loading
Artikels
5 dae gelede
het-jy-n-regverdige-dienskontrak

Foto Krediet: OkayDeer

Het jy ’n regverdige dienskontrak? Wat jy moet weet voordat jy teken

Deur Leré Nel

“Beste Jong werkende,

Ons is verheug om jou in kennis te stel dat jy die suksesvolle kandidaat is. Sien asseblief jou dienskontrak hier aangeheg.”

Baie geluk! Jy het die werk gekry, die kontrak lê voor jou – en nou moet jy teken. Maar hoe weet jy of jou kontrak regverdig is? En watter vir watter rooi ligte wat flikker moet jy uitkyk voordat jy jou handtekening neerpen?

Ons het met Michael Smith, prokureur by Solidariteit, gesels oor hoe jong werkendes seker kan maak dat hulle kontrak regverdig is.

Hoe weet jy jou kontrak is regverdig?

Regverdigheid is subjektief, maar volgens Smith beteken regverdigheid dat jou kontrak aan die wet moet voldoen. Dit moet getoets word teen die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (BCEA), die Wet op Arbeidsverhoudinge (WAV) en die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, asook enige toepaslike sektorale vasstelling of kollektiewe ooreenkoms wat in jou beroepsveld van krag is.

Hier is ʼn paar algemene dinge waarna jy eerste kan kyk:

  • • Jou kontrak moet aan minimum wetlike vereistes voldoen ten opsigte van werksure, verlof en kennisgewingperiodes.
  • • Geen bepaling mag onwettig wees of teenstrydig met ʼn voorwaarde wat in die bogenoemde wette voorkom nie.
  • • Jou salaris moet meer as die nasionale minimumloon wees (of die sektorale loon wat geld in jou bedryf).
  • • Jou posbeskrywing en diensvoorwaardes moet duidelik en ondubbelsinnig uiteengesit wees.

Kyk uit vir hierdie rooi ligte

Smith wys daarop dat jong werkendes dikwels oorhaastig teken, sonder om die fynskrif te lees. Hier is die grootste rooi ligte waarvoor jy op die uitkyk moet wees:

  • • ʼn loon minder as die minimumloon is ʼn onmiddellike teken van ʼn onwettige dienskontrak;
  • • onduidelikheid oor jou salaris, betalings of aftrekkingsperiodes;
  • • onwettige verlofbepalings: Minder as 21 opeenvolgende dae jaarlikse verlof per jaar, of siekte- of kraamverlof wat nie voldoen aan die BCEA nie;
  • • onbillike beëindiging van diens: klousules wat toelaat dat jou werkgewer jou sonder kennisgewing afdank, of jou verbied om die KVBA te nader;
  • • ʼn handelsbeperkingsklousule wat onredelik is: byvoorbeeld ’n verbod van meer as twee jaar, of wat te wyd in geografiese gebied is, wat jou omtrent heeltemal verhinder om in jou beroep te werk;
  • • ʼn vereiste dat jy nie vir ʼn “kompetisie-maatskappy” mag werk nie, sonder ʼn duidelike definisie van wat “kompetisie” beteken;
  • • risiko’s vir jou privaatheid of regte: klousules wat sê dat jou werkgewer enige tyd jou persoonlike e-pos of telefoon sonder toestemming kan monitor, sonder enige beleid rondom dit;
  • • klousules wat jou verplig om jou intellektuele eiendom af te staan vir werk wat jy buite jou werksure doen;
  • • vae pligte: as jou kontrak iets bevat soos  “Enige ander take soos deur bestuur vereis” sonder om enige beperking daarop te stel, is dit ʼn waarskuwingsteken – as daar geen spesifieke werkplek aangedui word nie en jou posbeskrywing ook nie duidelik uiteengesit word nie, is daar ook iets verkeerd met jou kontrak; en
  • • enige klousule wat jou verbied om aan ʼn vakbond te behoort, is onwettig.

As jy enige van hierdie rooi ligte sien flikker, reik uit na Solidariteit Jongwerkende. Ons weet hoe lyk ’n regverdige dienskontrak en ons kan jou help voordat jy dit onderteken.

Wat jy moet weet voordat jy teken

Volgens Smith is die belangrikste ding om te onthou: wanneer jy teken, is jy gebind.

Voordat jy teken, maak seker dat:

  • • jy jou regte ken en die minimum vereistes van die toepaslike wette verstaan;
  • • jou kontrak alles skriftelik en duidelik uiteensit (salaris, ure, voordele, verlof en kennisgewingstydperk);
  • • daar geen onwettige bepalings is wat jou regte wegneem nie;
  • • jou werksbeskrywing spesifiek, duidelik en realisties is;
  • • enige beperkings redelik is in tyd, plek en omvang;
  • • jy die gevolge van wettige, maar bindende klousules ken – byvoorbeeld, as die maatskappy vir jou studie betaal en jou kontrak bepaal dat jy na afloop van jou studie twee jaar moet terugwerk, beteken dit dat jy moontlik geld gaan skuld as jy vroeër bedank.

Hoe Solidariteit jou kan help

As jy onseker is oor jou dienskontrak is jy nie alleen nie. Solidariteit se Jongwerkende-span kan jou bystaan deur jou kontrak na te gaan en jou duidelike terugvoer te gee. Hulle sal jou wys watter klousules onwettig, onbillik of riskant vir jou is. Stuur gerus ʼn e-pos na jongwerkende@solidariteit.co.za sodat ons span jou kontrak deeglik kan nagaan en vir jou aanbevelings kan maak.

Ons almal wil ons loopbaan op ʼn goeie voet begin. Maak dus seker jou eerste werk is ʼn goeie een deur ingeligte besluite te neem voordat jy jou kontrak teken!


Wie is Michael Smith?

Michael Smith het sy BCom (Regte) en LLB aan die Noordwes-Universiteit (NWU) voltooi en is as prokureur in die Hooggeregshof toegelaat. Hy werk sedert 2021 by Solidariteit in arbeidsreg en arbeidsverhoudinge. Sy passie is om jong werkers toe te rus met kennis oor hul regte, sodat hulle ingeligte besluite in die werkplek kan neem.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel