
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Hertz! Ons gesels met ʼn oudioloog oor gehoorverlies
Deur Maryna Eksteen
Wêreldgehoordag word elke jaar op 3 Maart gevier om bewustheid te verhoog oor hoe om doofheid en gehoorverlies te voorkom en oor- en gehoorsorg wêreldwyd te bevorder. Solidariteit se beroepsnetwerke in die mediese sektor het by die oudioloog Jenique Wolmarans gaan inloer om ʼn bietjie te gesels oor die gevaartekens van gehoorverlies en hoe om gehoorverlies te voorkom.
Jenique het haar meestersgraad in oudiologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Volgens Jenique het die beroep háár gekies. “Ek het nie veel van die beroep geweet nie. Ek wou regte studeer. Die dag toe ek by die universiteit gaan registreer het, het die oudiologietent my aandag getrek en ek het uit pure nuuskierigheid gaan kyk. Iets het vir my gesê dit was die beroep vir my. Jare later het ek besef die Here het geweet wat sy plan vir my toekoms was en Hy was daardie dag teenwoordig.”
Jenique het in 2022 met Spec-Savers in vennootskap getree waar sy ʼn praktyk van hulle geopen het. “Min mense weet dit, maar daar is talle Spec-Savers reg oor die land wat ook nou oudiologie aan kliënte bied. Ons kyk nie meer net na jou oë nie, maar ook na jou gehoor.”
Volgens Jenique gee baie min volwassenes aandag aan hul gehoor tensy hulle ʼn merkbare verlies of ʼn skielike verandering in hul gehoorvermoë ervaar. Die gevolg hiervan is dat pasiënte se opsies vir behandeling meer beperk is.
Hier volg ʼn paar van Jenique se riglyne om gehoorverlies vroeg op te spoor:
- Gehoortoetse by geboorte is natuurlik noodsaaklik, en gereelde gesondheidsondersoeke gedurende die kinderjare is belangrik.
- Gesonde volwassenes tussen die ouderdom van 18 en 40 jaar, wat geen merkbare gehoorverlies ervaar nie, moet elke twee tot vyf jaar hul gehoor laat toets.
- Ouderdomsverwante gehoorverlies is baie algemeen by mense ouer as 60. Met ouderdom raak kumulatiewe skade aan die haarselle in die binneoor meer algemeen, wat die vermoë om hoë frekwensies te verstaan, affekteer. Jaarlikse gehoortoetse word aanbeveel vir alle volwassenes vanaf die ouderdom van 60, of hulle simptome ervaar of nie.
- Geraas-geïnduseerde gehoorverlies is amper so algemeen soos ouderdomsverwante gehoorverlies en raak individue van alle ouderdomme. Diegene wat gereeld aan harde geluide blootgestel word, loop ʼn hoër risiko om permanente skade aan hul gehoor op te doen. Mense wat in raserige omgewings werk, byvoorbeeld in konstruksie en vervaardiging, gereeld deelneem aan raserige aktiwiteite, soos konserte, jag, motorfietsry, of in beroepe werk waar skielike harde geluide algemeen voorkom, soos wetstoepassers en die weermag, moet hul gehoor jaarliks laat toets.
- Gehoorverlies word ook gekoppel aan harttoestande, kognitiewe agteruitgang, Alzheimer se siekte/demensie, en ander chroniese siektes soos diabetes, hoë bloeddruk en talle ander. Gereelde gehoortoetse kan waarskuwingstekens van hierdie mediese toestande aan die lig bring en help om die nodige sorg vroeër te bekom.
Volgens Jenique is dit maklik om ons ore en gehoor as vanselfsprekend te aanvaar, maar as jy genoeg aandag aan hulle gee, gaan hulle jou beslis bedank. “Oorsorg is uiters belangrik om te verseker dat ons ore beskerm word teen skadelike geluide en stowwe (soos water), en dit help om gehoorverlies te voorkom,” sê Jenique.
Hier volg ʼn paar van Jenique se riglyne om jou gehoor en ore te beskerm:
- Dra gehoorbeskerming in raserige omgewings: Harde geluide, soos dié van kraggereedskap, by konserte, grassnyers, vuurwapens en vliegtuie, kan almal geleidelik tot gehoorverlies lei, veral as jy gereeld aan hierdie geluide blootgestel word.
- Verlaag die volume: Om na harde musiek te luister, kan jou gehoor beskadig, veral wanneer jy oorfone gebruik wat reg langs jou oordrom sit.
- Moenie katoenwolstokkies gebruik nie: Mense gebruik reeds vir dekades katoenwolstokkies om oorwas in hul ore te verwyder, maar navorsers het bevind dat katoenwolstokkies meer skade kan aanrig as wat dit goed is. Die Nasionale Instituut vir Gesondheid (NIH) berig dat katoenwolstokkies oorwas dieper in die oorkanaal kan afdruk, die oordrom en oorkanaal kan beskadig en die risiko van gehoorprobleme kan verhoog.
- Hou jou ore droog: Swem en bad kan veroorsaak dat water in jou oorkanaal beland, wat gevaarlik kan wees vir jou gehoor en oorgesondheidheid as die water skadelike bakterieë bevat of vir ʼn lang tydperk in jou oorkanaal bly.
- Bestuur en verminder stres: Stres verhoog die produksie van kortisol en adrenalien in jou liggaam, wat streshormone vrystel as ʼn veg-of-vlug-reaksie op potensiële bedreigings. Hierdie hormone kan jou gehoor tydelik beïnvloed, wat heeltemal normaal is.
“Om gehoorverlies vroeg te identifiseer en daarby in te gryp, kan ook help om ernstiger gesondheidsprobleme soos demensie en val te voorkom. Dit is nooit te vroeg of te laat om na jou gehoorgesondheid om te sien nie. Deur eenvoudige stappe te doen en mediese hulp te soek wanneer dit nodig is, kan mense hul gehoor behou en die risiko van verwante gesondheidsprobleme verminder,” sê Jenique.
#RaakTuis by Solidariteit! As jy ʼn mediese praktisyn is, klik hier om meer te lees oor Solidariteit se mediese beroepsnetwerke. Ons kan saam vry, veilig en voorspoedig wees!