. Moet jy Rekeningkunde kies? Wat van Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid? Jou ma wil hê jy moet ʼn “goeie basis” hê, jou pa dink dalk aan universiteit … maar jy’s nog besig om uit te vind waarvan jy hou!

Gelukkig is daar maniere om sinvolle gesprekke met jou ouers oor hierdie keuses te hê – en om vakke te kies waaroor jy én hulle goed voel.

Begin deur jouself te leer ken

Voordat jy met jou ouers gaan praat, dink mooi oor die volgende:

  • • Wat geniet jy?
  • • Watter vakke is vir jou lekker?
  • • Watter soort loopbane of aktiwiteite klink vir jou interessant?

Jy hoef nie al die antwoorde te hê nie, maar dis belangrik om dié vrae te begin vra. Jy is besig om jou eie pad te leer ken.

Gebruik Solidariteit se gratis belangstellingsbepaler om jou sterkpunte en belangstellings beter te verstaan.

Praat oop en eerlik met jou ouers

Moenie wag tot die aand voor jy jou finale vakke moet kies nie. Gaan sit rustig en deel die volgende met hulle:

  • • Wat jy oor jouself geleer het
  • • Waaroor jy onseker is
  • • Wat jy dalk ná skool wil doen (selfs al is jou planne nog vaag)

Onthou: jou ouers wil die beste vir jou hê. Maar hulle sien dalk nie jou passie vir fotografie of jou aanvoeling vir besigheid nie – tensy jy dit met hulle deel.

Besluit saam – nie vir mekaar nie

Vakkeuses is nie net ʼn persoonlike besluit nie. Dis ook ʼn gesprek waar jy jou ervarings en belangstellings deel, terwyl jou ouers perspektief, wysheid, en dalk ʼn paar bekommernisse oor die toekoms verskaf. Luister vir mekaar, selfs al voel jy dat jou ouers nie verstaan nie.

Kyk ook na watter vakke toegang tot sekere studierigtings ná matriek bied. Jou keuse moet vir jou deure oophou, maar ook ooreenstem met wie jy is.

Solidariteit se #VakKeuses verduidelik hoe vakke met universiteitstoelating verband hou en hoe verskillende beroepe met sekere vakke ooreenstem. Gebruik hierdie inligting tydens julle gesprek.

Onthou – dis nie in klip uitgekap nie

Die meeste skole laat jou toe om teen die einde van graad 10, of selfs vroeër, vakke te verander, mits dit sin maak. Wat jy nou besluit is belangrik, maar dis nie permanent nie.

Wat wel belangrik is, is dat jy leer om verantwoordelike keuses te maak – en om saam met ander mense (soos jou ouers) aan jou toekoms te beplan en te werk.

Jy het keuses én hulp

Jy hoef nie hierdie pad alleen te stap nie. Solidariteit se Skoliere-aanbod gee vir jou toegang tot:

  • • Aanlyn #VakKeuses-hulp
  • • Loopbaanvoorligtingstoetse
  • • Webinare oor studiemetodes, beroepskeuses en tienerkwessies
  • Mentors en leierskapsontwikkeling

Skep jou gratis profiel hier by Solidariteit en kry toegang tot al hierdie hulpbronne!Jou vakke is nie net vakke nie – dis die begin van jou loopbaanreis.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel