loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
maatskaplike-werkers-se-maande-later-steeds-dankie-virspeelgoed-skenking

Foto Krediet: Solidariteit

Maatskaplike werkers sê maande later steeds dankie vir speelgoed-skenking

Deur Kyla-Ann du Toit

Toe byna 3 800 bokse opvoedkundige speelgoed in 2025 deur Eureka DIY aan die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk geskenk is, was dit vanselfsprekend dat dit ʼn tasbare verskil in gemeenskappe sou maak (lees hier). Vandag, maande later, word die ware impak van hierdie skenking al hoe duideliker.

Meer as 600 maatskaplike werkers regoor Suid-Afrika het elk ses bokse speelgoed ontvang om in hul terapeutiese werk met kinders te gebruik. Die speelgoed, spesiaal ontwerp om leer, spel en ontwikkeling te stimuleer, het vinnig ʼn permanente plek in terapiekamers, klaskamers en kinderhuise gevind.

Die sterkste getuienis van die projek se impak is egter die nagenoeg 100 dankbriewe wat die Maatskaplikewerkersnetwerk sedertdien ontvang het.

Van bokse speelgoed tot stories van hoop

“Julle stel ons in staat om die waardigheid van diegene wat ons dien te herstel. Saam maak ons ʼn verskil in ander se lewens.” Só lui Vistarus Mission Station in Port Elizabeth se dankbrief oor die skenking.

Dit is duidelik dat die skenking vir baie maatskaplike werkers oor veel meer as net speelgoed gaan. Dit is hulpmiddels wat hoop, groei en genesing in talle kinders se lewens bevorder.

By Laerskool Garsfontein het die nuwe speelgoed byvoorbeeld onmiddellik ʼn verskil gemaak in hoe kinders terapie ervaar. Die skool se leerderondersteuningspan skryf in hul brief dat elke kind wat in hul kantoor ingestap het se gesig sommer opgehelder het toe hulle die speelgoed sien.

“Een van die kleintjies het selfs gesê ons moes seker baie soet gewees het, want Kersvader het ons kom bederf,” lees die brief. Die personeel voeg by dat die speelgoed binne enkele dae hul spelterapie verdiep het en kinders gehelp het om makliker oor hul uitdagings te praat.

Vir terapeute wat daagliks met kinders werk wat trauma beleef, is sulke hulpmiddels van onskatbare waarde. ʼn Maatskaplike werker verbonde aan die CDK Trauma-sentrum beskryf die skenking as veel meer as net speelgoed. Volgens haar help dit terapeute om leer en emosionele genesing op ʼn speelse, kindgesentreerde manier te bevorder.

By Pretoria Preparatory School, ʼn skool wat op remediërende onderwys fokus, sê personeel dat spelgebaseerde leer noodsaaklik is vir hoe hul leerders nuwe vaardighede ontwikkel. Die nuwe speelgoed het hul terapeutiese en klaskamerhulpbronne aansienlik uitgebrei, wat kinders help om met meer selfvertroue en entoesiasme te leer.

Kinderhuise ervaar soortgelyke voordele. By Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis, waar honderde kinders versorg word, beskryf die bestuur die skenking as ʼn daad van opregte omgee uit die gemeenskap, wat ʼn werklike verskil in die lewens van die kinders in hul sorg maak.

Ook organisasies soos AFM Welfare beklemtoon dat die speelgoed kinders se kognitiewe en sosiale ontwikkeling bevorder en terselfdertyd vreugde in hul alledaagse lewe bring.

Die krag van ʼn netwerk

Die dankbriewe kom van regoor die land – van skole, privaat praktyke, kinderhuise en verskeie welsynsorganisasies. Alhoewel elke organisasie unieke uitdagings ervaar, deel hul boodskappe ʼn gemeenskaplike tema: hierdie hulpmiddels help maatskaplike werkers om hul werk beter te doen en kinders op nuwe maniere te ondersteun.

Die briewe dien ook as ʼn herinnering aan die krag van ʼn netwerk wat leef en werklik ʼn verskil maak. Wat begin het as ʼn enkele skenking van opvoedkundige speelgoed, het uiteindelik ʼn kettingreaksie van ondersteuning geskep. Van die skenkers tot die logistieke hulp wat die verspreiding moontlik gemaak het, tot die maatskaplike werkers wat die speelgoed elke dag gebruik – almal vorm deel van ʼn groter gemeenskapsprojek (lees hier).

Hoop wat bly voortleef

Vir die kinders wat uiteindelik met hierdie speelgoed speel, is dit dalk net ʼn speletjie of ʼn nuwe aktiwiteit, maar vir die maatskaplike werkers wat hulle begelei, is dit soveel meer. Dit is ʼn hulpmiddel wat help om vertroue te bou, ʼn manier om gesprekke te begin en soms selfs die beginpunt van genesing.

Soos die dankbriewe bewys, was hierdie skenking nie net ʼn eenmalige gebaar nie. Dit is ʼn projek waarvan die impak landwyd voortduur – elke keer wanneer ʼn kind speel, leer en groei.

Sluit dus vandag nog by die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk aan en word deel van ʼn gemeenskap wat omgee en werklik ʼn verskil maak!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel