loading
Artikels
19 uur gelede
n-duur-prys-te-betaal-met-die-verkeerde-aanstelling

Foto Krediet: OkayDeer

ʼn Duur prys te betaal met die verkeerde aanstelling

Deur Nico Strydom

ʼn Onderneming kan ʼn duur prys betaal met ʼn verkeerde aanstelling en dit is waarom dit noodsaaklik is vir werkgewers om deeglike agtergrondondersoeke te doen en behoorlike keuringsprosesse in plek te hê.

“ʼn Verkeerde aanstelling kan ʼn onderneming veel meer as net ʼn maandelikse salaris kos,” sê Jennifer Barkhuizen, bemarkingshoof by Managed Integrity Evaluation (MIE), die grootste agtergrondsiftings- en keuringsmaatskappy in Suider-Afrika, asook ʼn afdeling van Mettus.

“Dit kan ʼn maatskappy se finansiële gesondheid en reputasie bedreig, en ook ʼn invloed op spanmoraal hê. Met die opkoms van tegnologie kan agtergrondondersoeke ʼn onderneming se beste verdediging wees teen verkeerde aanstellings wat die onderneming uiteindelik duur te staan kan kom.”

Volgens Barkhuizen is dit maklik om net op ʼn salaris as die hoofuitgawe by ʼn aanstelling te fokus. “Die werklike koste beloop egter veel meer. Die gemiddelde koste om ʼn nuwe werknemer aan te stel is sowat R30 000, wat aansienlik toeneem hoe meer senior die pos is. Dit is egter net die oortjies van die seekoei, want daar is ook ander faktore wat in ag geneem moet word, soos onder meer die tyd wat aan onderhoude en opleiding bestee word,” sê sy.    

ʼn Verkeerde aanstelling behels dus ook vermorste ure om iemand op te lei wat nie die gewenste resultate lewer nie, wat ʼn uitkringeffek van verlore produktiwiteit skep. “Dit kan egter selfs in sommige gevalle lei tot nóg kostes wat aangegaan moet word om iemand af te dank, insluitend skeidingspakkette, regskoste of selfs nog erger, dispute oor onregmatige ontslag wat koste verder kan verhoog.”

Die verkeerde aanstelling dreineer nie net jou beursie nie – dit kan ook die onderneming benadeel.

Dit kan ook ʼn uitkringeffek op die res van die span tot gevolg hê, insluitend ’n impak op spanmoraal, produktiwiteit en selfs dat ander personeel eerder bedank as om saam met die betrokke persoon te werk. 

Wanneer daar nie deeglike agtergrondondersoeke uitgevoer word nie en behoorlike keuringsprosesse nie in plek is nie, kan dit ook daartoe lei dat iemand aangestel word wat oneerlik was oor hul kwalifikasies of selfs ʼn kriminele rekord het.

“Daar was die afgelope paar jaar prominente voorbeelde hiervan en dit hou nie net finansiële koste in nie, maar dit kan ook jou onderneming se reputasie groot skade berokken. Daar is dus nie plek vir kortpaaie wanneer dit by aanstellings kom nie.”

Volgens Barkhuizen is deeglike agtergrondondersoeke die eerste linie van verdediging teen duur foute. “Om vas te stel of iemand ʼn kriminele rekord het, hul kwalifikasies te verifieer en in hul werksgeskiedenis te delf, is kritieke stappe wat jou onderneming van rampspoed kan red.

“Om ʼn duidelike, konsekwente proses in plek te hê, verseker dat elke nuwe aanstelling deur dieselfde proses gaan, wat jou maatskappy teen beide finansiële en reputasieskade beskerm.”

Solidariteit bied ʼn kursus, “Die sleutel tot suksesvolle aanstellings”, aan wat werkgewers bemagtig om die regte keuses vir hulle spanne te maak. Hierdie kursus gee praktiese wenke vir organisasies om die regte personeel aan te stel en kan gratis deur lede van Solidariteit voltooi word.

Wil jy hierdie kursus voltooi? Klik hier en vind uit hoe dit werk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel