loading
Artikels
10 maande gelede
hier-is-die-wenners-van-2023-se-onderwyser-van-die-jaar

Foto Krediet: Solidariteit

Hier is die wenners van 2023 se Onderwyser van die Jaar

Deur Maryna Eksteen

Die tyd het aangebreek om die wenners van Solidariteit se Onderwyser van die Jaar-kompetisie aan te kondig.

“Die Onderwyser van die Jaar-kompetisie is ʼn inisiatief van die Solidariteit Onderwysernetwerk om onderwysers te bedank wat dikwels in uitdagende en uiters moeilike omstandighede hulle werk moet doen. Daar rus ʼn groot verantwoordelikheid op hulle skouers met klasse vol leerders daagliks in hulle klasse. Solidariteit se onderwysernetwerk het dus besluit dat hierdie mense vereer moet word vir dit wat hulle doen,” sê Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se Onderwysernetwerk.

Elke liewe onderwyser wat genomineer is verdien ʼn trofee vir hul harde werk en die liefde wat hul vir hul beroep uitoefen. Die stemproses was baie straf en die Solidariteit Onderwysernetwerk se adviesraad moes mooi beoordeel om die wenners aan te kondig.

Robé Grech-Wessels stap weg met die 2023 titel van Onderwyser van die Jaar in die kleuterskoolkategorie. Robé het onderwys gekies omdat sy glo dat sy tot hierdie professie geroep is en volgens haar het die Here haar toegerus met ʼn gawe om met kinders te kan werk.

“Ek is so bevoorreg om vir Onderwyser van die jaar 2023 genomineer te word. Dit is vir my ‘n absolute ‘blessing’ en ek wil net dankie sê aan my Hennopspark-familie, my ouers, my familie, my kollegas en die beste ouers en kinders wat ek het in my klas. Hierdie was die grootste verassing wat ek nog ooit gehad het.”  

Vicki Kriel se hart klop al vir die afgelope 12 jaar blou, en nie omdat sy ʼn Bloubul-ondersteuner is nie, maar omdat sy ʼn “Wonnie-onnie” is waar elkeen waardevol is. Dié dinamiese juffrou is dus die wenner van Onderwyser van die Jaar in die laerskoolkategorie.

“Wat ‘n absolute vreugde, ongelooflike oomblik in my lewe. Ek het dit glad nie verwag nie. Ek wil graag dankie sê aan my hoof, Mev. Lu Kruger en so ook aan al my kollegas en my familie wat my verras het vanoggend. Aan elke klein lyfie in my klas, ek is ongelooflik lief vir julle. Dit is julle wat hierdie werk spesiaal maak.”

Helene Louise Rossouw van Hoërskool Welkom Gimnasium is die Onderwyser van die Jaar in die hoërskoolkategorie. Helene het in 2003 by Welkom Gimnasium begin skoolhou, aanvanklik in Toerisme en Verbruikerstudies, maar sy is nou die voltydse vakhoof van Verbruikerstudies. Helene het ʼn trotse 20 jaar-rekord van ʼn 100%-slaagsyfer in graad 12, en vir die afgelope 10 jaar behaal haar Verbruikerstudie-leerders jaarliks sewe A-simbole.

“Ek wil eerstens baie dankie sê aan Solidariteit vir hierdie geleentheid. Dis ‘n baie groot voorreg om gekies te wees as 2023 se onderwyser van die jaar. Ek wil dankie sê vir elke mens wat my vertrou met hulle kinders, vir my gestem het en my kollegas. Dit is God se genade. Baie dankie.”

Baie geluk aan al ons onderwysers.

Klik hier indien jy nog nie ʼn lid van Solidariteit is nie en word vandag nog deel van die #Onderwysernetwerk. Wie weet, dalk stap jy volgende jaar weg met die Onderwyser van die Jaar-titel.

Wees vry, veilig en voorspoedig in jou beroep!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel