loading
Blogs
1 jaar gelede
hoe-afrikaans-is-jy

Foto Krediet: Solidariteit

Hoe Afrikaans is jy?

Daar iets eie aan Afrikaanswees. Dis so amper asof ’n mens wil skryf “Afrikaans-wees”, want die waarheid is dat dit nie net ʼn toestand van bestaan is nie, maar eerder iets wat jou toestand van bestaan definieer en omskryf.

Daar is soveel maatstawwe vir hoe Afrikaans “mens” kan wees. Aan die een kant van die spektrum is die onverskrokke puris, wat woorde soos onverskrokke gebruik. Aan die ander kant is jou buurman wat soms ’n bietjie te veel en te gereeld sonder sy hemp gras sny en geelvetbiltong eet – albei met merkbare invloede op sy liggaam.

Meer as dit alles, wel, is Afrikaans ʼn onverbreeklike deel van jou wese. Dis die taal waarin jy die lekkerste baklei; dis die enigste woorde waaraan jy kan dink in daai oomblikke waar jou Engels opraak. Dit is die lekker oomblikke waar ’n mens lag en gesels sonder om te dink aan wie jy probeer wees, en net kan wees wie jy is.

’n Mens hoef nie te dink aan wie jy behoort te wees in Afrikaans nie, want in Afrikaans sit Karen Zoid en Laurika Rauch om een vuur. Ingrid, Antjie, en Breyten loop deur jou are, al was prosa en poësie jou nie mees gunsteling op skool nie. Sonder dat jy dit weet praat jy die taal waarin daar nie net die beste baklei word nie, maar die beste vrede gemaak word. Dink aan woorde soos “waaghalsig”, of sê “Olke bolke riebietjie stolke” in jou kop op, want jy gaan dadelik daai onmiskenbare gevoel van Afrikaanswees ervaar.

Dit is om in ʼn kerk in te stap en elke woord van die Oorwinningslied te ken, so asof iemand dit nooit vir jou moes leer nie, maar meer asof jy met die lirieke ingebore is. Dit is om in ʼn winkel in te stap en nie net verlig te wees omdat jy jou moedertaal rondom jou hoor op klank nie, maar sonder om te wik of te weeg, te wéét jy dat jy nou tuis is; waarokal jy jouself mag bevind.

Afrikaans is een van daai tale wat homself só in sy sprekers oor verskeie dialekte heen versinnebeeld. Dit bly net mooi. Dit bly mooi om te dink aan die mengelmoes van tale en oomblikke wat bymekaar moes kom om hierdie uiteenlopende taal oor die laaste honderd jaar te skep. Diversiteit is in die DNA van Afrikaans en só weerspieël sy sprekers presies net dit.

So vertel ons, hoe Afrikaans is jy? Is jy so Afrikaans dat jy jou visplakke eenkant toe skop om te sokkie? Is jy so Afrikaans dat jy dit partykeer oorweeg om ʼn tweede kortbroek aan te trek wanneer dit koud raak? Of is jy so Afrikaans dat jy van graad 1 tot 12 spreekkoor gedoen het en minstens drie Boerneef-gedigte uit jou kop uit ken, en altyd sal?

Ongeag hoe Afrikaans jy is, weet net dat om Afrikaans te praat jou klaar genoeg Afrikaans maak. Niks kan jou siel en bloed skei van hierdie taal wat net nie kan einde kry nie. Hardkoppig, deurlopend veranderend, ongenaakbaar, onbeskof, en meeste van alles soos onkruid, vergaan Afrikaans nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel