Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Wie is die mens agter die kampioen?
Deur Mari Ferreira
Daar is iets besonders aan die vroue wat agter ʼn lessenaar sit, maar eintlik die hart van elke organisasie is. Hulle is die stem agter die telefoon, die glimlag by die deur, die hand wat orde in die chaos verseker en die anker wanneer dinge dol raak. Hulle is die kantoorpraktisyns – die stil kampioene van elke onderneming.
Ek het vanjaar tydens Solidariteit se Kantoorkampioen-kompetisie die voorreg gehad om tien uitsonderlike vroue te ontmoet – elkeen uniek, besonders, en met ʼn storie wat jou aanraak en inspireer. Tydens die onderhoude het ek nie net oor hul werk gesels nie, maar oor húlle: Die mense agter die titels, die harte agter die handtekeninge, en die siele agter die sukses.
Wat my die meeste geraak het, is dat hierdie vroue hul beroep nie bloot as net ʼn werk sien nie. Vir hulle is administrasie nie net ʼn pos nie – dit is ʼn roeping. Hulle dien met trots, passie, geloof en met liefde. Hulle is die hande wat dra, die ore wat luister, die harte wat ander aanmoedig om te glo, te groei en te droom.
Hierdie kompetisie vier en vereer daardie gees. Dit gaan nie oor glans of toekennings nie, maar oor erkenning – om te sê: “Ons sien jou. Ons waardeer jou. Jy maak ʼn verskil.” Want sonder hulle sou niks vloei nie, niks sou gebeur nie, en die wêreld sou eenvoudig nie werk nie.
Elke kantoorkampioen het ʼn storie van hoop, geloof en vasberadenheid. ʼn Storie wat wys dat kampioenskap nie altyd in applous lê nie, maar in die stille volharding, in die e-posse wat betyds uitgaan, in elke glimlag wat spanning breek, en in elke oomblik van onbaatsugtige dienslewering.
Hierdie is hul verhale:
AMANDA BURGER

Met haar sagte gees, onwrikbare kalmte en hart vol liefde, straal Amanda Burger ware kampioenskap uit. Sy bly in Bloemfontein, is getroud met die liefde van haar lewe, en het haar loopbaan as ʼn krediteureklerk begin. Vandag dien sy met trots as persoonlike assistent vir die direkteur – die spilpunt van haar organisasie waar alles bymekaar kom.
Amanda se werk is vir haar meer as ʼn beroep, dit is ʼn roeping. Sy glo dat haar rol is om orde, rustigheid en vertroue te bring, selfs te midde van chaos. Haar kalmte, konsekwentheid en vermoë om ander veilig te laat voel, maak haar ʼn anker vir haar span. Sy is trots daarop dat sy sonder ʼn graad haar pad boontoe gemaak het, wat dien as ʼn bewysstuk dat harde werk, geloof en ʼn leergierige gees jou ver kan neem.
Vir Amanda beteken groei nie net professionele ontwikkeling nie, maar ook menslike groei: Om ʼn beter vriendin, kollega en voorbeeld te wees. Haar motto, “Skill yourself!”, weerspieël haar dryfkrag om voortdurend te leer en te verbeter.
Wanneer sy nie by die werk is nie, vind sy vrede in tuinmaak, ʼn plek waar sy, net soos in haar werk, groei en geduld kweek. Saggeaard, opreg en toegewyd. Amanda leef die wysheid van Spreuke: Met eerbied, liefde en wysheid dien sy haar span en haar roeping.
TALANA NIEMAND

Wanneer jy met Talana Niemand gesels, besef jy vinnig: Jy sit oorkant iemand wie se pad nie maklik was nie, maar wat met elke struikelblok ʼn fondament van geloof en vasberadenheid gebou het.
Talana het in Vereeniging grootgeword en nooit gedink sy sou eendag in ʼn kantoor werk nie. Haar pad het begin met hard werk agter ʼn kasregister en in ʼn slaghuis, maar toe sy in 2021 by haar tannie gaan woon het, het haar lewe onherroepelik verander. ʼn Paar boeke oor kantooradministrasie het ʼn vonk laat ontstaan wat haar toekoms sou verander. Sonder formele studie-agtergrond het sy self begin leer, vrywillig begin werk, en uiteindelik, danksy haar deursettingsvermoë, geloof en passie, ʼn voltydse pos gekry.
Vandag werk Talana by Akademia, en sy is besig om haar graad in Ondernemingsbestuur te voltooi. Sy is ʼn inspirasie vir almal wat glo dat geloof groter is as omstandighede. Wat haar werk besonders maak, is die dankbaarheid van studente wat sy help, dié wat sê sy het vir hulle hoop gebring toe hulle dit die minste gehad het. Dit is vir Talana meer as net werk; dit is ʼn roeping om ander te bemoedig en lig te bring.
Met haar rustige wysheid sê sy: “Moenie altyd dadelik doen nie – dink eers, en doen dán.” Dit is dieselfde kalmte en geloof wat haar deur elke uitdaging dra.
Talana se mentor noem: “Talana se onderkry is min! Haar moed, deursettingsvermoë, veerkragtigheid en sterk dryfkrag om persoonlik te groei en te ontwikkel, vorm die fondament waaruit haar werketiek en passie vir diensbaarheid spruit. Haar eerlike menswees, onwrikbare integriteit en deernis vir diere, bejaardes en enigiemand wat ondersteuning nodig het, gee haar die wind in haar seile – sy styg soos ʼn vlieër teen die wind en omstandighede uit.”
MICHELLE SCHOEMAN

Om met Michelle Schoeman te gesels, is om dadelik deur haar warmte en egtheid aangeraak te word. Sy is die soort mens wat die kamer ligter maak met haar lag – iemand wat nie net die werk doen nie, maar mense se dag beter maak.
Michelle se loopbaan het in ʼn gastehuis se ontvangs begin, sonder formele kwalifikasies, maar met ʼn groot dosis nuuskierigheid, lewenslus en passie. Sy het gou besef dat administrasie nie bloot net ʼn beroep is nie, maar ʼn roeping waarin sy haar unieke energie en mensekennis kan uitleef. “Moenie jouself blindstaar teen ‘ek kan nie’, want jy kan!” het sy met oortuiging gedeel – ʼn lewensmotto wat sy self daagliks uitleef.
Wat haar werk vir haar besonders maak, is die gevoel van vervulling wanneer sy sien hoe haar bydrae ʼn groter doel dien. Sy glo elke taak, hoe klein ook al, het betekenis wanneer dit met trots en toewyding gedoen word. En dié trots lê diep in haar Suid-Afrikaanse gees van volharding gewortel: “Ons gee nie op nie.”
Michelle se ma en ouma was haar grootste rolmodelle – vroue wat haar geleer het dat respek, eerlikheid en trots op jou naam ononderhandelbaar is. “Jy bou ʼn leeftyd aan jou naam, maar jy kan dit in vyf minute afbreek,” sê sy. Dié wysheid dra sy saam met haar in alles wat sy aanpak.
Sy glo in spanwerk – in mense wat saam ʼn ketting vorm, en waar elke skakel sterk moet wees. Vir haar gaan dit oor vertroue, eerlikheid en aanspreeklikheid: Om op te staan, foute te erken en daaruit te leer.
Wanneer sy nie by die werk is nie, ontspan Michelle saam met haar verloofde en familie, lag sy uit haar maag uit, en geniet sy die lewe voluit. In drie woorde beskryf sy haarself as laggend, lewendig en lief vir mense, en dis presies hoekom sy ʼn ware kantoorkampioen is: ʼn Vrou wat met haar menslikheid en hart die wêreld om haar beter maak.
KAREN BREEDT

As daar ooit ʼn vonk van ware entoesiasme in menslike vorm was, is dit Karen Breedt van Pretoria! Haar energie bruis soos borrels in ʼn glas vonkelwater – aansteeklik, opreg en vol lewe. Tydens my onderhoud met haar was dit duidelik: Administrasie is nie net haar beroep nie, dit is haar passie en sy leef dit uit met elke vesel van haar wese.
Karen se loopbaan het in die gange van ʼn hospitaal begin as saalsekretarese, maar haar pad het uiteindelik by die kerk uitgekom, waar sy al 18 jaar lank die administratiewe hartklop van die skribaat is. Tydens ons gesprek wys sy vir my haar arms vol notas, letterlik vol geskryf met herinneringe, idees en take, want dit is hoe sy werk: Met alles wat sy het.
Sy glo dat stiptelikheid, verantwoordelikheid en ʼn ware liefde vir mense die kern vorm van uitstaande dienslewering. Vir Karen is elke dag ʼn nuwe kans om te leer, te groei en iets te beteken vir ander. Haar raad aan jong kantoorpraktisyns is eenvoudig, maar wys: “Wees nederig en leer by ander; moenie dink jy weet alles nie.”
Wanneer sy nie besig is om dinge perfek op plek te kry nie, ontspan sy deur tranetrekker-flieks te kyk of haar huis blink te maak, want struktuur en orde gee vir haar vrede.
Drie woorde beskryf haar die beste: Presies, passievol en positief. Karen is die definisie van ʼn kantoorkampioen; borrelend, betroubaar en briljant!
HENRIËTTA VAN BILJON

Tussen al die glimlagte en stories van die dag het ek iemand ontmoet wat ʼn mens se hart diep aanraak. Henriëtta, ʼn vrou wie se kalm gees en opregte geloof soos lig deur haar hele wese straal. Sy is fraai en stylvol, met die mooiste blommerok en ʼn warmte wat jou onmiddellik tuis laat voel.
Henriëtta is nie net ʼn trotse ma en ouma nie, maar ook ʼn mentor, ondersteuner en inspirasie vir die jong mense saam met wie sy werk. Die studente laat haar hart klop en vir haar gaan dit nie net oor punte nie, maar oor mense. “As ek ʼn verskil in een student se lewe kan maak, het ek die wêreld versit,” sê sy nederig.
Van haar beginjare in Kimberley, deur haar loopbaanreis by Krygkor en Thales, tot haar huidige rol in administrasie, het sy ʼn lewe van diens, groei en integriteit gebou. Sy glo dat eerlikheid, respek en nederigheid die hoekstene van ʼn mooi loopbaan én mooi menswees is.
Wat haar laat uitstaan, is haar nederigheid, haar bereidwilligheid om “jammer” te sê, haar dankbaarheid vir elke kans om te dien, en haar geloof dat ons mekaar moet dra. “Die woord dankie beteken vir my die wêreld,” sê sy sag.
Henriëtta is ʼn vrou met karakter, styl en geloof, ʼn stille kampioen wat nie net haar werk met toewyding doen nie, maar ook die harte van ander aanraak. Want waar daar ʼn wil is, is daar altyd ʼn weg.
CORRIE DU TOIT

Wanneer jy met Corrie gesels, voel dit asof die wêreld net ʼn bietjie sagter word. Sy straal kalmte en warmte uit. Sy is die soort mens by wie kinders spontaan ʼn drukkie soek voordat die skoolklok lui.
Corrie het in 1999 gematrikuleer en aanvanklik by haar pa begin werk. Haar lewenspad het egter ʼn nuwe rigting ingeslaan toe sy haar man in 2010 ontmoet het. Hierdie ontmoeting het, volgens haar, alles verander. Hy het haar aangemoedig om haar administrasie- en kleindogtertjiedroom te volg: Om by ʼn skool te werk. Sedert 2019 is sy die hartklop van Laerskool Totius, in Van der Bijl se kantoor, waar haar liefde vir kinders, ouers en haar werk duidelik sigbaar is in alles wat sy doen.
Selfs in die skoolvakansie loer Corrie na haar e-posse, net om seker te maak alles is op datum. Haar toewyding spruit uit ʼn diep sin van verantwoordelikheid en ʼn opregte liefde vir haar gemeenskap. “Elke drukkie van ʼn kind is vir my spesiaal,” sê sy met ʼn glimlag. “Ek sien hulle groei deur die jare, nie net in punte nie, maar ook as mense.”
Sy beskryf haarself as saggeaard, lojaal en vasberade. Die “ouma van Totius”, haar kollega en mentor, het ʼn groot invloed op haar professionele groei gehad, iemand wat haar geleer het dat leiding met liefde en wysheid die grootste verskil maak.
Corrie glo dat uitmuntende kantoorpraktisyns dié is wat verder gaan sonder dat dit van hulle gevra word. Dié wat met liefde, respek en ʼn oop hart werk. Haar lewensles, geïnspireer deur haar seun, is kragtig: “Moenie moed opgee nie. Selfs al kom jy laaste in die wedloop, het jy steeds gewen.”
Vir Corrie gaan dit oor meer as net administrasie; dit gaan oor mense, oor sorg, oor geloof en elke kind se potensiaal. En miskien is dit juis hierdie sagtheid wat haar ʼn ware kampioen maak.
ELOISE VISSER

Daar is mense wat nie hard hoef te praat om gehoor te word nie. Hulle wysheid lê in hul stilte, sagtheid en hul krag. Eloise Visser is so ʼn mens. Sy beskryf haarself as ʼn kaalvoet plaasmeisie; rustig, stil en opreg. En tog straal daar iets besonders uit elke woord wat sy deel.
Gebore in Pretoria en grootgeword op ʼn plaas, is Eloise gevorm deur eenvoud, harde werk en eerlikheid. Ná skool het sy geweet sy wil haar eie pad stap, en haar eie toekoms bou. Sy het haar loopbaan as persoonlike assistent by ʼn dokter en professor begin, en het sedertdien haar plek in die wêreld van administrasie gevind. Dit is vir haar ʼn ruimte waar sy agter die skerms blink en ander se laste ligter maak. “Ek hou daarvan om te help, om orde te bring, en om mense se hande ligter te maak,” vertel sy met ʼn sagte glimlag.
Eloise het oor die jare al in verskeie bedrywe gewerk, van regte tot boekhouding en oral het sy haar merk gelaat. Vir haar is elke “dankie” en elke stukkie positiewe terugvoer ʼn herinnering dat sy ʼn verskil maak. ʼn Groot invloed in haar lewe was haar ‘werkma’ wat haar onder haar vlerk geneem het en haar aanmoedig het om altyd te bly groei. “Dis wonderlik om saam met mense te werk wat in jou glo,” sê sy nederig.
As kantoorpraktisyn glo Eloise dat gewilligheid en om proaktief op te tree die eienskappe is wat jou onderskei. Haar raad aan ander: “Enige struikelblok kan oorkom word, vir elke probleem is daar ʼn oplossing.”
Agter haar rustige geaardheid is ʼn warm hart. Sy beskryf haarself as vriendelik, positief en hulpvaardig – ʼn mammafiguur wat graag dinge vir ander mooi maak. Ná ʼn lang dag is daar vir haar min dinge beter as ʼn koppie koffie en ʼn rustige fliek.
Eloise is die bewys dat jy nie hard hoef te praat om ʼn groot impak te hê nie. Sagtheid, diensbaarheid en nederigheid is net so kampioenwaardig as enige groot prestasie.
ROCHELLE DOBSON

Wanneer jy met Rochelle Dobson gesels, raak jy sommer self opgewonde oor werk. Haar oë blink wanneer sy oor haar beroep praat, en elke woord wat sy uiter, straal passie en trots uit. Rochelle is die praktiese bewys dat werk nie net iets is wat jy doen nie – dis iets wat jy lééf.
Rochelle se loopbaan het tien jaar gelede by Heunis-Steel begin waar sy in die krediteure-afdeling haar eerste kans gekry het. Vandag dien sy as persoonlike assistent van die uitvoerende hoof, en sy sê met oortuiging dat sy dit vir niks in die wêreld sal verruil nie. “Ek kan nie wag vir Maandae nie,” sê sy met ʼn glimlag. “My werk is my trots, my plek, my tuiste.”
Sy glo dat haar geheim lê in haar energie en bereidwilligheid om altyd die ekstra myl te stap. Rochelle hou daarvan om besig te wees, om te help en om ander se werk ligter te maak. Sy glo dat ʼn uitstaande kantoorpraktisyn iemand is wat ondersteuning bied, ʼn verskil maak en met entoesiasme elke uitdaging aanpak.
Rochelle se ma was haar grootste inspirasie – ʼn hardwerkende vrou wat haar geleer het dat wanneer jy trots is op jou werk, dit karakter vorm. Vandag leef Rochelle daardie les elke dag uit met ʼn positiewe gesindheid en ʼn aansteeklike glimlag wat haar kollegas op hulle tone hou.
Wanneer sy nie in die kantoor is nie, ontspan sy graag in die gimnasium – haar manier om balans ná ’n besige dag te vind. Haar lewensmotto som haar perfek op:
“Jy is verantwoordelik vir jou eie lewe, jou eie loopbaan en jou eie toekomspad.”
Rochelle Dobson is meer as net ʼn kantoorpraktisyn – sy is ʼn lig in haar werkplek, ʼn bron van inspirasie vir ander, en beslis ʼn ware kantoorkampioen.
FILOMAINE SCHWARTZ

Daar is mense wat ʼn vertrek met hul stem vul, en dan is daar mense soos Filomaine, dié wat dit met hul teenwoordigheid vul. Sy praat met oortuiging, en haar woorde dra diepte wat ʼn mens stilmaak. Daar is iets in haar eenvoud wat groot is; iets in haar nederigheid wat wysheid dra.
Filomaine is in Pretoria gebore, maar haar pad het haar na die hart van die Noord-Kaap gelei. Na ʼn lewe tussen boere, stofpaaie, son en eerlike mense. Haar loopbaan het by ABSA begin as ʼn navraeklerk, maar die lewe het haar planne verander toe sy haar man in Kakamas ontmoet het. Vandag, meer as twee dekades later, is sy die kantoorbestuurder by ʼn landboumaatskappy – ʼn pilaar van diens, ondersteuning en menslikheid in haar gemeenskap.
“Ek het geleer dat die min genoeg is,” sê sy. “Dat jy nooit moet oordeel nie, maar eers moet luister.” Dis woorde wat nie net vertel wie sy is nie, maar ook hoe sy leef. Filomaine het die kuns bemeester om mens te bly, om elke fout as ʼn geleentheid te sien, elke dag as ʼn geskenk, en elke mens as waardevol. Haar werk bring haar die meeste vreugde wanneer sy sien hoe ander groei, hoe boere sterker word, en hoe mense hoop kry.
Sy glo dat ware sukses nie in titels of luuksheid lê nie, maar in verhoudings, en in die manier waarop jy ander laat voel. “ʼn Uitstaande kantoorpraktisyn,” sê sy, “is iemand wat haar werk geniet, wat passie uitstraal en haar span se hart verstaan.”
Filomaine se lewenslesse is eenvoudig, maar diep: Moenie bang wees om te vra nie, luister eers, moenie met konflik baklei nie, en bou eerder vrede. Haar motto weerspieël haar geloof: “Die Here sal jou nooit alleen laat staan nie.”
Elke dag probeer sy vir iemand iets kleins gee van haarself; ʼn glimlag, tyd, raad of net ʼn oomblik van opregte aandag. Want dit is wat Filomaine doen, sy gee werklik haar tyd.
Sy is diep, eg, en rou. ’n Vrou wat staan, en in haar staan, laat sy ander groei.
LINDIE VENTER

Lindie straal die rustige sekerheid uit van iemand wat weet wie sy is, en wie se anker diep in geloof gegrond is. Sy beskryf haarself as ʼn plaaskind uit Pretoria met sterk Christelike waardes wat haar hele lewe en loopbaan rig. “Jy kan nie sonder die Here in jou lewe nie,” sê sy sag, maar met oortuiging.
Haar liefde vir administrasie het al vroeg begin. As ʼn jong dogtertjie het sy saam met haar gesin Egoli gekyk, en in Tarien, die stylvolle assistent van Chris Vorster, het sy haar rolmodel gevind. “Ek wou soos sy wees,” vertel sy met ʼn glimlag. “Ek het altyd kantoor-kantoor gespeel – dit was nog altyd my passie.” Vandag leef sy daardie droom voluit as assistent vir die adjunk uitvoerende hoof van gemeenskapsontwikkeling by Helpende Hand. Buiten haar daaglikse werk is sy ook aktief betrokke by verskeie forums, altyd besig om te bou, te ondersteun en te dien.
Vir Lindie is professionaliteit ʼn roeping. “Hoe jy lyk, optree en kommunikeer, sê baie van jou karakter,” verduidelik sy. “Ek glo ʼn mens se professionaliteit is ʼn weerspieëling van respek – vir jouself, vir ander, en vir die werk wat jy doen.”
Haar ma was haar grootste mentor; ʼn vrou van beginsel, etiek en geloof. Daardie voorbeeld het Lindie se eie werketiek gevorm: Doen altyd jou bes, stap die ekstra myl en stel ander se belange eerste. “Om ander se hande sterker te maak, is deel van my roeping,” sê sy.
Vir jong kantoorpraktisyns het sy eenvoudige, maar kragtige raad: “Hê altyd ʼn notaboekie by jou. Skryf alles neer, maak notas, ontwikkel funksies en prosesse, want dit bring orde en duidelikheid.”
Agter die professionele voorkoms is Lindie ʼn liefdevolle vrou en ma. Sy en haar man vier vanjaar hul 25ste huweliksherdenking, en sy beskryf haar grootste wens as om die beste voorbeeld vir haar kinders te wees, en om vir hulle ʼn nalatenskap te laat wat permanent is en dieper as enigiets materieel.
Lindie is meer as net ʼn kantoorkampioen. Sy is ʼn geloofsgetuienis, ʼn pilaar van professionaliteit en ʼn inspirasie vir elke vrou wat met waardigheid, diensbaarheid en geloof haar werk doen.
Hierdie is die vroue wat wys dat kampioene nie altyd op die sportveld of verhoogde platforms staan nie. Hulle sit agter hul lessenaars, met oop harte en sterk hande, en bou elke dag aan iets groter as hulself.
Met trots vier ons hulle, met eer erken ons hulle en met dankbaarheid sê ons: Julle is die ware kantoorkampioene van Suid-Afrika.