loading
avatar
Artikels
1 maand gelede
hoekom-gaan-julle-vsa-toe-los-sa-se-probleme-in-sa-op-vra-en-se-hulle-graag

Foto Krediet: Solidariteit

‘Hoekom gaan julle VSA toe? Los SA se probleme ín SA op,’ vra en sê hulle graag

Pieter Jordaan

“Die vraag wat ek het, is of dit nie beter gaan wees as ons hier in Suid-Afrika saam na ons eie unieke oplossings (as in die VSA) gaan soek nie?”

ʼn Eenvoudige antwoord op hierdie eenvoudige vraag van ds. Rudi Swanepoel in sy ope brief op Netwerk24 aan Solidariteit se hoof van openbare skakeling, Jaco Kleynhans, sou bloot dit kon wees:

“Solidariteit het dit al herhaaldelik probeer doen.”

Vir sommiges is dit nodig om dan ook te verduidelik hoekom Solidariteit juis wéér VSA toe is aangesien die regering van president Cyril Ramaphosa, Solidariteit se toenadering keer op keer blatant ignoreer en moedswillig verwerp.

Trouens, jy kan jou niks meer onverantwoordelik indink as om noodsaaklike internasionale gesprekvoering op hierdie tydstip van die geveg slegs aan ons huidige regeringslui oor te laat nie.

Suid-Afrika het nie tans ʼn ambassadeur in die VSA nie. Suid-Afrika verkeer ook in ʼn krisis met groot afmetings wat ernstig verdiep het met die instel van ʼn 30%-straftarief op Amerika se invoere van hier af – iets wat ons werkers oor bedrywe heen raak. Dit sluit Solidariteit-lede in.

In ʼn kortgeknipte debat tussen Kleynhans en ds. Swanepoel op RSG (luister gerus hier na die volledige debat) reageer Kleynhans op kritiek dat Solidariteit met sy skakeling in die VSA net in eiebelang optree, deur te verduidelik hoe die besoek in werklikheid met alle Suid-Afrikaners in gedagte gedoen is.

“Dit is ʼn wanpersepsie wat soms geskep word,” sê Kleynhans. “Die werklikheid is dat gewone Suid-Afrikaners elke dag met ʼn klomp uitdagings saamleef. Dit sluit Afrikaners in, en dan ʼn verskeidenheid mense in die land wat saam in ondernemings oplossings moet vind.

“Dit sluit gemeenskappe in wat geraak word deur misdaad, of in dorpies woon waar daar nie meer water is nie, waar Solidariteit en AfriForum werk om watersuiwering te herstel.

“Ek dink die belangrike verskil is miskien hoe Suid-Afrika gesien word. Ek dink ons as Solidariteit sien Suid-Afrika as ʼn gemeenskap van gemeenskappe en dat daar ruimte moet wees binne daardie denke. En dis ʼn algemeen internasionaal aanvaarde praktyk dat daar in lande met minderhede ruimte vir minderhede gelaat moet word om sekere strukture op te rig.”

Die strukture wat Solidariteit oprig verwys na instellings wat Afrikaanse kultuurruimtes skep waar gemeenskappe kan leef, werk en leer, veral aangesien die bestaan van sulke ruimtes in Suid-Afrika bedreig word.

Algemene verval in Suid-Afrika noodsaak innoverende denke soos dié, en strek selfs wyer as net dienslewering, veiligheid en opleiding. Die ANC-geleide regering is nie opgewasse om hulle plig teenoor die belastingbetaler na te kom nie.

En dan het die regering se vermoëns om ʼn diplomatieke verhouding met die wêreld se grootste ekonomie te bestuur ook in duie gestort. Daarom die toetrede, in krisistyd, van ʼn gemeenskapsleier soos Solidariteit.

Solidariteit doen dit vir sy lede wat veral as Afrikaners in Suid-Afrika woon en werk, en wat hulle vertroue in Solidariteit plaas om in te tree wanneer en waar die regering hulle deur onbevoegdheid of moedswilligheid te na kom.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel