
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jong werkende, hier is jou amptelike werkplekwoordeboek
Deur Lize-Mari Verster
Geluk! Jy het jou eerste “regte” werk gekry. Jy stap op jou eerste dag by die kantoor in, gereed om die wêreld te verower, net om te besef jy verstaan nie waaroor jou kollegas praat nie: “proeftydperk”, “LBS”, “WVF” … dit klink alles soos ʼn ander taal.
Moenie bekommer nie, nuwe jong werkende! Die dae van glimlag en kopknik terwyl jy heimlik wonder of “WVF” ʼn nuwe koffiehandelsmerk is, is verby. Ons het ʼn nuttige werkplekwoordeboek saamgestel om jou te help om die kantoorkode te ontsyfer en soos ʼn gesoute werker te klink – selfs al eet jy nog twee-minute-noedels vir aandete.
Indiensnemingskontrak
Wat jy moontlik dink dit is: ʼn Stuk papier wat jy vinnig teken om jou salaris te kry.
Wat dit regtig is: Jou werkplekbybel. Dit is ʼn wettige ooreenkoms wat presies uiteensit wat jy moet doen, wat hulle jou gaan betaal en hoe julle paaie weer kan skei. Lees dit.
Proeftydperk
Wat jy moontlik dink dit is: ʼn Proeflopie.
Wat dit regtig is: Die werkplek se weergawe van “The Hunger Games”. Vir drie tot ses maande word jou prestasie fyn dopgehou om te sien of jy werklik kan doen wat jy op jou CV gesê het jy kan doen. As jy hulle nie beïndruk nie, word die geleentheid dalk nie permanent nie.
Posbeskrywing
Wat jy moontlik dink dit is: ʼn Vae idee van jou pligte.
Wat dit regtig is: ʼn Amptelike dokument wat jou verantwoordelikhede en rapporteringslyne uiteensit. Dit is die lys take waarvoor jy betaal word, al voel dit soms of “maak koffie vir die baas” ook daarop hoort.
Kennisperiode
Wat jy moontlik dink dit is: Twee weke se kennisgewing.
Wat dit regtig is: Die amptelike “op-breek”-tydperk met jou werk. Jy kan nie net op ʼn Maandag besluit dat jy eerder strande wil gaan verken nie. Jy moet vir ʼn vasgestelde tydperk aanhou werk nadat jy bedank het.
Totale kostepakket
Wat jy moontlik dink dit is: Jou salaris.
Wat dit regtig is: Die groot, indrukwekkende syfer wat die maatskappy vir jou indiensneming betaal. Dit sluit jou salaris, voordele en ander bydraes in. Moenie te opgewonde raak nie; dit is nie die bedrag wat in jou bankrekening gaan land nie.
Netto salaris
Wat jy moontlik dink dit is: Geld.
Wat dit regtig is: Die bedrag wat in jou bankrekening verskyn nadat die belastinggaarder en ander aftrekkings hulle deel gevat het. Dit staan ook bekend as “die realiteit”.
WVF (Werkloosheidsversekeringsfonds)
Wat jy moontlik dink dit is: Net nog ʼn aftrekking.
Wat dit regtig is: Jou finansiële reddingsboei. Dit is ʼn bydrae tot ʼn fonds wat jou kan help om kop bo water te hou sou jy jou werk verloor.
LBS (Lopende betaalstelsel)
Wat jy dink dit is: ʼn Geheime kode.
Wat dit regtig is: Die inkomstebelasting wat jou werkgewer elke maand namens jou aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal. Dit voel dalk pynlik, maar dit is beter as om ʼn reusebelastingrekening aan die einde van die jaar te kry.
13de Tjek / Bonus
Wat jy moontlik dink dit is: ʼn Gewaarborgde Kersgeskenk.
Wat dit regtig is: Die eenhoring van die korporatiewe wêreld. Dit is ʼn ekstra maand se salaris wat soms, gewoonlik in Desember, uitbetaal word. Jou werkgewer is nie verplig om dit te betaal nie, tensy dit in jou kontrak staan.
Dissiplinêre verhoor
Wat jy moontlik dink dit is: ʼn Tikkie oor die vingers.
Wat dit regtig is: Die skoolhoof se kantoor vir grootmense. Dit is ʼn formele proses wat gevolg word as jy die maatskappy se reëls of jou kontrak verbreek het. Jy wil liefs nie hier ʼn draai maak nie.
Prestasie-oorsig
Wat jy moontlik dink dit is: ʼn Koffiesessie met jou bestuurder.
Wat dit regtig is: Jou werkrapport. Dit is ʼn stelsel waar jou bestuurder jou prestasie meet teen sekere uitsette of doelwitte. Soms word jou bonus hieraan gekoppel, so gee dit jou alles!
Jaarlikse verlof
Wat jy moontlik dink dit is: Vakansie.
Wat dit regtig is: Betaalde tyd om jou batterye te herlaai (en jou werk-wagwoord te vergeet). Jy is geregtig op ʼn minimum van 15 werkdae per jaar.
Jou loopbaanreis begin hier!
Om hierdie terme te verstaan, is die eerste stap om jouself in jou loopbaan te bemagtig. Die werkplek kan ingewikkeld wees, maar jy hoef dit nie alleen aan te durf nie. Solidariteit is daar om jou op elke tree van jou loopbaanpad te vergesel.
Benodig jy hulp met die opstel van jou CV of is jy onseker oor jou regte in die werkplek? Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap is hier om jou met die bogenoemde, en nog meer, by te staan. Klop gerus aan en word deel van ʼn netwerk van jong werkendes wat mekaar help en ondersteun. Jou loopbaanreis begin hier!