
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe om as ouer die kompas te wees, nie die bestuurder nie
Deur Liza Joubert
Kinders se verbeelding ken geen grense nie – hulle sien die wêreld in wolke en droom drome so groot soos die heelal. Vandag wil hulle ʼn vlieënier wees, môre ʼn kunstenaar en volgende week ʼn wildbewaarder. Maar namate hulle ouer word en die vrae oor vakkeuses, studierigtings en uiteindelike loopbane begin toeneem, is dit belangrik dat ouers saam met hul kinders hierdie pad stap – nie as afrigter wat die rigting aandui nie, maar as gids wat saam met hulle ontdek op hierdie reis.
Die wêreld van werk verander vinnig. Beroepe wat vandag gewild is, het tien jaar gelede nie bestaan nie. Dit is dus van kritieke belang dat ons kinders toegerus word om ingeligte, maar ook buigsame keuses te maak. ʼn Slim beginpunt? Doelgerigte gesprekke en blootstelling aan verskillende moontlikhede, gepaard met praktiese hulpmiddels soos belangstellingstoetse en loopbaanvoorligting.
Begin by belangstelling
Elke kind het unieke belangstellings en sterkpunte. Sommige floreer in logiese denke en probleemoplossing, ander is kreatief en sosiaal. Die belangstellingsbepaler wat deur Solidariteit aan lede beskikbaar is, is ʼn uitstekende hulpmiddel om saam met jou kind te voltooi. Dit is nie net rigtinggewend nie, maar spoor gesprekke aan oor beroepe waaraan julle dalk nog nie eers gedink het nie.
Vra die regte vrae
- • Watter vakke op skool geniet jy?
- • Wat sou jy doen as jy nie vir geld hoef te werk nie?
- • Watter take maak jou opgewonde – of gee vir jou energie?
Hierdie vrae is ʼn goeie manier om van ʼn oppervlakkige “Ek wil iets met mense doen” na ʼn meer gefokusde idee te beweeg – soos arbeidsterapie, onderwys of maatskaplike werk.
Maak vakkeuses strategies
Sodra hy of sy ʼn idee het van moontlike rigtings, kyk of jou kind se vakke daarby aansluit. Wiskunde en Wetenskap kan byvoorbeeld deure oopmaak vir ingenieurswese, terwyl tale en geskiedenis nuttig is vir kommunikasie- of regstudies. Die belang is nie altyd net prestasie nie, maar eerder blootstelling en voorbereiding.
Skep blootstelling
Laat jou kind met mense gesels wat in verskillende sektore en afdelings werk. Gaan woon opedae by opleidingsinstansies by, kyk dokumentêre programme of gebruik platforms soos Solidariteit se Skoliere-aanbod om meer te leer. Selfs vrywillige werk of deelname aan leierskapsgeleenthede by die skool dra by tot selfkennis en loopbaanoriëntering.
So ʼn goeie deurdagte plan help jou kind om te voel hul is in beheer, het opsies om te oorweeg, en verminder die druk om op die laaste nippertjie keuses in matriek te maak.
Jy hoef nie al die antwoorde vir jou kind te hê nie, jy moet net bereid wees om saam met hulle te soek na die beste pad wat hulle self kan stap met die wete dat jy daar is om hulle te help wanneer dinge moeilik raak. Slim keuses begin by bewustheid, gesprekke en toegang tot die regte hulpmiddels.
Solidariteit se Skoliere-aanbod is jou kind se wegspringblokke vir die lewe en bestaan uit talle gratis hulpbronne en video’s wat vir skoliere bemagtig om die werkplek met selfvertroue aan te pak! Klik hier en skep jou kind se gratis profiel vandag!