
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe gesoute bestuurders in ‘n jong tegnologiese wêreld moet aanpas
Deur Karen Waldeck
Daar is ʼn bekende gesegde: “Jy is nooit te oud om te leer nie.” Maar hoe pas dit in ʼn wêreld waar die tegnologie vinniger verander as wat die meeste mense kan byhou? Vir ouer besigheidseienaars kan dit soms voel of jy in ʼn stroomversnelling van tegnologie beland het waar jy sukkel om kop bo water te hou. Tog lê die sleutel tot sukses nie daarin om die tegnologie te vrees nie, maar eerder om dit te omhels en aan te pas.
Aanpassing: ʼn Leerskool vir die toekoms
Die eerste stap is om jouself aan nuwe idees bloot te stel. Dink aan hoe generasie Z in die werkplek tegnologie as ʼn natuurlike hulpmiddel gebruik, soos verduidelik in hierdie artikel. Die jonger geslag se vermoë om vinnig by digitale platforms aan te pas is nie net te danke aan hulle tegnologiese vaardighede nie, maar ook aan hulle ingesteldheid om altyd nuwe dinge te leer.
Begin deur klein veranderings te maak. As jy byvoorbeeld nog jou besigheid se boekhouding op papier doen, oorweeg dit om ʼn eenvoudige digitale stelsel soos QuickBooks of Xero te implementeer. Hierdie platforms maak dit makliker om jou finansies te bestuur en gee jou meer tyd om op ander belangrike aspekte van jou besigheid te fokus.
Die rol van tegnologie
Om in ʼn digitale wêreld te oorleef, moet jy ook verstaan hoe tegnologie jou klante se behoeftes verander. Dink aan hoe kliënte deesdae hul inligting aanlyn soek en op grond van resensies en sosiale media besluite neem.
Om jou besigheid relevant te hou, kan jy die volgende doen:
- • Benut sosiale media – skep ʼn besigheidsprofiel op platforms soos Facebook en Instagram. Dit is nie net vir jong mense nie; baie ouer klante gebruik ook hierdie platforms om produkte en dienste te vind.
- • Verkry ʼn professionele webwerf – ʼn webwerf is jou aanlyn besoekkaart. Selfs ʼn eenvoudige eenbladsy-webwerf wat jou dienste, produkte en kontakbesonderhede aantoon, kan jou besigheid se sigbaarheid aansienlik verbeter. Jy kan platforms soos GoDaddy gebruik wat webtuistes vir jou opstel waar jy net jou inligting invul.
- • Aanvaar aanlyn betalings –dienste soos PayFast of SnapScan maak dit maklik om betalings van kliënte aanlyn te ontvang, wat jou inkomstevloei verbeter.
Is jy bereid om te verander?
Een van die grootste struikelblokke vir ouer entrepreneurs die idee dat hulle “te oud” is om nuwe vaardighede aan te leer. Maar wat as die onvermoë om te verander die werklike risiko inhou?
Ouer bestuurders het ʼn unieke voordeel: lewenservaring. Jou ervaring gee jou ʼn dieper begrip van jou mark en kliënte – ʼn insig wat jonger entrepreneurs soms nog moet aanleer. Wanneer jy dit met die voordele van tegnologie kombineer, kan jy ʼn mededingende voorsprong kry.
Wenke vir suksesvolle aanpassing
- 1. Omring jouself met kundiges: Stel jong, tegnologies vaardige werknemers aan of werk saam met ʼn digitale konsultant om jou te help.
- 2. Bly op hoogte: Volg aanlyn kursusse oor relevante tegnologieë deur webtuistes soos Solidariteit se aanlyn akademie.
- 3. Wees geduldig: Om te leer hoe tegnologie werk, neem tyd. Gee jouself die ruimte om foute te maak en te groei.
- 4. Netwerk met ander: Leer by ander besigheidseienaars wat reeds suksesvol digitale verandering geïmplementeer het.
Hou jy tred met nuwe tendense in die werkplek?
Dit is nooit maklik om verandering te omhels nie, maar dit is nodig om relevant te bly. Die goeie nuus is dat jy nie alleen op hierdie reis is nie. Dink aan Solidariteit se missie om gemeenskappe te versterk. Net soos hulle jonger werkers help om in ʼn tegnologiese wêreld te floreer, kan ouer bestuurders ook daardie ondersteuning benut om aan te pas en te groei.
Maak 2025 die jaar waarin jy tegnologie nie net oorleef nie, maar gebruik om jou besigheid na nuwe hoogtes te neem. Dit is nooit te laat om tot die eerste stap oor te gaan nie. Waar gaan jy begin?
Solidariteit stap die volledige loopbaanpad saam met jou en bemagtig elkeen om nuwe vaardighede aan te leer. Solidariteit se voortgesette leeraanbod is boonop gratis beskikbaar vir lede en beskik reeds oor byna 150 aanlyn kursusse wat ontwerp is om jou in jou beroep te bemagtig – ja, selfs om jou rekenaarvaardighede op te skerp! Skep jou gratis profiel, koppel jou lidmaatskap en begin vandag!