loading
Artikels
9 maande gelede
hier-is-die-kort-en-die-lank-van-siekverlof

Foto Krediet: Karolina Kaboompics, Pexels

Hier is die kort en die lank van siekverlof

Hierdie winter het ons, en daarmee bedoel ek die hele Suid-Afrika, behoorlik onder die sinus deurgeloop!

Hoe werk dit dan nou as jy regtig só vrot voel, dat jy net in die bed wil bly? Glo dit of nie, enige werknemer in Suid-Afrika is geregtig op siekverlof. Of jou werkgewer daarvan hou of nie, jy mag tuisbly en jou gesondheid prioritiseer.

Jy is geregtig op soveel siekverlof in drie jaar as wat jy ses weke sou werk. Dit beteken dat indien ʼn werknemer vyf dae per week werk, hy/sy geregtig is op ʼn totaal van 30 dae siekverlof vir elke siekverlofsiklus. Indien jy deeltyds vir slegs twee dae per week werk, sal jy uiteraard op 12 dae siekverlof geregtig wees.

Hoe lank is ʼn siekverlofsiklus?

ʼn Siekverlofsiklus is drie jaar lank en begin op die datum waarop jy by ʼn onderneming begin werk, en word weer elke drie jaar hernu. Enige siekverlof wat nie in ʼn siekverlofsiklus gebruik word nie, verval.

Hoe werk my siekverlof by ʼn nuwe werk?

Indien jy pas met ʼn nuwe werk begin het, is jy vir die eerste ses maande van diens geregtig op een dag siekverlof vir elke 26 dae gewerk.

Wanneer moet ek ʼn doktersbrief indien?

Siekverlof word ten volle betaal, maar die werkgewer kan ʼn mediese sertifikaat vereis ná twee dae se aaneenlopende siekverlof. Waar ʼn werknemer meer as twee keer siekverlof binne ʼn  bestek van agt weke neem, kan die werkgewer ook ʼn doktersbrief aanvra. Waar die werkgewer ʼn mediese sertifikaat versoek en die werknemer versuim of weier om dit in te dien, kan die siekverlof onbetaal wees.

Die vereistes van die mediese sertifikaat is dat dit deur ʼn geregistreerde mediese praktisyn uitgereik en geteken moet word, en dit moet meld dat die werknemer weens siekte of besering nie kan werk nie. En nee, die mediese praktisyn hoef nie ʼn verduideliking van die spesifieke siekte of besering te gee nie. 

Kan ek siekverlof tydens my kennistydperk neem?

Werknemers is geregtig om siekverlof in hul laaste maand van diens by ʼn onderneming te neem, selfs al is hulle besig om hul kennistydperk uit te werk.

Wat gebeur as ek tydens my jaarlikse verlof siek word?

Indien jy tydens jou normale jaarlikse verlof siek word, kan jou werkgewer die jaarlikse verlofdae na siekverlofdae omskakel solank die werknemer bewys lewer dat hy/sy siek was. ʼn Werknemer moet dus ʼn doktersbrief indien.  

Wat om nie tydens siekverlof te doen nie

Wanneer ʼn werknemer met siekverlof is, beteken dit die werknemer weens siekte of besering nie kan werk nie. Dit is dus belangrik dat die werknemer die siekverlof gebruik om te rus en om weer gesond te word, en nie aan sosiale geleenthede deelneem nie. Menige mense is al afgedank omdat hulle hul siekverlof misbruik.

Solidariteit is ʼn organisasie wat hom beywer vir sy lede se regte en belange. Met Solidariteit aan jou kant het jy die beste moontlike diensvoorwaardes en -voordele. Klik hier om vandag nog ʼn lid van Solidariteit te word en beskerm jouself in die werkplek met gratis arbeidshulp en regsadvies.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel