
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Word jy onregverdig in die werkplek behandel? Hier’s jou aksieplan
Deur Leré Nel
As jong werkende is dit soms moeilik om te weet of jy werklik onregverdig behandel word, en of dit bloot ʼn misverstand of verskil in persepsie is. Ons het met Marike Burger, koördineerder by Solidariteit se Studente-aanbod en Jongwerkende-lidmaatskap, gaan gesels om waardevolle insig hieroor te kry.
“Die lyn tussen onreg en ʼn verskil in persepsie kan vaag voel – veral as emosies betrokke is. ʼn Goeie manier om dit te onderskei, is om jou ervaring teen ʼn paar merkers te toets,” verduidelik Marike. Hierdie merkers sluit in of daar bewyse van onreg is, of dit teenstrydig is met maatskappy-beleide, of daar ’n patroon van optrede is, en of die gedrag duidelik bedoel is om te benadeel. Dit help ook om met ʼn betroubare kollega of mentor te praat. As jy na die feite gekyk het en nog steeds dink dat die behandeling onregverdig is, kan jy oorgaan tot aksie.
Jou eerste stap: dokumenteer
“Indien jy bepaal het dat die optrede onregverdig is en dat dit nie net ʼn misverstand is nie, moet jy dit dadelik op skrif sit,” sê Marike. Skryf die datum, tyd, plek, wie betrokke was, en presiese besonderhede oor die voorval neer. Hou ook skriftelike rekords van al jou kommunikasie met die persoon. Hierdie notas kan jou help indien jy later ʼn formele grief moet indien. Dit is egter altyd ʼn goeie idee om eers met jou bestuurder te praat.
Hoe om die gesprek aan te pak
Baie jong werkendes huiwer om met hulle bestuurder te gaan praat, uit vrees daarvoor dat hulle as problematies gesien kan word. Marike stel egter gerus: “Lede van Solidariteit kan ons kontak vir advies oor hoe om hierdie tipe situasies te hanteer, veral omdat elke situasie uniek is en so ook elke werkplek. Stuur ʼn e-pos na jongwerkende@solidariteit.co.za of selfs ʼn WhatsApp na 082 526 1027.”
Indien jy met jou bestuurder gaan praat, is dit belangrik om neutrale taal te gebruik en aktief te luister. Vermy emosionele uitbarstings of vae klagtes – fokus op die feite en bied moontlike oplossings aan.
Volg die regte prosedures
Elke maatskappy het dissiplinêre kodes en grieweprosedures. Dit is daar om beide werknemers én werkgewers te beskerm. Volgens Marike moet jy as werknemer altyd eers die interne prosesse volg voordat jy eksterne stappe neem. Indien jy onbillik behandel word en sien dat dit nie bloot met ʼn gesprek opgelos kan word nie, dien ʼn grief in en volg die prosedures wat in jou maatskappy se beleid uiteengesit word.
Wanneer interne prosesse misluk
Wat as jy alles probeer het en die probleem steeds nie opgelos word nie? “Indien die interne griewe prosedures misluk het jy 90 dae om ʼn saak by die KVBA of bedingingsraad aan te meld,” verduidelik Marike. Die proses begin met konsiliasie, en indien dit nie suksesvol is nie, kan dit na arbitrasie verwys word – ʼn bindende uitspraak vir beide partye.
Marike se moets en moenies
Marike het ʼn paar goue reëls wanneer dit by die hantering van onregverdige behandeling in die werkplek kom:
Moets:
- Berei feite voor (skryf datums, tye, plekke en presiese voorvalle neer).
- Vra vir ʼn private gesprek tydens ʼn vasgestelde vergadering.
- Gebruik neutrale taal, fokus op wat gebeur het en moenie persoonlik raak nie.
- Luister aktief en laat die ander party toe om hulle kant te verduidelik.
- Stel voor hoe die situasie reggestel kan word.
- Bevestig na afloop van die gesprek via e-pos wat bespreek en/of ooreengekom is.
Moenies:
- Wag totdat jy kalm en objektief kan praat om ʼn vergadering te skeduleer. Moenie dit doen terwyl jy emosioneel is nie.
- Vermy vae terme soos “altyd”, “nooit” of “onregverdig” sonder bewyse.
- Moenie die ander party in ʼn hoek druk deur die voorval voor ander mense te bespreek nie.
- Maak duidelik dat dit die persoon se gedrag is wat jou grief – nie die persoon self nie.
- Moenie ander kollegas dwing om “kant te kies” nie.
- Moenie sonder stawende dokumentasie die gesprek betree nie – jou geheue alleen is nie genoeg nie.
Hoe om toekomstige konflik te voorkom
Marike bied die volgende raad vir jong werkendes: “Verstaan die maatskappy se reëls en verwagtinge van die begin af. Bou sterk kommunikasie-gewoontes en bevestig instruksies op skrif. Bou ook verhoudinge en vertroue vroeg in die diensverhouding deur betroubaar te wees en kwaliteit werk te lewer.”
Sy beveel aan dat jong werkendes konflikhanteringsvaardighede aanleer, en herinner dat Solidariteit se aanlyn platform praktiese kursusse aanbied, insluitend ʼn kursus in Gevorderde Konflikbestuur wat hier beskikbaar is.
ʼn Praktiese selftoets
As jy onseker is of jy werklik onregverdig behandel word, vra jouself af:
- Is daar bewyse?
- Is dit ’n patroon of ’n eenmalige insident?
- Het dit jou geleenthede of reputasie benadeel?
- Was daar ’n duidelike bedoeling om jou skade te berokken?
- Sou ’n neutrale derde party saamstem dat dit onregverdige behandeling is?
As jy op die meeste van hierdie vrae “ja” geantwoord het, is dit waarskynlik werklike onregverdige behandeling en kan jy dit oorweeg om dit formeel aan te spreek.
En as jy nog steeds onseker is?
Onregverdige behandeling hoef nie jou loopbaan te kelder nie. As jy onseker is oor jou situasie of advies oor jou regte benodig, kontak jongwerkende@solidariteit.co.za. Ons help jou graag om die regte stappe te neem en te verseker dat jy met selfvertroue jou plek in die werkplek kan volstaan.