Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hier is die topdriefinaliste van Solidariteit se #Hoopdraer-kompetisie vir 2025
Deur Kyla-Ann du Toit
Die topdriefinaliste van Solidariteit se #Hoopdraer-kompetisie vir 2025 is bekend. Die jaarlikse #Hoopdraer-kompetisie, aangebied deur die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, vier maatskaplike werkers wat lig bring waar daar donker is. Dit bring hulde aan diegene wie se werk selde in die kollig is, maar wie se impak diep en blywend is.
Vanjaar is 11 streekswenners aangewys en uit hierdie indrukwekkende groep word drie uitsonderlike finaliste vereer vir hul buitengewone diens aan hul gemeenskappe. Hiermee die topdriefinaliste, asook die wenner van die #Hoopdraer-kompetisie vir 2025:
Wenner: Marie Ubbink (Naboomspruit, Limpopo)

Marie se verhaal staan uit as een van roeping, dankbaarheid en ʼn diepgewortelde begeerte om hoop te bring – presies omdat sy dit self eens nodig gehad het.
“Ek is self ʼn produk van maatskaplike werk,” vertel sy. Ná die verlies van haar ouers is sy en haar broer in pleegsorg en later in ʼn kinderhuis geplaas. Dit was ʼn tyd van onsekerheid, maar ook een waarin sy die onmisbare rol van maatskaplike werkers eerstehands ervaar het.
Hoewel sy aanvanklik huiwerig was om maatskaplike werk as loopbaan te kies, het sy gou besef dit is nie bloot ʼn beroep nie, maar ʼn roeping. Vandag dien sy met oorgawe by Die Oog Aftreeoord, waar sy die welstand en waardigheid van ouer persone beskerm.
ʼn Jong vrou wat sy deur traumaterapie begelei het – en wat haar later gevra het om haar op haar troudag by die kerk in te bring – is een van Marie se kosbaarste ervarings in haar loopbaan. “Dit was ʼn diep emosionele oomblik wat bevestig het dat ek nie net ʼn professionele rol gespeel het nie, maar deel was van haar genesing,” sê sy.
Tweede plek: Karen van der Berg (Potchefstroom, Noordwes)

Met 34 jaar se ondervinding, ʼn sagte gees en ʼn besondere liefde vir kinders, is Karen ʼn ligdraer in elke rol wat sy vervul. Haar loopbaan het in die destydse gevangenisdiens begin, waar sy individue ondersteun het wat hoop, stabiliteit en herintegrasie nodig gehad het.
Karen glo ware diens is om iets vir iemand te beteken sonder om iets in ruil daarvoor te verwag – en dit is presies hoe sy haar werk leef.
Sy glo haar grootste beloning is die oomblikke wanneer hoop in ʼn kind se oë terugkeer; wanneer hulle groei, blom en weer begin glo. Haar passie vir kindersorg, haar vermoë om met empatie te luister en haar volharding in uitdagende omstandighede maak haar ʼn pilaar van hoop in haar gemeenskap.
“Dit is ʼn groot eer en ʼn herinnering dat wat ek doen, raakgesien word. Soms wonder ʼn mens of jy genoeg doen, maar hierdie erkenning wys dat elke poging die moeite werd is,” het sy gesê toe sy as een van die topdriefinaliste van vanjaar se #Hoopdraer-kompetisie aangekondig is.
Derde plek: Sanet Viljoen (Port Elizabeth, Oos-Kaap)

Sanet se roeping het reeds in graad 6 posgevat toe sy besef het sy wil mense help – veral kinders. Met 38 jaar se ervaring in die beroep, wat wissel van kinderwelsyn tot opleiding, het sy iemand geword na wie baie maatskaplike werkers regoor die land kyk vir leiding en inspirasie.”
“Ek sien elke keer daarna uit om nuwe maatskaplike werkers op te lei,” sê sy. Haar passie vir opleiding spruit uit haar begeerte om ander te bemagtig om beter, meer volledige en geïntegreerde hulp aan kinders te bied.
Van spelterapie tot die hantering van groot groepe kinders in ʼn kindersorgsentrum, Sanet het dit álles gedoen. Baie van die kinders vir wie sy gesorg het, het klein geskenkies vir haar gemaak. Sy bêre dit vandag nog as kosbare herinneringe.
Ná dekades in die maatskaplike veld, was sy diep geraak toe sy as streekswenner aangewys is. “Ek besef daar is baie maatskaplike werkers wat dit ook verdien – mense wat elke dag hul bes doen. Dit is dus ʼn groot eer om erken te word.”
ʼn Toekenning met ware betekenis
Die #Hoopdraer-kompetisie is veel meer as net ʼn titel. Dit is ʼn huldeblyk aan diegene wat elke dag die las en hartseer van ander saam met hulle dra – dikwels met min of soms geen erkenning. Hierdie topdriefinaliste toon onwrikbare passie, empatie en ʼn roeping om mense op hul pad na herstel, hoop en waardigheid te begelei.
Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, sê dit is ʼn groot voorreg om staatmakers in hierdie beroepsveld op dié manier te kan vereer.
“Die Hoopdraer-toekenning is ʼn spesiale toekenning wat die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand jaarliks toeken om uitmuntende werk in die maatskaplike professie te vereer. Dit gee erkenning aan individue wat met passie, empatie en toewyding in hul gemeenskappe werksaam is, en wat ʼn bron van hoop en inspirasie vir diegene rondom hulle is.”
Baie geluk aan die topdriefinaliste van Solidariteit se #Hoopdraer-kompetisie vir 2025. Julle is die ware ligdraers, staatmakers en inspirasiebronne vir die gemeenskappe wat julle dien – en nou ook ʼn #Hoopdraer!