
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hier is ʼn lys vrae wat jý tydens ʼn onderhoud kan vra
Deur Maryna Eksteen
Om vir ʼn werksonderhoud te gaan, kan een van die stresvolste ervarings wees wat jy beroepsgewys kan ondervind. Die gedagte dat jy jouself moet bewys, jou vaardighede en ervaring in die beste moontlike lig moet stel, en terselfdertyd kalm en professioneel moet oorkom, kan oorweldigend wees. Die druk om ʼn goeie indruk te skep en die regte antwoorde te gee, kan dikwels tot angs en onsekerheid lei. Om alles te kroon eindig ʼn onderhoud altyd met die volgende vraag: “Is daar iets wat jy vir ons wil vra?”
So belangrik as wat dit is om die onderhoudvoerders se vrae goed te beantwoord, is dit ook belangrik om sélf vrae te vra. Dit wys nie net dat jy goed vir die onderhoud voorberei het en in die pos en maatskappy belangstel nie, maar dit kan jóú ook help om te bepaal of die werk jou regtig pas.
Hier volg ʼn lys vrae wat jy ná jou onderhoud kan vra. Die vrae is saamgestel deur Anna Papalia, die skrywer van Interviewology, The New Science of Interviewing.
Vrae oor die spesifieke posisie:
- Wat is u verwagtinge van my in hierdie pos?
- Wat is die belangrikste doelwit wat ek binne die eerste 90 dae moet bereik?
- Hoe lyk die prestasie-evaluasieproses hier? Hoe gereeld sal ek formeel geëvalueer word?
- Watter maatstawwe of doelwitte sal gebruik word om my prestasie te evalueer?
- By watter projekte gaan ek onmiddellik betrokke wees?
- Hoe lank sal dit wees voordat ek … (met kliënte vergader, verantwoordelikheid vir my eie rekeninge het, met ander afdelings moet skakel en saamwerk ens.)?
Vrae oor die span:
- Watter tipe vaardighede ontbreek tans in die span wat u graag deur die nuwe aanstelling wil aanvul?
- Wat is die grootste uitdagings wat ek in hierdie posisie kan verwag?
- Word daar verwag dat die hoofverantwoordelikhede in hierdie posisie binne die volgende ses maande tot ʼn jaar gaan verander?
- Kan u my meer vertel van die span met wie ek sal saamwerk?
- Met wie sal ek die nouste saamwerk? Met watter ander afdelings of eenhede sal ek interaksie hê?
- Kan u vir my ‘n bietjie meer inligting gee oor my direkte ondergeskiktes?
- Wat is hul sterkpunte en wat is die span se grootste uitdagings?
Vrae oor die maatskappy:
- Wat is die huidige doelwitte waarop die maatskappy fokus, en hoe werk hierdie span daaraan om hierdie doelwitte te bereik?
- Wat oor die maatskappy se toekoms maak u die meeste opgewonde?
- Hoe sou u die maatskappy se waardes beskryf?
- Hoe het die maatskappy oor die afgelope paar jaar verander?
- Wat is die maatskappy se planne vir groei en ontwikkeling?
Om vrae tydens ʼn werksonderhoud te vra is ʼn kragtige manier om jouself van ander kandidate te onderskei en om waardevolle insig in die posisie te kry. Dit help jou om beter besluite oor jou loopbaan te neem, en dit wys dat jy ernstig is oor die geleentheid wat voor jou lê.
Raak betrokke by jou aanlyn beroepstuiste op Solidariteit en bly op hoogte van die jongste nuus en tendense in jou beroep. Klik hier en sluit vandag nog aan! Saam sal ons vry, veilig en voorspoedig bou aan jou toekoms want #JyHoortHier.