loading
avatar
Artikels
1 week gelede
rustenburgse-maatskaplike-werker-louise-van-zyl-word-as-hoopdraer-vereer

Foto Krediet: Solidariteit

Rustenburgse maatskaplike werker Louise van Zyl word as #Hoopdraer vereer

Deur Kyla-Ann du Toit

Vanjaar is sewe streekswenners regoor Suid-Afrika as #Hoopdraers van 2026 vereer, en een van hierdie uitsonderlike wenners is Louise van Zyl van Rustenburg in Noordwes. Deur haar toewyding aan maatskaplike werk en haar passie om veral bejaardes en hul families te ondersteun, bring Van Zyl daagliks hoop aan mense wat dit die nodigste het.

Die #Hoopdraer-toekenning, wat deur Solidariteit Helpende Hand in samewerking met die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk toegeken word, vereer jaarliks maatskaplike werkers wat deur hul toewyding en diens ʼn blywende verskil in hul gemeenskappe maak. Die wenners is vroeër vanjaar deur die publiek genomineer vir hul passievolle toewyding en bereidwilligheid om die ekstra myl te stap vir die mense wat hulle dien.

Vir Van Zyl lê haar passie vir maatskaplike werk in haar liefde vir mense en haar roeping om ander te ondersteun.

“Ek vertel altyd met trots dat ek nooit geweet het wat ʼn maatskaplike werker is nie. Toe ʼn toelatingsbeampte my vra wat ek wil studeer, het ek gesê: ‘Ek weet nie, ek weet net ek hou van mense.’ Só het my reis begin, en ek glo vandag dat maatskaplike werk vir my ʼn Godstaak is – wat ʼn voorreg om elke dag ʼn taak van God uit te voer,” sê sy.

Volgens Van Zyl gee die #Hoopdraer-toekenning erkenning aan die verskil wat maatskaplike werkers dikwels stil en ongesiens maak.

“Dit is ʼn groot voorreg om die toekenning te ontvang – dit voel nog onwerklik. Partykeer wonder ʼn mens of jy werklik ʼn verskil maak, want wat jy doen is nie altyd groot of sigbaar nie. Maar dan kry jy ʼn ‘dankie’ hier en ʼn ‘jy maak ’n verskil’ daar, en dan besef jy dat jy wel iets vir iemand beteken,” sê sy.

“Die Hoopdraer-toekenning herinner ʼn mens daaraan dat dit wat jy doen genoeg is om hoop te skep, al is dit net vir een persoon. Dit wys ook vir maatskaplike werkers dat hulle ʼn verskil maak, nie net vir hul kliënte nie, maar ook vir die bedryf.”

Volgens Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, speel maatskaplike werkers ʼn onmisbare rol in die versterking van gemeenskappe en die herstel van hoop waar dit ontbreek.

“Elkeen van vanjaar se hoopdraers maak ʼn verskil in hul direkte gemeenskappe, asook binne die beroep. Hulle staan op vir die erkenning wat die beroep verdien en plaas weer lig op maatskaplike werk as ʼn kernberoep. Hierdie hoopdraers is merkwaardige mense, en dit is juis waarom hulle vereer moet word vir die bydrae wat hulle in hul gemeenskappe maak.”

Die #Hoopdraer-toekenning dien as ʼn belangrike herinnering dat daar mense regoor Suid-Afrika is wat, dikwels stil en ongesiens, hoop in hul gemeenskappe kweek en ʼn werklike verskil maak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel