Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Hier is Solidariteit se Kantoorkampioene vir 2026
Deur Denieke Pretorius
Die persoon wat die telefoon antwoord nog vóór dit ʼn derde keer gelui het, wat weet waar ál die dokumente is en wat altyd inspring wanneer hul nodig is.
Met Solidariteit se Kantoorkampioen-kompetisie gee ons erkenning aan diegene wat presies weet wanneer en waar elke vergadering is en die krisis klaar opgelos het nog voordat die kantoor in rep en roer is.
Die kompetisie is Solidariteit se manier om erkenning te gee aan die mense wat stilweg agter die skerms werk, maar sonder wie die kantoor nie behoorlik kan funksioneer nie. Elke nominasie is ʼn geleentheid om vir iemand te sê: “Ons sien jou raak, ons waardeer jou, en jy maak ʼn verskil.”
Die top-tien-Kantoorkampioene vir 2026
Die top-tien-finaliste van Solidariteit se Kantoorkampioen-kompetisie het hul skootrekenaars opsy gesit vir ʼn heerlike aand van geselligheid waartydens die twee kantoorkampioene vir 2026 in hul onderskeie kategorieë aangekondig is.

Vanjaar se deelnemers is in een van twee afdelings genomineer: die skolesektor en die algemene sektor, wat ondernemings, mediese praktyke, rekenkundige praktyke, regspraktyke, niewinsgewende organisasies en ander administratiewe kantooromgewings insluit.
Ontmoet vanjaar se wenners:
Die hartklop van die skoolkantoor: Valerie Potgieter
“Daar is mense wat ʼn kantoor beman, en dan is daar mense wat die hartklop daarvan word.” Só glo Valerie Potgieter, wat al meer as 20 jaar haar voetspoor in onderwysadministrasie agterlaat. Nadat sy vir 14 jaar by ʼn skool vir leerders met verstandelike gestremdhede gewerk het, het sy ses jaar gelede by Hoërskool Ferdinand Postma aangesluit. Hier is haar liefde vir mense, kinders en dienslewering daagliks sigbaar.
Valerie se bydrae strek wel veel verder as administratiewe take. Sy het verskeie stelsels ontwikkel en verfyn waarsonder die kantoor nie behoorlik meer kan funksioneer nie. Verder het sy ook die Wolwespoor, Ferdies se tweeweeklikse skoolkoerant, begin en verseker só dat die ouers ingelig en betrokke bly.

Volgens Valerie lê sukses in die kantoor by spanwerk. Valerie glo dat haar perspektief ʼn groot bydrae het tot haar sukses. Omdat sy self ʼn kind op hoërskool het, probeer sy om haar werk aan te pak vanuit die oë van ʼn ouer.
Kreatiwiteit is vir haar een van die lekkerste dele van die werk, maar die interaksie met leerders bly die waardevolste. “Jy gee jou hart vir die kinders en vir die onderwys,” sê sy.
Haar uitsonderlike toewyding word erken met die titel “Rots van Ferdies” vir drie opeenvolgende jare, asook SAOU se nasionale toekenning vir Uitnemendheid in Administratiewe Werk.
Valerie skep orde, bou verhoudings en maak elke dag ʼn groot verskil.
Die hart in die algemene sektor: Joey Brits
Joey Brits beskryf haarself as ʼn ware “vredemaker”. Op 50-jarige ouderdom, ma van drie volwasse kinders en gelukkig getroud vir 31 jaar, het sy meer as net ervaring, maar ook wysheid en empatie. Joey werk al vir die afgelope 16 jaar in die ginekologiese veld en het byna twee jaar gelede die moed gehad om haar vlerke te sprei deur by een van Suid-Afrika se voorste ginekoloë aan te sluit, wat ook die uitvoerende hoof van die Gynaecological Management Group (GMG) is.
Alhoewel die skuif uitdagend was, glo sy dat elke persoon wat oor haar pad gekom het spesiaal daar geplaas is. Vir Joey is vriendelikheid een van die belangrikste eienskappe in die werkplek, veral wanneer kliënte of pasiënte self nie altyd vriendelik optree nie.

Sy blink uit in administrasie en papierwerk. “Papierwerk kom natuurlik vir my.” Om met mense te werk is egter wat haar verder motiveer. Joey glo dat dienslewering ʼn ondankbare werk kan wees en vergelyk haar rol dikwels met ʼn asblik waarin ander soms hul bagasie kom leegmaak. Haar lewensfilosofie is eenvoudig: sit die deksel op en moenie daardie negatiewe bagasie nog verder versprei nie. Joey glo sy is gemaak om ander te dien en geniet elke oomblik daarvan. Soos sy graag sê: “Excellence is not a skill, it is an attitude!”
Die beroepsgemeenskap vir kantoorpraktisyns
Met die jaarlikse Kantoorkampioen-kompetisie wil Solidariteit kantoorpraktisyns vir hul toewyding, harde werk en omgee-harte eer. Agter elke produktiewe span staan ʼn kantoorpraktisyn wat orde uit kompleksiteit skep. Hulle is die organiseerders, die probleemoplossers, die kommunikeerders en die dryfkrag binne hul werkplekke.

Erkenning is die beginpunt en groei is die volgende stap. Daarom is die Kantoorpraktisynsnetwerk die ideale tuiste vir elke administratiewe kampioen.
Laai S af en skakel by jou beroepsgemeenskap in!