
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe weet ek die werk waarvoor ek aansoek doen is wettig?
Deur Liza Joubert
As jy op soek is na ʼn nuwe werksgeleentheid is een van die eerste vrae wat by jou opkom: “Is hierdie maatskappy wel ‘legit,’ of is dit te goed om waar te wees?” Dié bekommernis is verstaanbaar, veral in ʼn tyd waarin werksgeleenthede wat op die internet geplaas word dikwels verwarrend of selfs misleidend kan wees.
Wat staan jou dus te doen as jy daaroor wonder? Hier volg ʼn paar wenke wat jy kan volg om die egtheid van ʼn werkgewer te bepaal en om jouself teen gevare te beskerm.
1. Ondersoek die maatskappy
Voordat jy aansoek doen om ʼn posisie, is dit belangrik om die potensiële werkgewer te ondersoek. Besoek die organisasie of maatskappy se amptelike webwerf en kyk na inligting soos die organisasie se geskiedenis, missie en die dienste of produkte wat hulle bied. Wees op die uitkyk vir enige gevaarligte soos die afwesigheid van kontakbesonderhede of ʼn vaagheid oor die bedryf.
2. Gebruik betroubare werkplatforms
Werkplatforms soos Indeed en LinkedIn kan nuttige hulpbronne vir werksoekers wees. Hierdie platforms het meestal filters en daar is resensies wat jou kan help om betroubare geleenthede te identifiseer. Alhoewel die platforms wel ʼn beginpunt bied met ʼn mate van gehaltekontrole wat ingebou is, is dit steeds belangrik om die posisies wat op hierdie platforms aangebied word, nader te ondersoek.
Solidariteit het ʼn aanlyn werksgemeenskap geskep. Hier bring Solidariteit werkgewers en aansoekers by mekaar uit en dit is ʼn geloofwaardige werkfasiliteringsgeleentheid in Afrikaans vir die Afrikaanse gemeenskap. Besoek www.solidariteit.co.za en klik op “Werk”. Hier sal jy die opsies kry om ʼn werk of werkgewer te soek, ʼn pos te laai op gestoorde poste te besigtig. As jy nog nie ʼn profiel op Solidariteit geskep het nie, gaan doen dit nou en kry toegang tot al die voordele wat Solidariteit aan sy lede bied.
3. Wees op die uitkyk vir tekens van bedrog
As jy ʼn werksgeleentheid opspoor wat jou aandag trek, is dit ʼn goeie idee om sekere tekens van bedrog in ag te neem. Hier volg ʼn paar tekens wat die gevaarligte behoort te laat flikker:
Onrealistiese aanbiedinge: Wees versigtig vir werksgeleenthede wat té goed klink om waar te wees. Dit sluit in besonder hoë salarisse vir redelike basiese werk.
Gebrekkige inligting: Die afwesigheid van duidelike kontakbesonderhede, ʼn fisieke adres, of ʼn amptelike webwerf kan op ʼn bedrieglike werkgewer dui.
Ongevraagde kontak: Wees versigtig vir e-posse of boodskappe wat jou onverwags bereik en jou aanmoedig om vinnig aansoek te doen vir ʼn pos sonder om ʼn behoorlike proses te deurloop.
As jy besig is om ʼn nuwe werksgeleentheid na te vors, is dit belangrik om waaksaam te wees en te verseker dat die potensiële werkgewer waarin jy belangstel, eg is. Deur jou huiswerk te doen en die stappe wat hierbo uiteengesit is, te volg, kan jy jouself teen moontlike bedrog beskerm en ʼn betroubare werkservaring verseker.