Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Hier is die topdrie-finaliste van Solidariteit se Kantoorkampioen-kompetisie vir 2025
Deur Kyla-Ann du Toit
Die topdrie-finaliste van Solidariteit se Kantoorkampioen-kompetisie vir 2025 is bekend.
Die kompetisie nooi jaarliks kollegas, bestuurders en kliënte om daardie een persoon te nomineer wat die “geheime wapen” van hulle span is – ʼn ware huldeblyk aan die ongesiene kantoorhelde in die werkplek. Vanjaar is daar weer honderde nominasies ontvang.
Hiermee die topdrie-finaliste, asook die wenner van die Kantoorkampioen-kompetisie vir 2025:
Wenner: Henriëtta van Biljon (Pretoria)

As administrateur in studente-administrasie is Henriëtta bekend vir haar kalmte, professionaliteit, styl en opregte liefde vir mense – iemand wat studente met respek en warmte hanteer. Sy is trots daarop om deel van ʼn span te wees wat meer as “net admin” doen. Haar geloof in nederigheid, ordentlikheid en dankbaarheid straal deur in elke interaksie. Henriëtte sê:
“Ek wil in die eerste plek graag vir Solidariteit bedank, sowel as Michelle wat my genomineer het. Die kompetisie was vir my so spesiaal. Om eerlik te wees, ek het nie regtig woorde nie – my asem is weggeslaan. Hierdie toekenning beteken vir my só baie en dit wys dat ek regtig iets vir studente beteken.”
Tweede plek: Amanda Burger (Bloemfontein)

Amanda is ʼn persoonlike assistent en ʼn ontvangsdame – betroubaar, kalm en die anker wat alles bymekaar hou. Haar roeping is om orde en rustigheid te bring; sy neem inisiatief, leer voortdurend en bewys dat deursettingsvermoë en ʼn sagte gees ʼn kantoor kan dra.
“Dit is ʼn absolute seëning om tweede plek te eindig. My werk beteken vir my alles,” sê sy. “Ek is so dankbaar hiervoor – ek het nie woorde nie. Baie dankie aan Solidariteit!”
Derde plek: Rochelle Dobson (Pretoria)

As persoonlike assistent vir die uitvoerende hoof is Rochelle die toonbeeld van energie, trots en iemand wat altyd die ekstra myl stap. Sy sorg dat dinge wat moet gebeur, werklik gebeur, en haar aansteeklike werketiek laat prosesse vlot verloop en mense floreer.
“Ek is baie oorweldig en het min woorde,” sê sy. “Ek het al tye gehad waar ek gevoel het asof ek nie raakgesien word nie, maar ek is toe al die tyd raakgesien. Hierdie toekenning beteken regtig baie vir my.”
Kantoorkampioene blink uit in beplanning, mensevaardighede, aanpasbaarheid en die vermoë om terselfdertyd die klein detail én die groter prentjie te sien. Hulle is betroubaar, stiptelik en positief – die rots in enige kantoor. Hierdie kerneienskappe is deurgaans by Henriëtta, Amanda en Rochelle opgemerk.
ʼn Toekenning met betekenis
Die doel van die Kantoorkampioen-kompetisie is méér as ʼn sertifikaat en ʼn foto-oomblik. Dit is ʼn simboliese handdruk vir administratiewe uitnemendheid en ʼn viering van trots, erkenning en gemeenskap. Elke jaar herinner hierdie kompetisie ons daaraan dat uitnemendheid voortleef, en dat nuwe wenners in inspirerende voetspore volg. Mari Ferreira, organiseerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk noem:
Hierdie merkwaardige dames staan kop en skouers bo die res uit. Hulle bring lig en inspirasie wanneer hulle ʼn vertrek binnekom, en laat ʼn blywende indruk wanneer hul weer vertrek. Ek staan telkens in verwondering oor hul opregtheid, geloof en passie wat nie net uit hul woorde spreek nie, maar duidelik sigbaar is in alles wat hulle doen.
Baie geluk aan ons topdrie-finaliste! Julle is ʼn ware voorbeeld van wat dit beteken om ʼn kantoorkampioen te wees: Professionele diens, menswaardigheid en ʼn werkvreugde wat aansteeklik is. Dankie aan al die nomineerders en aan elke kantoorheld wat aan vanjaar se kompetisie deelgeneem het. Julle stories en motiverings wys telkens hoekom hierdie toekenning so kosbaar is. Ons sien jou en ons waardeer jou!