loading
Artikels
5 maande gelede
hier-is-solidariteit-se-jouyster2024-wenner

Foto Krediet: Solidariteit

Hier is Solidariteit se #JouYster2024-wenner!

Deur Ané Janse van Rensburg

Solidariteit se jaarlikse #JouYster-kompetisie vier vandag weer ʼn waardegedrewe, ambisieuse dromer wat met passie in hulle beroep lei. Ná ʼn proses van uitskakeling en stemming, is die topvyf kandidate in die kompetisie uiteindelik afgeskaal tot die een #JouYster-wenner.

Vanjaar se finaliste was Joggie van der Westhuizen, Floris Kruger, Andries van Deventer, Stephen Bothma en Wentzel Schuster. Stephen Bothma op die ou end met die titel weggeloop het.

Bothma is as die wenner aangewys nadat die topvyfkandidate voor ʼn beoordelaarspaneel verskyn het. Hierdie paneel het bestaan uit lede van die Solidariteit Ambagnetwerk se adviesraad wat vooraanstaande ambagslui is, elkeen met ʼn gevestigde reputasie in die ambagwêreld.

“Die beteken vir my die wêreld om te weet soveel mense het in my geglo en my vertrou, en dat hulle gedink het ek kan vir iemand ʼn yster in die lewe wees,” sê Bothma.

Die doel van die #JouYster-kompetisie is nie net om erkenning te gee aan uitnemendheid in die ambagswêreld nie, maar ook om aan die gemeenskap terug te gee. Die wenner van die #JouYster-kompetisie kry die geleentheid om, in samewerking met die Solidariteit Ambagnetwerk, ʼn beurslening wat na hom of haar vernoem word, aan ʼn behoeftige voornemende Sol-Tech-student toe te ken. Hierdie lening stel die ontvanger in staat om vir die ambag van sy/haar keuse aan Sol-Tech te studeer en om uiteindelik ʼn rooiseëlkwalifikasie in ʼn spesifieke ambag te verwerf.

Die #JouYster-wenner kry ook kans om sy of haar kennis en vaardighede aan ʼn jonger persoon oor te dra deur as ʼn mentor vir daardie persoon op te tree.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het by die geleentheid gesê dat die ambagsberoep in die geskiedenis nog altyd gesien is as edel beroepe, en die primêre taak van die destydse gildes was om die arbeidsadel van die ambagte te beskerm. “Hierdie gildes het in die eerste plek gekyk na die handhawing van standaarde in die ambag, en in die tweede plek het hulle ʼn ruimte vir die bou van verhoudinge en ʼn gevoel van gebondenheid geskep. In die derde plek is toegesien dat díe skat van kennis na die volgende geslag oorgedra word. Dit is wat ons hier by die Solidariteit Ambagnetwerk doen: Ons beskerm die beroep, bied geborgenheid en dra ons kennis oor aan die volgende geslag.”

Bothma raai jong mense aan om deel te word van só ʼn inisiatief en om by Solidariteit se beroepsnetwerke aan te sluit.

Dirk Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Ambagnetwerk, sê: “Dit is ʼn groot voorreg om vir die vierde jaar agtereenvolgens ons ysters aan te wys. Die ambagte bou – ons is gemaak om ʼn permanente verskil te maak.’’

Solidariteit staan vir uitnemendheid en wil diegene bemagtig wat hul beroepsdrome met passie en ywer najaag. Moenie die kans verspeel om by ʼn gemeenskap aan te sluit wat saam met jou wil groei en met vasberadenheid ʼn verskil maak nie. Sluit vandag aan by jou beroepsnetwerk, want dit is hier waar jy hoort!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel