Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe lank behoort jy by een werk te bly?
Deur Dr. Eugene Brink
Hoe lank behoort jy by een werk te bly? Wel, hoe lank is ʼn stukkie tou? Dit is ʼn baie subjektiewe kwessie en teorieë en opinies in hierdie verband is volop.
Dit kan egter nie betwis word dat die reëls van werk oor die afgelope paar dekades aansienlik verander het nie.
“Baby boomers” was bekend vir hulle werksetiek en lojaliteit. As jy iewers tussen 1946 en 1964 gebore is, is die kanse goed dat jy ʼn werk – enige werk – as ʼn voorreg beskou het wat nie versmaai moes word nie, en om bedanking ligtelik op te neem, is en word steeds heftig deur hierdie generasie afgekeur.
As jy tussen 1980 en 1995 gebore is, is die teenoorgestelde amper waar. Om van een werk na ʼn ander te spring, is die aanvaarde norm vir Millenniërs, maar ook hulle sal meer rustig raak namate hulle ouer word.
Om in vandag se tyd ʼn goeie werk te hê en om te verseker dat daar in die toekoms toegang tot goeie werk sal wees, het ʼn mens egter die regte kennis nodig. Om hierdie kennis te verkry, is die oprigting van kennisfabrieke vandag meer nodig as ooit tevore. Solidariteit-lede en hul kinders moet toegerus word met kennis, en ons moet besef dat ons as Afrikaanse gemeenskap self verantwoordelikheid moet neem om dit te vermag. Só stap Solidariteit jou loopbaanpad elke tree saam met jou.
Dit is onteenseglik waar dat om vir ʼn lang tyd in een werk te bly, vervullend sowel as nadelig vir jou loopbaan en professionele groei kan wees. Niks is daarmee verkeerd om sekere werk by ʼn spesifieke maatskappy te geniet nie. Bo en behalwe die bevrediging wat jy daaruit kry, toon dit toewyding en lojaliteit – deesdae skaars kommoditeite – en voorsien jou van waardevolle ondervinding.
Die negatiewe sy is dat om vir uitgebreide tydperke in ʼn werk te bly, ʼn manier kan wees om verandering te vermy en ʼn teken kan wees dat jy onwillig is om by iets nuuts aan te pas.
Maar wat sê die statistieke en is daar ʼn (relatiewe) aanvaarbare of gesonde middeweg?
Alison Doyle, ʼn deskundige op die gebied van menslike hulpbronne en werk, wys op onlangse statistieke van die VS se arbeidsburo in hierdie verband. “Die aantal jare wat loon- en salaristrekkers vir hulle huidige werkgewer werk, is gemiddeld vier tot ses jaar,” sê sy.
Daar is egter ouderdom- en sektornuanses verbonde aan hierdie vasgestelde syfer:
- Die gemiddelde tydperk vir werkers tussen 25 en 34 jaar oud is 3,2 jaar.
- Die gemiddelde tydperk vir werkers tussen 55 en 64 jaar oud is 10,1 jaar.
- Werkers in bestuurs-, professionele en verwante poste se hoogste gemiddelde tydperk is 5,5 jaar.
- Werkers in diensleweringposte het die laagste gemiddelde tydperk (3,2 jaar).
Robert Archer, streeksdirekteur van menslike hulpbronne by die Britsgebaseerde werwingsfirma PageGroup, sê verandering is nie net wenslik nie, maar ook noodsaaklik. “In tegnologie, reklame en openbare betrekkinge, waar dit bekend is dat beroepslui elke paar jaar of selfs maande van werk verander, kan die spring van werk tot werk as ʼn noodsaaklikheid beskou word om tred te hou met veranderings in die mark,” sê hy.
Amanda Augustine, voorligtingsbeampte vir TopResume, sê ideaal gesproke behoort jy vir ʼn minimum van twee jaar by ʼn spesifieke werk te probeer bly. “Weens die tyd en geld wat dit neem om die regte kandidaat te vind en die investering in opleiding, wil geen werkgewer ʼn fout maak met ʼn aanstelling en sy nuwe werknemer by die deur sien uitstap nie,” sê sy.
Daar is natuurlik uitsonderings. Indien jy te make het met ʼn nare baas, aan erge werkplekstres ly of ongelukkig is in jou loopbaan, moet jy doen wat nodig is om dit te verander. “As alle tekens daarop dui dat jy die verkeerde keuse gemaak het met die aanvaarding van ʼn sekere werk, is daar geen fout daarmee om kop uit te trek nie,” sê sy.
Sy voeg die voorwaarde by dat dit sin moet maak in die konteks van jou oorhoofse loopbaandoelwitte en jy moet jou soektog na ander werk begin sodra twyfel sy kop uitsteek.
Victoria Bethlehem, die groepshoof van talentverkryging by die werwingsfirma, Adecco, sê sy sal iemand gunstig bejeën wat elke drie tot vyf jaar van werk verander het. ”Immobiliteit is nooit wenslik in ʼn kurrikulum nie. Dit beteken nie noodwendig dat die kandidaat van verskeie maatskappye en werkgewers moes verander het nie.
“Wat belangrik is, is om te sien dat die kandidaat ʼn oop benadering jeens verandering en ʼn voortdurende belangstelling in leer het, wat hom of haar dryf om nuwe uitdagings te omhels,” sê sy.
Claire McCartney, adviseur vir die CIPD, die professionele liggaam vir menslike hulpbronne en ontwikkeling in die VK, sê ten spyte van die idee dat ʼn persoon se tydperk in ʼn sekere werk spesifiek op daardie persoon betrekking het, voel sy daar is ʼn minimum tydperk wat belangrik is. Om vir net drie maande in een pos te bly voordat jy bedank, lyk nie goed nie, tensy persoonlike omstandighede dit noodsaak.
Sy voeg by dat die grootte van ʼn organisasie ook ʼn rol kan speel in hoe lank iemand in een werk bly. Kleiner maatskappye kan nie dieselfde omvattende loopbaanvooruitsigte as hulle groter eweknieë bied nie.
Solidariteit bied werkfasilitering waar jy kan soek na poste. Jy kan ook gratis ‘n profiel skep om werk te soek en aansoek te doen vir vakante poste; klik hier.