
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe moet ek ouer mense in die werkplek aanspreek?
Deur Maryna Eksteen
Die oorgang van kinderjare na volwassenheid bring baie uitdagings mee. Een daarvan is die verskuiwing wat plaasvind in die manier waarop ons met ouer mense kommunikeer. In die Afrikaanse kultuur is dit amper tradisie om mense wat tien jaar ouer is as jy as “Oom” of “Tannie” aan te spreek as ʼn teken van respek. Hierdie gebruik is diepgewortel in die Afrikaanse samelewing en is ʼn manier om eerbied te betoon aan mense wat ons as lewenswys en ervare beskou.
In die hedendaagse werkplek kom jong mense dikwels voor ʼn dilemma te staan wanneer daar van hulle verwag word om hul ouer kollegas bloot op hul voorname aan te spreek, wat soms oneerbiedig kan voel.
Die gewoonte om ouer mense as “Oom” of “Tannie” aan te spreek, word al van kleins af aangeleer en is diep verweef in ons opvoeding. Dit is deel van die breër sosiale raamwerk waarin respek vir ouer persone as ʼn kardinale waarde beskou word.
Wanneer jong mense egter die werkplek betree, verander die verwagtinge en dié aanspreekvorm kan soms ongemak veroorsaak en selfs onprofessioneel wees. Die werkplek is deesdae dikwels informeel, en daar word van werknemers verwag om mekaar op gelyke voet te hanteer, ongeag ouderdom. Dit beteken ook dat kollegas mekaar op hul voorname aanspreek. Die rede vir hierdie informeler benadering is dat werkplekke dikwels ʼn gelyke en samewerkende omgewing wil bevorder waarin hiërargieë tot die minimum beperk word.
Die kern van die dilemma met die aanspreekvorm lê daarin om ʼn balans te vind tussen tradisionele waardes en moderne verwagtinge. Aan die een kant is daar die begeerte om volgens jou kultuur respekvol op te tree, en aan die ander kant is daar die druk om by die informele dinamika van die werkplek aan te pas. Dit kan veral moeilik raak in gevalle waar die ouderdomsverskil groot is of waar die jonger persoon groot respek vir die ouer kollega het.
Die vraag ontstaan dan: Hoe betoon jong mense respek vir ouer kollegas en erken steeds die ouer persoon se ervaring en ouderdom in ʼn omgewing wat informeel is?
Solidariteit het by ʼn paar van sy werknemers gaan aanklop om te hoor wat hul opinie hieroor is. Dit is wat hulle hieroor sê:
Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese beroepsnetwerke sê: “In die werkplek tree ons professioneel op. Ons noem iemand op hulle naam, solank dit net met die nodige respek gedoen word. Ek dink nie “Oom” en “Tannie” is die aanvaarbare manier om iemand in die werkplek aan te spreek nie. Dit hang ook af wat jou verhouding met die betrokke persoon is, en soms sal mense self vir jou sê hoe hulle aangespreek wil word.”
Mandy Michelle Thackwray, bestuurder van Solidariteit se Werk-aanbod, sê: “Ek dink dit is baie belangrik dat die jong mens oplet hoe mense aan hulle voorgestel word. As iemand dus as Piet aan jou voorgestel word, dan noem jy die persoon Piet (op sy naam). Indien die persoon as “Meneer” of “Mevrou” aan jou voorgestel word, dan gebruik jy dié persoon se titel wat gebruik is toe julle aan mekaar voorgestel is wanneer jy die persoon aanspreek. Indien die persoon jou later vra om hom of haar op die naam te noem, dan doen jy dit. As hulle dit nie voorstel nie, dan hou jy aan om die persoon as “Meneer” of “Mevrou” aan te spreek.
ʼn Goeie wenk is om jou hand eerste uit te steek en jouself op jou voornaam voor te stel, en dan te kyk hoe die ander persoon hom- of haarself voorstel. Moet nooit ooit iemand in die werkplek “Oom” of “Tannie” noem nie (al is hulle so oud soos jou oupa en ouma) – tensy almal by die betrokke werkplek só na dié persoon verwys.
Alta van Niekerk, ʼn taalpraktisyn by Solidariteit, sê: “Ek het nie ʼn probleem as jonger kinders of skoolkinders of studente my “Tannie” noem nie, maar ek voel sodra jy die beroepswêreld betree (met ander woorde so vanaf 25, of as jy klaar studeer het) dan noem jy mense nie meer “Tannie” of “Oom” nie – verál nie in die werkplek nie. As dit ʼn baie formele werkplek is, noem hulle dan “Meneer” of “Mevrou”, maar in ʼn meer informele werkplek is voorname perfek. Want, op watter ouderdom trek jy nou die streep waar ʼn persoon ʼn tannie of ʼn oom genoem moet word? Is dit byvoorbeeld as die persoon 50 is? So, die een persoon is 48 en word op die voornaam genoem, maar haar buurvrou in die kantoor langsaan is 51 en word Tannie genoem? En watter ouderdom moet jy bereik wanneer jy dan ophou om iemand Tannie of Oom te noem? Is dit as jy 40 is of as jy 50 is?”
Ons moet onthou dat werkplekke baie meer informeel as voorheen is, maar ons moet mense steeds met respek aanspreek. Veral in Afrikaanse beroepsgemeenskappe is daar nog ʼn sekere ingesteldheid oor eerbied vir ouderdomme en titels, en ons moet dit respekteer. In meer formele werkomgewings sal jy nog hier en daar titels vind – en dan pas jy aan by die praktyk van die werkomgewing.
Die keuse van aanspreekvorm vereis ʼn fyn balans tussen die handhawing van respek en die aanpassing by nuwe omgewings. Met oop kommunikasie en ʼn bewustheid van sowel kulturele as professionele verwagtinge kan hierdie dilemma egter suksesvol bestuur word.
Terwyl jy as jong mens besig is om jou voete in die werkplek te vind of nog ontuis voel in die werkplek, en moet aanpas by meer informele aanspreekvorms vir ouer mense kan jy wel tuis raak by Solidariteit waar jy op hoogte kan bly van die jongste nuus en tendense in jou werk. Klik hier om sommer vandag nog jou gratis profiel te skep.