Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Hoe lyk die werkersmark in 2025?
Deur Delmei Delport
Suid-Afrika se arbeidsmark is tans ʼn vinnig veranderende mark waarin werksekerheid nie meer gewaarborg is nie.
Die arbeidsmark het nog nooit só vinnig verander soos nou nie. Ons bevind onsself in ʼn tyd waar werksekerheid van baie meer faktore as net jou “kwalifikasies” en “vorige ervaring” afhang. Ander faktore soos tegnologie en jou demografie beïnvloed ookdie manier waarop ons in die arbeidsmark funksioneer. Die werkloosheidsyfer bly hoog en werksoekers vind dit moeilik om hulle vaardighede na wense op te skerp sodat hulle aan die vereistes binne die werkplek kan voldoen. Werkgewers sukkel weer om kandidate te kry wat oor die nodige kwalifikasies en vaardighede beskik, terwyl werksoekers dikwels kla dat daar nie genoeg poste beskikbaar is nie.
Werkgewers sukkel om werknemers te vind wat oor die regte kombinasie van tegnologiese- én interpersoonlike vaardighede beskik. Moontlike voorspellings vir 2025 dui aan dat die behoefte vir hoë-vlak vaardighede in areas soos data-analise, digitale bemarking en sagteware-ontwikkeling steeds groei. Terselfdertyd bly die vraag na sagte vaardighede soos kommunikasie, probleemoplossing en emosionele intelligensie steeds belangrik aangesien tegnologie nooit hierdie interpersoonlike vaardighede sal kan vervang nie.
Hierdie tekort aan vaardigheid word vererger deur die gaping wat ontstaan tussen verskillende generasies. Ouer generasies beskik oor goeie interpersoonlike en kommunikasievaardighede, maar sukkel met tegnologie. Jonger generasies, veral Generasie Z, is tegnologies vaardig, maar kort soms die interpersoonlike ervaring en selfvertroue om in ʼn span te kan funksioneer en hulle gedagtes en idees effektief uit te druk in woorde. Hierdie verskille kan tot misverstande lei en kan die oorsprong van konflik wees.
Om die arbeidsmark aan te vul met talent wat oor al hierdie uiteenlopende vaardighede beskik, moet daar gefokus word op ʼn paar moontlike strategieë:
Omgekeerde mentorskap
Generasies moet bereid wees om leersaam te wees. Werknemers moet hulle personeel se ontwikkelingsareas identifiseer en ʼn veilige ruimte skep waar jonger en ouer werknemers vrymoedigheid het om hulp te vra, sodat hulle mekaar se sterkpunte kan aanvul.
Werkgewers moet opleidingsgeleenthede bied vir die verskillende generasies om hulle vaardighede op te skerp en te verbeter. Vir jonger werknemers kan kommunikasie-opleiding ʼn groot aanwins wees, terwyl ouer generasies opleiding in tegnologie mag nodig kry.
Digitale leerplatforms en kursusse
In ʼn vinnig veranderende arbeidsmark is dit belangrik om relevant en aanpasbaar te bly. Daar is deesdae talle aanlyn platforms wat gratis en bekostigbare kursusse aanbied om jou te help om nuwe tegniese en sagte vaardighede aan te leer. Solidariteit se Voortgesette Leer-aanbod help jou om jou volle potensiaal te bereik deur lewenslange leer, met ʼn verskeidenheid opleidingskursusse van hoë gehalte wat pasgemaak is vir jóú beroep – van Microsoft-kursusse en e-posetiket tot kantooretiket en konflikbestuur – die opsies is volop vir diegene wat wíl groei en verbeter in hul werk.
Opkomende tendense en moontlikhede wat in ag geneem moet word in die arbeidsmark van 2025
Toenemende konsultasie- en vryskutwerk:
Meer mense verkies om vryskutwerk of eerder projek-gebaseerde werk te doen, veral na die wêreldwye pandemie wat in 2020 plaasgevind het. Hierdie model laat werknemers toe om ʼn wyer verskeidenheid vaardighede te ontwikkel en aan verskeie projekte te werk, in hulle eie kapasiteit op hulle eie tempo, wat hulle aanpasbaar maak.
Mense verkies steeds afstandswerk:
Alhoewel die inperkings a.g.v. die wêreldwye pandemie is, het dit ʼn blywende verandering in die werkplek gelaat. Werkgewers en werknemers sal meer hibriede werksmodelle verkies, wat beteken dat werknemers meer tegnologies vaardig moet wees om produktief te wees in ʼn afgeleë omgewing.
Outomatisering en die integrasie van kunsmatige intelligensie (KI) neem toe:
Mense se sagte vaardighede lei daaronder. Mense maak staat op KI om veelvoudige take te verrig, wat nie noodwendig kreatiwiteit en vaardighede ontwikkel nie. Tegelykertyd sal dit nuwe werksgeleenthede skep vir diegene met vaardighede in KI, data-analise en sagteware-ontwikkeling.
Groter fokus op emosionele intelligensie en leierskap:
Die vermoë om ʼn span te inspireer, emosionele intelligensie te toon en goeie verhoudings te bou, sal steeds belangrik wees vir toekomstige leiers en werknemers. Hierdie taak raak al hoe moeiliker met tyd, omdat die gaping tussen generasies in werksplekke so uiteenlopend is en omdat daar ʼn toename is in hibriede / afstandswerk, wat beteken dat leiers nie meer persoonlike verhoudings kan bou met hulle personeel nie.
Aanbevelings vir Werksoekers:
Bly op hoogte van veranderinge:
Die arbeidsmark verander vinnig, en jy moet proaktief wees oor jou eie ontwikkeling. Volg aanlynkursusse, skerp jou sagtevaardighede op, en bou jou netwerk.
Wees aanpasbaar:
Die vermoë om vinnig aan te pas is krities in vandag se arbeidsmark. As jy bereid is om nuwe vaardighede aan te leer en gemaklik is met verandering, het jy ’n voorsprong.
Ontwikkel jou kommunikasievaardighede:
Selfs al is jy tegnologies vaardig, bly goeie interpersoonlike kommunikasie die sleutel tot loopbaanvordering. Dis dikwels nie wat jy kan doen nie, maar wie jy ken wat nuwe deure vir jou sal oopmaak.
Aanbevelings vir werkgewers:
Belê in opleiding:
Werknemers het hulp nodig om hulle vaardighede te ontwikkel. Skep interne opleidingsprogramme wat beide tegnologiese en sagte vaardighede bevorder.
Fokus op ʼn werkplek waar verskillende generasies kan saamwerk:
Werkplekke wat generasies en hulle vaardighede kombineer, sal baat vind omdat werknemers mekaar kan leer en kan werk na ʼn suksesvolle gemeenskaplike doel.
Stel duidelike verwagtinge en kommunikeer met jou personeel:
Werkgewers moet duidelike kommunikasiekanale oopmaak en gereeld terugvoer gee om seker te maak dat werknemers verstaan wat van hulle verwag word en watter vaardighede hulle nodig het.
Die toekoms van werk is opwindend, maar dit vereis aanpasbaarheid en die bereidwilligheid om nuwe vaardighede aan te leer. Vir werksoekers is die pad vorentoe duidelik: Bly aan die voorpunt van jou loopbaan, bly tegnologies vaardig, verbeter jou sagte vaardighede en wees aanpasbaar. Werkgewers moet terselfdertyd ʼn werkplek skep wat spanwerk, leer en diversiteit in vaardighede aanmoedig. Die arbeidsmark van 2025 gaan nie net oor watter kennis jy het nie, maar ook oor watter vaardighede jy beskik en hoe vinnig jy kan aanpas, leer en saamwerk.
Solidariteit stap hierdie pad saam met jou en is jou rigtingwyser in hierdie doolhof van werk. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en bly op hoogte van nuwe leergeleenthede, nuwe poste beskikbaar in jou bedryf en interessante werksverwante inligting wat jou in die werkplek kan bemagtig.
Die toekoms van werk is nou!